My Dopperdagboek

15 Augustus 2017

Advertisements

15 Augustus 1945 | Ds. F.P.J. Snyman oorlede

Ds. F.P.J. Snyman.

Die Gereformeerde Kerk het eers in 1896 tot Johannesburg toegetree, 10 jaar nadat die stad ontstaan het. Ná die Eerste Wêreldoorlog het die westelike voorstede van die Goudstad sterk wyke geword. Die gevolg was dat die Algemene Vergadering van Transvaal toestemming verleen het tot die afstigting van Johannesburg-Oos (Jeppestown) en -Noord (Melville) op 1 Maart 1924.

Hierdie twee gemeentes het in kombinasie gegaan met ds. JV Coetzee as hul predikant, terwyl ds. Martinus Postma predikant gebly het van die gemeente Johannesburg (Fordsburg). Ná die dood van ds. Postma in 1926, het ds. W.J. de Klerk vir die tweede keer predikant van Johannesburg geword.

Aan die begin van 1925 het Noord en Oos die kombinasie verbreek en selfstandig oorgegaan tot beroep – Oos in kombinasie met Bethal wat ds. T.T. Spoelstra beroep en Noord wat ds. F.P.J. Snyman van Molteno beroep. Byna 20 jaar lank het ds. Snyman Noord bearbei tot met sy dood op 15 Augustus 1945.

Aanvanklik is ’n kerksaaltjie in Tweedelaan, Melville, as Johannesburg-Noord se kerkgebou gebruik. Die erf is vir dié doel bekom van Lourens Geldenhuys, Volksraadslid en bekende weldoener van die Afrikaanse inwoners van Johannesburg.

Die kerksaal se hoeksteen is op 8 Desember 1917 gelê met die woorde van Matt. 16:18 daarop: “De poorten der hel zullen haar (in die Statebybel ‘dezelve’) niet overweldigen.” Die saaltjie is in April 1918 in gebruik geneem met ’n openingsrede deur ds. Dirk Postma, ’n kleinseun van die stigter van die Gereformeerde Kerk, ook Dirk Postma, en indertyd leraar van die Gereformeerde kerk Burgersdorp, nadat hy van 1904 tot 1908 leraar was van die Witwatersrand se oudste Gereformeerde kerk, Krugersdorp, maar ook die lidmate van Johannesburg bearbei het.

Met die bou van Johannesburg-Noord se nuwe kerkgebou in Eerstelaan, is die hoeksteen van die saaltjie verwyder en ingemessel in die noordelike muur van die nuwe gebou.

Die imposante kerkgebou in Eerste Laan is ontwerp deur die Gereformeerde argitek Pieter Dykstra. Die bouaannemer was D.J. Venter, te oordeel na sy van ook ’n Dopper. Die lidmate was self grootliks vir die bouwerk verantwoordelik. Ds. JV Coetzee het die hoeksteen op 18 Mei 1935 gelê waarop die teks: “Die Here het ons tot hiertoe gehelp,” (1 Samuel 7:12) aangebring is. Op Saterdag 31 Augustus 1935 is die gebou in gebruik geneem. ⊗


Die Gereformeerde kerk Barkly-Oos het in Julie of Augustus 1871 van Dordrecht afgestig. Op 15 November 1884 is die hoeksteen van die nuwe kerk gelê, waarna dit op 15 Augustus 1895 in gebruik geneem is. Die koste was sowat £1 500. Dit is opgerig nadat die noodkerk verkoop is.


Die Gereformeerde kerk Heilbron nadat dit vergroot is.

15 Augustus 1987 | GK Heilbron neem vergrote kerkgebou in gebruik

Die Gereformeerde kerk Heilbron het op 1 April 1964 met 65 belydende en 55 dooplidmate van die Gereformeerde kerk Frankfort afgestig, sonder ’n eie kerkgebou. Aan die begin het die nuwe gemeente vir eredienste in die hoërskoolsaal en in die Hervormde kerkgebou bymekaargekom. (Die Hervormde kerk Heilbron is reeds op 23 September 1911 gestig.)

Die Gereformeerde kerkraad het op 2 Februarie 1967 besluit om die Anglikaanse kerkgebou op Heilbron teen ’n bedrag van R2 100 aan te koop. Dié historiese gebou is reeds in 1896, nog voor die Tweede Vryheidsoorlog, opgerig. Dit het lank leeggestaan; daarom het die nuwe eienaar dit opgeknap en gerestoureer.

Namate die gemeente gegroei het, het die kerkgebou te klein geword sodat planne in 1985 goedgekeur is vir die vergroting en aanbouing van ’n nuwe vleuel, kombuis en moederskamer. Die bouwerk het in Januarie 1987 begin en op 15 en 16 Augustus is die vergrote gebou feestelik in gebruik geneem.


