7 Maart | Nuusbrief

Voor Brandfort se kerkie

Wat is so lekker soos om rond te ry en kerke af te neem? Die uwe voor Brandfort se Dopperkerkie op 4 Januarie vanjaar.

Beste Dagboeker,

Donderdag 8 Maart is dit net mooi twee weke vandat ons oorgeskakel het na die nuwe formaat. Dis omtrent spanningsvol om te kyk hoeveel kyke elke berig kry en hoeveel besoekers daagliks by die blog aandoen. Selfs net ná twee weke begin ’n duidelike patroon vorm wat wys wat julle die graagste lees.

Die gewildste berigte kan saamgevat word in twee woorde: onlangse mense, met ander woorde mense wat julle ken of geken het. Hiervan getuig ons gewildste inskrywing tot dusver, Ds. Landman Vogel gebore, met 591 kyke en die tweede gewildste, Mariana Venter oorlede, met 338. Ds. Krüger van Niekerk oorlede, is in die derde plek met 282 kyke.

Statistiek Maart

Ons gewildste dag tot dusver was 5 Maart en die gewildste berig dié oor ds. Landman Vogel se geboortedag, 5 Maart 1952.

Selfs 118 jaar later stel julle steeds belang in die Tweede Vryheidsoorlog, daarvan getuig Genl. Piet Cronjé hendsop met 228 kyke in die vierde plek. Vyfde volg weer die patroon van onlangse mense wat ’n gewilde onderwerp is, want Dr. Cassie Venter gebore het 213 kyke gekry. So ook die sewende plek met 173 kyke: Dr. Jan Schutte sterf.

In die sesde en 10de plek is artikels met Namibië as tema: Suidwes kry predikant en Tsumeb-kerk in gebruik. Dat PUK-biblioteek brand af in die agtste plek is, kan dalk aan die dramatiese foto van ’n vlammende gebou toegeskryf word en/of die sterk band wat Doppers met dié universiteit het.

En die laaste van ons toptien is Ds. J. Beijer sterf. Moontlik omdat die loksin by die inskrywing op Facebook lede se belangstelling geprikkel het? “Die notule toon dat mev. Beijer die eienskappe mis wat ’n mens by die vrou van ’n bedienaar van die Woord sou verwag.”

Cassie-Venter

Die berig oor mev. Mariana Venter se dood het die tweede meeste kyke gekry, 338, en dié oor haar man, prof. Cassie Venter, se verjaardag met 215 kyke die vyfde meeste.

Aan die Facebook-kant is dit verblydend dat lede self sewe van die gewildste inskrywings van die afgelope maand gemaak het. Danie Putter se vraag: “Watter van ons betaal nog die gelofte wat Jan Van Riebeeck in 1654 gemaak het?” het tot ’n vurige bespreking gelei: Altesaam 128 kommentare, 236 “likes” (en kwaad, hartseer, ens.) en is meer as 1 500 keer gesien.

Riana du Toit-le Roux se vraag oor die woord “buitengewoon” in ’n doopregister was ’n kort koppie agter as die inskrywing wat die tweede meeste aandag gekry het. Derde was Douw Kryger se video oor homoseksualiteit en vierde my inskrywing oor die geboortedag van Volkspele, wat 81 meestal lekker nostalgiese kommentare uitgelok het.

Vyfde was Anita Lessing se melding van haar pa, ds. Francois Lessing, se verjaardag en sesde ds. Nikolaas Pienaar se vraag: “Waaroor het jou predikant die afgelope Sondag gepreek?” Hopelik hou hy vol daarmee.

Sewende was Esti Liebenberg se treffende foto van die sonsondergang oor Burgersdorp se geliefde kerkgebou en agtste my inskrywing op 11 Februarie wat vertel van die lot van die seringboom waaronder die GKSA 159 jaar gelede gestig is.

Negende was vreemd genoeg ’n verwelkoming aan ’n klompie nuwe lede, maar met ’n foto van oom Paul daarby wat Zacharias Venter laat waarsku het: “Pasop vir mensverheerliking.” Hierop het 27 kommentare van veral Annatjie Sandrock en Ferdinand Postma gevolg wat dié inskrywing net-net gewilder gemaak het as Helena Malan van Burgersdorp se mooi foto’s van prop. Daniël Myburgh se bevestiging op Venterstad deur haar man, ds. Jan Malan.

