6 Desember

Prof_J_Chris_Coetzee_en_Aletta_van_Rooy_op_hul_troudag.jpg

Prof. J.C. Coetzee en sy vrou, Lettie, op hul troudag, 27 Maart 1927.

6 Desember 1989 | Prof. J. Chris Coetzee in Karmel, Pretoria, oorlede

“Ons kan hom as pionier en grondlegger van die opvoedkunde in die Afrikaanse taal beskou,” haal prof. G.C.P. van der Vyver ’n naamlose skrywer in verband met prof. J. Chris Coetzee aan.

Johannes Christiaan Coetzee is gebore op die plaas Dassiepoort, Venterstad, op 8 Maart 1893. Twee van sy ooms aan moederskant was Dopperpedikante, di. G.H.J. Kruger en J.H. Kruger.

Sy kinderjare was onbesorg en gelukkig. Volgens sy eie oorvertelling is hy “opgevoed in die vrese van die Here en touwys gemaak in wêreldlike kennis deur” sy “moeder veral, wat besonder skrander was”.

Coetzee is in 1902 vir die eerste keer skool toe ná die Driejarige Oorlog, maar na ’n privaat rebelleskool onder ene G. Knothe.

Ná sowat ’n jaar het mnr. Knothe die dorp verlaat (na alle waarskynlikheid Venterstad), en is Coetzee noodgedwonge na die goewermentskool, waar die kinders van Kaapse rebelle aanvanklik verag en/of afgeknou is.

Einde 1908 het hy die “School Higher” afgelê en begin 1909 saam met meester G.G. Rossouw na Worcester in die Boland gegaan. Daar het hy einde 1909 onder Paul Roos, die oud-Springbokkaptein, gematrikuleer.

Nadat hy hom aan die PUK bekwaam het, het hy ’n tyd lank onderwys gegee, eers op Steynsburg en toe op Potchefstroom.

Begin 1921 is Coetzee aangestel as dosent in wiskunde, natuurkennis en skoolorganisasie en –tug aan die Potchefstroomse Onderwyskollege POK, waarvan hy waarnemende hoof was van Oktober tot Desember 1924.

Op 24 Februarie 1924 het hy na die PUK teruggekeer toe hy aangestel word as professor in opvoedkunde. Van 1934 tot 1951 was hy dekaan van die fakulteit opvoedkunde en van 1951 tot 1953 ondervoorsitter van die senaat.

In 1953 het hy prof. J.C. van Rooy as rektor van die PU vir CHO opgevolg. Nes prof. Coetzee se vrou, Aletta, was prof. Van Rooy ’n kleinkind van die Van Rooy-stamouers.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het prof. Coetzee in 1957 vereer met die Stalsprys vir Taal en Geesteswetenskappe (Afdeling Opvoedkunde).

Eredoktorsgrade is aan hom toegeken deur die Universiteite van Potchefstroom vir CHO en Pretoria.

Dr. Van der Vyver skryf hy het deur middel van sy geskrewe en gesproke woord ’n stempel afgedruk op die onderwys in Suid-Afrika. “Wat ’n seën dat hierdie diep gelowige onderwysman en kultuurleier van formaat sy kragte van hart en verstand aan die PU vir CHO kon gee. Die tyd van sy rektorskap word dan ook gekenmerk deur fenomenale groei en uitbreiding.”

Met die jare het meer as 600 onderwysers onder hom afstudeer en is sowat 100 meestersverhandelings en 60 doktorsdissertasies onder sy leiding saamgestel. ⊗


Gereformeerde_kerk_Vaalwater_GGSA.jpg

Die Gereformeerde kerk Vaalwater.

6 Desember 1958 | Die Gereformeerde kerk Vaalwater gestig

Die dorpie Vaalwater lê aan die oewer van die Mogolrivier, noordwes van Modimolle. Op hierdie dag het die gemeente van Waterberg afgestig. Net ’n jaar later het die jong gemeente besluit om ’n kerk te bou.

In Maart 1960 het die boukommissie die terrein besoek en ds. J.T.C. Snyman die eerste pen ingeslaan. Die gemeente sou self onder leiding van oudl. J. Bekker bou.

Daar is beplan vir ’n gebou met sitplek vir 160 kerkgangers. Dit is binne vier maande voltooi en op 9 Julie 1960 in gebruik geneem as die eerste kerkgebou op Vaalwater.

Die losstaande toring is iets besonders: Bo-op ’n A-vormige spitsdakkie is nie die gebruiklike weerhaan nie, maar ’n troffel, ’n simbool van bouwerk. ⊗


Gereformeerde kerk Totiusdal.jpg

Die Gereformeerde kerk Totiusdal. (FOTO: Morné van Rooyen)

6 Desember 1959 | Totiusdal se kerkgebou in gebruik geneem

Totiusdal het op 20 Oktober 1957 van die destydse Eloffsdal-Wonderboom-Suid (later Pretoria-Wonderboom-Suid genoem) afgestig.