Die Gereformeerde kerk op Beestekraal.

15 Augustus 1976 | GK Beestekraal neem vergote kerk in gebruik geneem

Die Gereformeerde kerk Beestekraal was in Klassis Rustenburg. In 2001, die jaar voor die gemeente deel van GK Krokodilrivier geword het, was hier 136 belydende en 43 dooplidmate, die vierde kleinste van die 14 gemeentes wat destyds dié Klassis gevorm het.

Die boukommissie van Krokodilrivier het op 17 Mei 1947 opdrag ontvang om ’n saal vir Beestekraal, padlangs 25 km noordoos van Rustenburg, te beplan en die nodige perseel vir dié doel te bekom. Ockert en Roelf van Wyk, lidmate, het toe 3 morg grond op Beestekraal aan die kerk geskenk. Op 14 Augustus het die kommissie berig dat die tender van F. du Plessis, eweneens ’n Gereformeerde lidmaat, vir die bou van die saal aanvaar is. Die boukoste het eindelik £885 beloop en die saal is plegtig in gebruik geneem op 30 April 1949.

Op 11 September 1956 is ’n kommissie aangewys om die wenslikheid van die afstigting van Beestekraal en die wyke noord daarvan te ondersoek. Op 2 Mei 1956 is berig die Klassis het dit goedgekeur. Op 7 September 1957 het die afstigting gevolglik plaasgevind en in 1958 is die saal vergroot en opgeknap. In die naweek van 14 en 15 Augustus 1976 is die vergrote kerkgebou in ontvangs geneem. Die bouaannemer was ’n Gereformeerde lidmaat, Frans Briel.

In 2002 het Beestekraal se kerkraad besluit hulle sien nie meer kans om as selfstandige gemeente voort te bestaan nie; daarom het hulle Krokodilrivier se kerkraad genader met die oog daarop om weer deel te word van die moedergemeente. Solank Krokodilrivier se lidmaattal dit toegelaat het, het die gemeente twee predikante gehad wat op Soutpansdrift, Krokodilrivier se kerkplek, en Beestekraal gepreek het. Tans is daar net een leraar, maar albei kerke word nog gebruik met ’n erediens op Soutpansdrift om 10:00 en om 08:00 op Beestekraal. ⊗


15 Augustus 1989 | FW de Klerk ingehuldig as staatspresident

Oudpres. F.W. de Klerk in 2012. (FOTO: Wikipedia)

Frederik Willem de Klerk is op 18 Maart 1936 in Johannesburg gebore. Hy was staatspresident van Suid-Afrika van 1989 tot 1994, en van Februarie 1989 tot September 1997 leier van die Nasionale Party, wat later die Nuwe Nasionale Party geword het.

De Klerk se voorgeslagte aan moeders- sowel as vaderskant het aan die politiek deelgeneem. Hendrina Cornelia (Corrie) Coetzer (1904–2001), ’n boorling van Reddersburg, was een van vyf kinders uit die provinsiale raadslid vir Edenburg Frederik Willem Coetzer (1860–1938) se tweede huwelik, met Anna Cecilia Fouché (omstreeks 1883–1931). F.W. Coetzer het altesaam vyf kinders uit sy drie huwelike gehad. Die latere staatspresident is na hom genoem.

Corrie se ander seun, Willem Johannes (Wimpie), is genoem na haar skoonvader, die Gereformeerde predikant en registrateur van die PUK vir CHO ds. W.J. de Klerk, wat nes F.W. Coetzer, min. Jan de Klerk, dr. Wimpie de Klerk en oudpres. FW de Klerk in die politiek belanggestel het. Corrie se skoonsuster en FW se tante Susan Strijdom was met Suid-Afrika se vyfde premier, adv. Hans Strijdom, getroud en dit was hy wat Corrie se man in 1958 as senator en later as minister in sy kabinet aangestel het.

FW de Klerk se vader was langer as ’n dekade kabinetsminister: arbeid en openbare werke (1954–1958), arbeid en mynwese (1958–1961), binnelandse sake, arbeid en immigrasie (1961), binnelandse sake en onderwys, kuns en wetenskap (1961–1966), onderwys, kuns en wetenskap en inligting (1966–1967), en nasionale opvoeding (1967–1968). Voor sy uittrede is hy vereer met die Dekorasie vir Voortreflike Diens.

In Junie 1969 is hy benoem tot president van die senaat in die plek van wyle sen. Tom Naudé. Dit het hom gebring tot die tweede hoogste amp in die land, wat paslik is vir iemand wat in 1967 beskou is as die gunsteling om staatspresident te word, maar op 19 Januarie 1967 oor die hoof gesien is ten gunste van dr. T.E. Dönges. Die volgende jaar, ná die afsterwe van dr. Dönges, is hy genader om hom weer as kandidaat vir die staatspresidentskap beskikbaar te stel, maar hierdie keer het hy vir J.J. Fouché teruggestaan.