Tussen 5 Januarie en 7 Maart het ons lede toegeneem van 2 797 tot 3 350. Dis 553 binne twee maande, wat beteken ons kan DV teen die huidige trant net oor die 6 000 lede teen die einde van die jaar te hê.

Goue gans?

Klik asseblief op die nuwe formaat inskrywings wat na die blog toe lei, want elke klik tel! Vandat ek oorgeskakel het na inskrywings op die blog, het ek baie nagelees oor wat die Amerikaners “monetizing your blog” noem. Dit kom daarop neer dat ’n mens geld met ’n blog kan maak. Van die moontlikhede is om ’n buitemaatskappy se advertensies daarop toe te laat. Google Adsense vat byvoorbeeld 32% en gee die blogskrywer 68%, maar die inkomste hieruit is minimaal: Sommige bloggers met 100 000 besoekers per maand kry gemiddeld skaars $5 uit.

“Affiliate marketing” is nog ’n moontlikheid waar die blogger skakels na maatskappye se webtuiste op die blog plaas waar hulle produkte verkoop wat die bloggers meen die lesers in belang sal stel. Die blogger kry dan kommissie op elke produk wat so verkoop word.

DDN Adv Kerkblad

Wanneer ’n blog soos soos ons s’n genoeg gereelde besoekers het, kan hy advertensies aanvaar wat binne-in of onderaan inskrywings verskyn.

Die derde moontlikheid, en een wat ek graag sou wou beproef wanneer die blog meer besoekers het, is direkte advertering. Ek nader dus ’n maatskappy wat ’n diens lewer of produkte verkoop waarin ek meen Dopperdagboekers belang sal stel, en die maatskappy betaal om hul advertensie in of onderaan berigte op die blog te plaas.

Hoekom geld probeer maak met die blog?

Omdat ’n blog geld kos: Die gratis plan wat die blog nou gebruik, laat nie advertensies toe nie en het ’n beperkte bergplek vir foto’s. Om op te gradeer, sal $8/maand vooruitbetaalbaar kos; dus sowat R1 150. Die webadres “www.mydopperdaboek.co.za” kos sowat R300 per jaar en die rekenaarprogram wat ek gebruik om foto’s te verwerk, Photoshop, sowat R150 per maand. Dis die noodsaaklike.

Dan kom die lekkertes, soos nog toere om kerke af te neem, die koop van boeke waaruit ’n mens gegewens kan haal vir nog inskrywings, ’n beter skandeerder om ou foto’s mooier te maak voor hulle geplaas word, noem maar op.

Nog ’n manier om geld uit ’n blog te maak, is om ’n intekenfooi te vra. Maar wat My Dopperdagboek betref, hoef julle net te klik op die inskrywings en te hou van die inskrywings op Facebook. Mettertyd sal dit op sigself genoeg wees om hierdie heerlike onderneming aan die te gang te hou en te help floreer.

Laastens, dankie vir al die kommentare, die regstellings, die duime in die lug, traangesiggies of hartjies by inskrywings. Veral dankie vir die staaltjies wat julle so vrylik deel en die lekker onthou waarin medelede kan deel – asook die foto’s van destyds en nou, van Venterstad tot Okahandja en Pretoria. Julle maak dit die moeite werd!

Tot ’n volgende keer!

Groete uit die Kaap,

Morné

Koop dagboek

5 thoughts on “7 Maart | Nuusbrief

  1. Dankie vir ons nuusbrief! Ek is beindruk….van gedagte tot n dagboek, n unieke fb, n blog, n nuusbrief – dankie Morne! Ons doppertjies waardeer jou.

    Liked by 1 person

    1. Dankie, Hannes! Dis in ’n groot mate te danke aan jou “ja, ons kan”-ingesteldheid wat die bedryf aan die gang gesit het. En wie weet wat sou gebeur het as ek dalk eerste met kwaai Doppers kennisgemaak het, pleks van vriendelikes soos jy, Saskia en Marieke!

      Like

  2. Morne, jy verdien ‘n ruiker vir jou toegewyde poging om te verseker dat hierdie projek bestaan en sal voortbestaan,

    Selfs vir my wat al lank nie meer ‘n belydende Xten is nie, is dit heerlik om gereeld vir ‘n paar minute by die Dopperdagboek te kuier

    Met beste wense uit Kiwland.

    Doe zo voort!

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s