So vinnig was die vermeerdering van Gereformeerdes in dié omgewing destyds dat die Gereformeerde kerk Oos-Moot op 30 Julie 1966 kon afstig uit die westelike wyke van Totiusdal en die oostelike wyke van Eloffsdal-Wonderboom-Suid.

Aanvanklik het Totiusdal eredienste gehou in die Hoërskool Oos-Moot se saal. ’n Eie kerkgebou is beplan op grond wat behoort het aan ds. S.J. du Toit, die vader van Totius. Daarom is besluit om die gemeente Totiusdal te noem.

In 1958 besluit die gemeente om ’n kerkgebou op te rig met Johan de Ridder, ’n lidmaat van Pretoria-Sunnyside, as argitek.

Hulle het gevra dat die gebou ’n gevoel van ruimte gee; ’n mens moes kon wegkyk die hoogtes in . . . (Sy plan het egter die teenoorgestelde uitwerking aangesien die laagste punt van die gebou aan die preekstoel se kant is.)

Die hoeksteen is op 13 Junie in die eeufeesjaar gelê en die gebou is op hierdie dag in gebruik geneem. Dit het ’n leiklipdak wat steil na agter boontoe styg (die teenoorgestelde kant van die preekstoel), so tipies van De Ridder se kappiekerke of tentstyl.

By die ingebruikneming van die kerk het mev. Marie du Toit, ’n dogter van ds. Dirk Postma en eggenote van Totius, ’n seringboom geplant as simbool van die stigting van die Gereformeerde Kerk, ’n eeu vantevore onder ’n seringboom op Rustenburg, deur haar vader. Nie lank gelede nie is dié boom per ongeluk uitgekap. ⊗


Steynsburg inwoners.jpg

Gereformeerde inwoners van Steynsburg uit die 19de eeu.

6 Desember 1872 | Vooraand van die stigting van die Gereformeerde kerk Steynsburg

In die omgewing van Steynsburg het ‘n aantal lidmate van Middelburg en Burgersdorp gewoon. Die afstand na hul tuisdorp was groot en met die oog op getroue kerklike meelewing het die behoefte aan ‘n eie tuisdorp en kerkplek ál sterker geword.

Oudl. A.P.J. Steyn van Middelburg, ‘n broer van pres. Paul Kruger se moeder, was die siel van die onderneming. Hy was ongetwyfeld ‘n man van besonderse bekwaamhede en groot invloed. Ds. Koos van Rooy beskryf hom in sy herinneringe as “‘n eerbiedwaardige gestalte, sy gelaat en hele liggaamsbou wys dat hy ‘n oom is van pres. Kruger.”

’n Kommissie is benoem en het die plaas Grootvlei aangekoop van twee eienaars: Die dorpsgrond ongeveer suid van die spoorlyn van Andries van der Walt; die deel hoofsaaklik noord van die treinspoor van L.P. Vorster, grootvader van ds. Louis Vorster.

Oudl. Steyn laat nie gras onder sy voete groei nie. Op 30 Augustus 1872 kyk hy weer die kerkraad van Burgersdorp in die oë. Die kerkraad word eenvoudig meegedeel dat ‘n plaas gekoop is tussen Burgersdorp en Middelburg om ‘n nuwe dorp te stig; daarvoor moet die kerkraad ’n kommissie benoem.

Die amper outokratiese optrede van Steyn dwing die kerkraad tot versigtigheid. Hulle benoem wel ‘n kommissie, maar met die opdrag om eers met die kommissie van Middelburg hieroor te onderhandel, wat wel gedoen is.

Op uitnodiging van Middelburg benoem die kerkraad op sy vergadering van 28 November 1872 ds. Dirk Postma en oudl. W. van Biljon om die stigting “der gemeente te Steynsburg” by te woon. Die te stigte dorp is genoem na hom wat die leiding in die omgewing geneem het, oudl. A.P.J. Steyn.

Die verrigtinge met die oog op gemeentestigting sou op 5 Desember begin. Die byeenkoms vind plaas in die plaashuis aangekoop van Andries van der Walt.

Hier is ook ‘n kerkgeboutjie opgerig waar voorlopig die dienste waargeneem sou word. Die geelhoutbalke wat in die eerste “kerkgeboutjie” diens gedoen het, is later ingemessel in ‘n buitegebou op die plaas Fonteintjie, naby Teebus, wat met die gemeente se eeufeesviering in 1972 nog in gebruik was.

Op Vrydag 6 Desember 1872 vergader die kommissie van die kerkraad van Middelburg, onder wie se leiding die gemeentestigting sou plaasvind, op die bestemde plek en besluit om die volgende dag ’n nuwe gemeente te stig. ⊗


Ds_PC_Blackie_Kruger_lê_die_hoeksteen_van_die_Gereformeerde_kerk_Vryheid_op_6_Desember_1958.jpg

6 Desember 1958 | Ds. P.C. (Blackie) Kruger lê op hierdie dag die hoeksteen van die verbouings aan die ou Gereformeerde kerk van 1929 op Vryheid. Die huidige kerkgebou (tweede foto) is in 1974 opgerig en sluit aan by die ou kerkie (derde foto), wat van toe af as saal gebruik word.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s