Ds. W.J. de Klerk, FW en Wimpie de Klerk se oupa, se tweede huwelik was met Aletta Johanna van Rooy (1883–1919). Sy was die moeder van al ds. De Klerk se kinders, behalwe die oudste en die jongste. Ook Aletta van Rooy het uit ’n politieke huis gekom, want haar vader was sen. J. C. (Jan) van Rooy (1859–1944). ⊗


Die gebou links van die kerk is in die 1950’s as kerksaal ingerig nadat die Hetta Krugersaal regs van die kerk gesloop is om plek te maak vir ’n kantoorgebou.

15 Augustus 1936 | GK Middelburg, Kaap, kry ’n kerksaal

In 1936 het ’n erflating van sr. Hetta Kruger dit vir die kerkraad van Middelburg, Kaap, moontlik gemaak om te besluit om aan die boukommissie op te dra om tenders vir die bou van ’n saal te vra.

Op hierdie dag is ’n tender aanvaar en is ’n saal opgerig aan die suidekant van die kerkgebou. In November 1936 is aan die kerkraad meegedeel enige lidmate het beswaar daarteen dat die saal die naam “Hetta Krugersaal” dra, maar in die notule word nie beskryf wat die besware behels het nie).

Die kerkraad het nietemin besluit om die naam so te behou. Sonder motivering van ‘n nuwe besluit (in elk geval word die redes nie in die notule gevind nie) is tog op 12 Februarie 1937 besluit om die naam voor die saal te verwyder. Betekenisvol staan by hierdie jongste besluit genotuleer: “Tien stemme word hierteen uitgebring.”

Op dieselfde perseel waar in 1936 die saal gebou is, word in die laat 1950’s ‘n moderne kantoorgebou opgerig. Vir hierdie doel is die saal gesloop. Omdat die gebruik van ‘n saal deur die gemeente waardeer is, is toe in die geboue aan die noordekant van die kerkgebou ’n saal met kombuis ingerig. In dieselfde gebou is ook ’n doelmatige kerkraadskamer en katkisasielokale ingerig.

Die kerkraad het dit ook goedgekeur dat met die oog op die eeufees nog veranderings aan hierdie gebou aangebring word, waardeur onder meer ’n moederskamer ingerig sou word en ook die oostekant van die gebou heeltemal verander en verfraai kon word. ⊗


Die stapel klippe ter nagedagtenis aan kmdt. Calman Lion Cachet op die plek waar hy gesterf het op die plaas Ruiterskraal, distrik Steynsburg. (FOTO: Gustav Opperman)

15 Augustus 1967 | Gedenkteken vir kmdt. Calman Lion Cachet onthul

Die Studentemonument (Gloria Victis) is op Potchefstroom opgerig ter nagedagtenis aan die studente en oudstudente van die Teologiese Skool, toe nog op Burgersdorp, wat in die Tweede Vryheidsoorlog gesneuwel het. Hier het dit omstreeks 1915 nog voor die eerste gebou van die Teologiese Skool gestaan.

Kmdt. Calman Efraim Lion Cachet (Philipstown, Kaapkolonie, 24 Mei 1878 – plaas Ruiterskraal, distrik Steynsburg, Kaapkolonie, 13 Augustus 1901) was ’n belowende teologiese student van sy vader, prof. Jan Lion Cachet, aan die Teologiese Skool Burgersdorp ten tyde van sy dood in die ouderdom 23 jaar tydens die Tweede Vryheidsoorlog.

Tydens die Simboliese Ossewatrek van 1938 is die stapel klippe hernu wat die burgers gepak het op die plek waar hy op die plaas Ruiterskraal in die Steynsburgse distrik gesneuwel het. Op hierdie dag in is ’n gedenkteken van klip en ’n gedenkplaat op dieselfde plek opgerig. Die monument is onthul deur Lettie van Rooy, die enigste oorlewende suster van kmdt. Lion Cachet. Sy was die eggenote van prof. Joon van Rooy, in lewe rektor en kanselier van die Potchefstroomse Universiteit.

