9 Maart 1916 | Slachtersnek Monument onthul

slagtersnek2

Die plaas Slagtersnek. (FOTO: Harry Booyens/AmaBhulu)

Slagtersnekmonument 100 jaar ná rebellie onthul

Die Slagtersnek-opstand van 1815 was een van die aanleidende oorsake van die Groot Trek omdat dit tot bittere haat jeens die Britse owerheid in die Kaapkolonie gelei het. Drie-en-veertig jaar later het die Christelike Afgeskeie Gereformeerde Kerk ds. Dirk Postma uit Nederland na die trekkers en hul nasate in Transvaal gestuur en onder hulle het die Gereformeerde Kerk op 11 Februarie 1859 onder die seringboom op die Voortrekkerdorp Rustenburg tot stand gekom.

Die hooffigure in die opstand van 1815 was Freek Bezuidenhout, sy broer Hans en nog vyf grensboere van die Visriviervallei: Cornelis Faber (43, ’n swaer van Hans), Stephanus Cornelis Bothma (43), sy broer Abraham Carel (29, Hendrik Frederik Prinsloo (32) en Theunis Christiaan de Klerk (30).

Freek Bezuidenhout was algemeen bekend as ’n haatdraende en ongenaakbare man teenoor die meeste mense. Sy werker Booi het hom dan ook daarvan aangekla dat hy hom mishandel en sy loon weerhou het. Toe Bezuidenhout gedagvaar word om voor die hof op Graaff-Reinet te verskyn, verwerp hy die hofbevele en word in sy afwesigheid deur ’n rondgaande hof tot ’n maand tronkstraf weens minagting van die hof gevonnis.

DSCF4444

Die Slagtersnekmonument. (FOTO: Lu-Gerda’s Travels)

Hierna het landdros Andries Stockenström die onderbalju, J. Londt, opdrag gegee om Bezuidenhout in hegtenis te neem. Omdat die wyksveldkornet geweier het om die onderbalju te help, wend Londt hom tot kapt. Andrews van die naaste militêre pos. Terwyl Bezuidenhout hom gereed gemaak het om hom gewapend teen arres te verset, is lt. F. Rousseau met ’n patrollie van 12 Khoi-Khoisoldate aangesê om Londt na Bezuidenhout se plaas, Slagtersnek, te vergesel.

download

Die gedenkplaat by die ingang na die grot of klipskeur waarin Freek Bezuidenhout gesterf het.

Bezuidenhout het geweier om hom oor te gee, op die soldate geskiet en daarna, vergesel van sy kleurlingseun, Hans, en ’n besoeker, Jacob Erasmus, sy toevlug na ’n skeur in ’n rotswand naby die opstal geneem. Hy het geweier om na rede te luister en die vuur hervat tot ’n koeël van sers. Joseph, ’n lid van die Kaapsche Regiment (in die volksmond Pandoere genoem), hom dodelik getref het. Sy seun en Erasmus, wat nie een aan die skietery deelgeneem het nie, het hulle oorgegee.

Sy naasbestaandes het Bezuidenhout se oorskot die dag daarna op die plaas begrawe. Sy dood was die begin van die Slagtersnek-rebellie wat sy hoogtepunt bereik het op hierdie dag in 1816 onder die galg op die plaas Van Aardtspos, 12 myl suid van die plaas Slagtersnek.

By die grot waarin Bezuidenhout gesterf het op wat nou Glen Lynden heet, het die NG Kerk en plaaslike Reddingsdaadbond ’n monument opgerig wat op hierdie dag in 1916 onthul is. Die bewoording daarop lui:

“Ter gedachtenis aan Frederik Bezuidenhout, gesneuvel te Baviaans Rivier, en Hendrik Prinsloo, Stephanus Bothma, Abraham C. Bothma, Cornelis Faber en Theunis de Klerk, alhier gericht op 9 Maart 1816 in verband met de Slachtersnek geschiedenis.”

cuyler

Landdros J.G. Cuyler van Uitenhage.

Van Freek Bezuidenhout se broer Hans is dit bekend dat hy hardhandig opgetree het teenoor sy bruin plaaswerkers en weens wedersydse beskuldigings en beswaddering van wit en swart oorhoops gelê het met Coenraad de Buys, ’n avonturier wat onder die Xhosas gewoon het.

Op sy broer se begrafnis het Hans ’n eed afgelê om wraak te neem op die amptenare wat hy vir sy broer se dood verantwoordelik gehou het, maar dit nie daargelaat nie en die hele boeregemeenskap tot verset teen die nege jaar oue Britse bewind in die algemeen opgesweep. Na sy mening het hy die burgers se gevoelens vertolk deur sy voorneme om al die Britte en die “Hottentotte” in die see te dryf en ‘n eie staat op die oosgrens te stig.

Deur sy toedoen het sowat 60 burgers ’n eed van wraak en trou afgelê. Maar die veldkornet, A.C. Greyling, en 36 grensboere het hulle voorgeneem om die regering te steun. Daarop het die rebelle die vroue en kinders van diegene wat nie by Bezuidenhout wou aansluit nie, gedreig hulle sou aan die inboorlinge oorgelewer word om beroof en vermoor te word.

het-schlatersnek-monument-e1520537769660.jpg

Die monument in 1916, die jaar waarin dit onthul is.