Nadat die Teologiese Skool begin 1905 na Potchefstroom verskuif het, is die Studentemonument (Gloria Victis) daar opgerig ter nagedagtenis aan die studente en oudstudente van die Teologiese Skool wat in die oorlog gesneuwel het. Buiten Lion Cachet was dit Karel David Coetsee, Jacob Philippus Maré (sy halfsuster was Sarie Maré oor wie die liedjie Sarie Marais handel), Johannes Abraham Venter en Jan Christoffel Kruger, ook almal met die rang kommandant. By die onthulling daarvan het prof. Ferdinand Postma gesê dit sal ’n talisman wees wat vloek of seën sal uitspreek as die volk dié gestorwenes ooit vergeet. ⊗


Mev. Maria du Plessis, gebore Smit op 27 Februarie 1854, getroud op 12 Junie 1871 en oorlede op 10 Julie 1910. Sy was Colesberg se predikantsvrou van 1880 tot 1896.

15 Augustus 1884 | Susters tydens ds. Du Plessis se tyd in GK Colesberg

Van die susters van die gemeente as ‘n groep lidmate is nie veel in die notule opgeteken tydens ds. L.J. du Plessis se dienstyd van 1880 tot 1896 nie, maar daar kom wel ’n paar gevalle voor. Die eerste was op 12 Oktober 1883 toe die voorsitter, ds. Du Plessis, aan die hand doen dat die susters van die gemeente gevra moes word om aandag te skenk aan nuwe venstergordyne vir die kerkgebou.

Die kerkraad het dit gunstig oorweeg en aan ds. Du Plessis opgedra om met ’n paar susters daaroor te praat en die saak aan hulle op te dra. Die susters het blykbaar nie op hulle laat wag nie, want op die vergadering van hierdie dag in 1884 is gerapporteer dat die nuwe gordyne opgehang is en dat die susters vra wat hulle met die oues en die stuk van die nuwe materiaal wat oorgeskiet het, moes doen. Hierop het die kerkraad besluit om die susters wat met die gordyne gewerk het, te vra om die nuwe stuk tesame met die oues te probeer verkoop ten voordele van die kerk.

Die ander geval het in 1887 voorgekom toe die kommissie rapporteer dat dit wenslik is om ’n plankvloer in die susterskonsistorie te sit, en toe het die kerkraad besluit om die susters te vra om vir hierdie saak te kollekteer en verder besluit om uit elke wyk twee susters as kollektante aan te wys. In hierdie geval het die susters nog vinniger opgetree, want reeds op die vergadering van 19 November is gerapporteer dat die saak klaar was en dat die ingesamelde gelde aan die kommissie oorhandig kon word. ⊗


15 Augustus 1938 | GK Koster se kerksaal word ’n kerkgebou

Die Gereformeerde kerk Koster soos hy gelyk het tussen 1938 (toe die ou kerksaal verbou is volgens die plan van die argitek Pieter Dykstra) en 1958. Die huidige voorkoms kan regs bo gesien word.

Selfs nog voor GK Koster in 1914 van Rustenburg afgestig het (vyf jaar voor die NG gemeente Koster), is ’n kerksaal in 1912 vir die Gereformeerdes op Koster opgerig. Die saal was kort voor lank te klein vir die toenemende getal lidmate; daarom het die kerkraad op 30 Maart 1928 besluit om dit te vergroot.

Weens die wêreldwye depressie moes die bouwerk vir ’n paar jaar uitgestel word sodat die verbouing eers op hierdie dag kon begin. Die noordelike en suidelike mure is uitgebou tot gewels. Met behulp van die argitek Pieter Dykstra, wie se kerkontwerpe almal vir die Gereformeerde kerkverband was, kry dié gebou toe ná langer as ’n kwarteeu die eerste keer die voorkoms van ’n kerk. Dit was die ontstaan van die sogenaamde wit kerk met sy kappietoring.

Die gemeente het dié gebou 20 jaar lank met groot seën gebruik, maar in 1958 het die pleisterwerk en messelkalk onnatuurlike tekens van verweer begin toon. Die mure was deurweek en dringende optrede was nodig om die kerk van algehele verval te red.

Onder ene H. van der Bijl as tekenaar en S. Woudstra as boumeester se leiding is ’n siersteenlaag om die bestaande mure gebou. Swak gedeeltes van die bestaande mure is verwyder en deur bakstene vervang. So het die kerkgebou ontstaan waarvan die verbouings R18 300 gekos het en wat die gevolg was van twee keer se veranderings aan die kerksaal van 1912. Tydens die laaste verbouings het die vrouelidmate ’n pyporrel van R6 000 kontant laat installeer. ⊗


Prof. H.J.J. (Hennie) Bingle is op 15 Augustus 1910 op Colesberg gebore en het aan die Hoërskool Paul Kruger op Steynsburg gematrikuleer. Hy is in 1964 benoem tot rektor van die PU vir CHO. Hy dien sy eerste termyn van 1 Januarie 1964 tot 31 Desember 1972 en sy tweede van 1 Januarie 1973 tot 30 April 1977.

Advertisements

Advertisements