By twee geleenthede het Bezuidenhout hulp by die Xhosa-opperhoof Ngqika vir sy versetplan teen die owerheid gesoek. Hy het hom die Suurveld (die streek rondom die latere Grahamstad) beloof, terwyl Bezuidenhout self die Katriviergebied (rondom Adelaide) sou kry.

Die onrusgevoel onder die grensboere het verder aangegroei nadat die Britse gesag die opstand ondersoek en besluit het om daarteen op te tree. Dat die samesweerders as rebelle bestempel is, het Bezuidenhout selfs meer verbitter. Hy het van leuens en verdraaiings gebruik gemaak om ondersteuning te wen en dié wat met die owerheid wou onderhandel, met geweld bedreig. Ook het Bezuidenhout die vrylating van gearresteerde burgers geëis.

26 September 1938, moeders en dogters staan erewag by die Slagtersnek-monument

26 September 1938: Een van die plegtigste oomblikke tydens die Simboliese Trek. “Die fleur van Afrikanerkrag bring hulde aan die gedagtenis van ons dierbare offers. Moeders en dogters staan in erewag by die Slagtersnekmonument.”

In November 1815 het ’n afdeling troepe en burgers onder landdros J.G. Cuyler van Uitenhage teen die opstandelinge opgetrek en op die 18de het die meeste hulle onvoorwaardelik by Slagtersnek oorgegee.

Bezuidenhout met sy vrou en drie kinders, sy swaer C.J. Faber en dié se gesin en later Abraham Botma en Stephanus Botma en hul gesinne het daarin geslaag om na die Winterberge te ontvlug.

Op 29 November is hulle deur ’n kommando van honderd Khoi-Khoisoldate onder bevel van enkele wit offisiere in ’n kloof op die pad tussen Tarkastad, Adelaide en Bedford ingehaal en gevra om oor te gee. Bezuidenhout het geweier.

slagtersnekbeam1 (1)

Die balk waaraan die terdoodveroordeeldes opgehang is, vorm nou deel van ’n uitstalling in Somerset-Oos se museum. (FOTO: Harry Booyens/AmaBhulu)

In die daaropvolgende geveg het Bezuidenhout se 14-jarige seun hom bygestaan en sy vrou die gewere gelaai. Al drie is gewond en Bezuidenhout het later aan sy wonde beswyk. Afgesien van Faber, wat ook gewond is, het die res van die geselskap ongedeerd daarvan afgekom. Een Khoi-Khoisoldaat is noodlottig gewond.

Bezuidenhout is ’n ent van die gevegstoneel af begrawe op die plaas van Louw Botma, waarskynlik die huidige Rocklyn in die distrik Tarka.

Die nasleep van die opstand was dat Bezuidenhout se eggenote en nog 38 mense uit die distrik verban, ses ter dood veroordeel, een begenadig en vyf op hierdie dag op Van Aardtspos, 12 myl suid van Slagtersnek, in die openbaar tereggestel is.

Ds. T.J. Herold van George en die geneesheer dr. G. Glaeser was onder die aanwesiges om hul laaste dienste te bewys. Stephanus Bothma het die omstanders toegespreek en vir oulaas vermaan om die owerheid gehoorsaam te wees. Toe die toue van vier van die veroordeeldes breek, het hulle, half verwurg, landdros Cuyler om genade gesmeek.

a8ded438f111411faae2b5f3357bab5b

Ná die teregstelling is die balk  in die woonhuis op Van Aardtspos ingebou. Dis in 1896 uitgehaal om Leander Starr Jameson en sy rebelle mee op te hang na hul inval in Transvaal., maar vredeshalwe nie gebruik nie. Die Slagtersnekbalk het jare lank van die toneel af verdwyn tot dit in Kaapstad opgespoor en na die museum op Somerset-Oos gebring is.

TJ_Herold.jpg

As leraar van die NG gemeente George, is ds. T.J. Herold deur die goewerneur die pynlike taak opgelê om die opstandelinge op die dood voor te berei en hulle in hulle laaste lewensoomblikke by te staan.

Dié het geantwoord hy het nie die mag daartoe nie, waarna hulle opnuut, een-een, opgehang is. Die burgers wat kant vir die owerheid gekies het, was grootliks ontsteld deur die sware straf en die onmenslike wyse waarop dit voltrek is. Hulle het nie kon dink hulle sou aandadig daaraan wees om hul landgenote ter dood te bring nie.

Onder die lojale burgers en die breë boerebevolking van die Oosgrens het bittere haat jeens die Britse owerheid ontstaan. Al het die grensboere en later die Voortrekkers die Bezuidenhouts se dade veroordeel, kon hulle met hul beweegredes simpatiseer.

Algaande het die algemene gevoel onder hulle posgevat dat die wit mense onderdruk en die bruin mense deur die owerheid begunstig word. So het die Slagtersnek-opstand eindelik tot ’n simbool van onderdrukking ontwikkel.

Bronne

Van Heerden, mej. M. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Auckland Park: Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge.

Dreyer, eerw. Andries. 1916. Zuid-Afrikaanse Monumenten Album. Kaapstad: G.D. van Tonder.

Swart, dr. M.J. in De Kock, W.J. en Krüger, prof. D.W. 1972. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel II. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s