18 Maart 1936 | Dopperpresident gebore

Nelson, Desmond en FW

Oudpres. Nelson Mandela, emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu en oudpres. FW de Klerk op laasgenoemde se 70ste verjaardagparty, Maart 2006. (FOTO: Associated Press)

Oudpres. FW de Klerk in Johannesburg gebore

“Wanneer ons in die lewe uitgaan om ons roeping te aanvaar en ons lewenstaak te volvoer,” skryf Frederik Willem de Klerk in die PUK-studentejaarblad van 1957 in wat beskou kan word as sy vroegste politieke geloofsbelydenis, “moet ons besef ons roeping lê dieper as slegs die beroep wat ons gekies het.

“Roeping en lewenstaak sluit ook in nakoming van plig teenoor ons land en volk. Op die godsdiensterrein en die volksterrein sal ons moet leiding gee! Om ’n goeie leier te wees, moet ’n mens kan praat, kan redeneer, kan oortuig.”

kuratore_van_die_gksa_se_teologiese_skool_potchefstroom_1920s.jpg

FW de Klerk se oupa aan vaderskant. ds. W.J. de Klerk, was die eerste registrateur van die PUK en sy vader, sen. Jan de Klerk, sowel as hy, kanselier van die PU vir CHO. Hier is die kuratore van die Teologiese Skool in 1922: Agter (van links): Di. Dirk Postma, J.A. van Rooy, I.D. Krüger, H.J.R. du Plessis, proff. J.D. du Toit en Jacobus du Plessis. Voor (van links): Di. N.H. van der Walt, G.H.J. Kruger, W.J. de Klerk en D.P. du Plessis.

Frederik Willem (FW) de Klerk is op 18 Maart 1936 in Johannesburg gebore. Hy het sy skooljare grotendeels op Krugersdorp deurgebring, waar hy aan die Hoërskool Monument gematrikuleer het. Hy het aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys studeer en in 1958 die grade B.A. en LL.B. (cum laude) verwerf. Gedurende sy universiteitsjare was hy aktief by studente aangeleenthede betrokke.

Nadat hy afstudeer het, het hy ’n tyd lank die beroepslewe van regspraktisyn beoefen, maar hy sou weldra sy toetrede tot die politiek maak en daar die geleentheid kry om hierdie wekroep in dade om te sit. Daarvoor sou hy aan die einde van hierdie besonderse loopbaan onder meer met die Nobelvredesprys beloon word.

FW, soos hy bekend staan, was die seun van sen. Jan de Klerk, wat in 1925 SR-voorsitter was en in sy latere lewe, ná ’n lang politieke loopbaan, as kanselier van die PUK sou optree. Sy oupa aan vaderskant was ds. W.J. de Klerk, Dopperpredikant en eerste registrateur van die geproklameerde PUK vir Christelike Hoër Onderwys in 1919, wat dié amp tot in 1927 sou beklee.

Suid-Afrikaanse_kabinetsvroue_van_1967.jpg

Kabinetsvroue, 1967. FW de Klerk stam aan vaders- sowel as moederskant uit ’n politieke familie. Sy moeder, Corrie (née Coetzer), wat getroud was met sen. Jan de Klerk, sit derde van links. Haar vader was

Sy tante Susan was die tweede vrou van adv. Hans Strijdom, Suid-Afrika se vyfde eerste minister. Sy ouer broer was dr. Wimpie de Klerk, predikant, akademikus en koerantman, het ook diep spore aan die PUK getrap het. Die stamvader aan dié kant van die familie was die Hugenoot Abraham de Klerk, de Clercq of le Clerq, wat in 1670 in Zeeland, Nederland gebore en is omstreeks 1745 aan die Kaap oorlede is.

Ook aan moederskant stam hy uit ’n politieke familie. Sy moeder, Corrie (née Coetzer), ’n boorling van Reddersburg, was een van vyf kinders uit Frederik Willem Coetzer, provinsiale raadslid vir Edenburg, se tweede huwelik, met Anna Cecilia Fouché. Die Coetzer-stamvader, Jacob Kutzer, is in 1686 in die teenswoordige Tsjeggiese Republiek gebore en in 1742 in Drakenstein oorlede.

van_rooy-familiefees_met_sen_jc_van_rooy_se_80ste_verjaardag_kroonstad_23_julie_1939.jpg

Die Van Rooy-familiefees op Kroonstad, 23 Julie 1939, op sen. J.C. van Rooy se 80ste verjaardag. Negende van links in die derde ry staan Corrie en Jan de Klerk, ouers van Wimpie de Klerk en FW de Klerk (agtste van links). Ds. De Klerk sit vyfde van links in die tweede ry. Tweede en derde van regs in die derde ry staan adv. Hans en Susan Strijdom. Ds. Klerk se tweede vrou, by wie op twee ná al 12 sy kinders gebore is, Jan de Klerk inkluis, was Aletta Johanna van Rooy, ’n dogter van sen. Van Rooy en ’n slagoffer van die Griepepidemie van 1918/’19. Vir die volledige name, klik hier en rol af tot onder.

As student het FW reeds leierseienskappe getoon, onder meer as ondervoorsitter van die Afrikaanse Studentebond (ASB), SR-lid in 1957 en ondervoorsitter van laasgenoemde liggaam in 1958. Met die Abe Bailey-beurs het hy einde 1958 oorsee getoer.

Hy vestig hom op Vereeniging en bou ’n prokureursfirma op. In 1972 tree hy tot die aktiewe politiek toe as Volksraadslid vir Vereeniging.

Marike_Willemse_en_FW_de_Klerk_op_universiteit

Marike Willemse en haar aanstaande, FW de Klerk, verkoop die Pukkie op universiteit, omstreeks 1956.

In 1972 word hy ’n professoraat in die fakulteit Regte aan die PUK aangebied, maar toe hy later in die jaar tot Volksraadslid verkies word, het hy eerder aan die politieke roepstem gehoor gegee. Oor hierdie belangrike besluit in sy loopbaan het sy gewese vrou en studenteliefde, Marike (Willemse), met wie hy in 1969 getroud is, vertel van die advies wat die destydse rektor, prof. Hennie Bingle, gegee het: “Daar kan altyd baie akademici wees, maar as jou volk jou roep en jy dink jy kan aan daardie roepstem beantwoord, dan moet jy gaan.”

In 1978 is hy deur destydse premier John Vorster in die kabinet aangestel en beklee hy ’n verskeidenheid portefeuljes voor hy in 1989 eers as hoofleier van die regerende Nasionale Party aangewys en kort hierna tot die hoogste amp in die Suid-Afrikaanse politiek, dié van staatspresident, verkies word.

FW de Klerk NP plakkaat.jpg

FW de Klerk was leier van die Nasionale Party van 1989 tot 1997. (FOTO: Unisa)

Hy het die grondwetlike omwenteling van Suid-Afrika aangevoer wat op die eerste universeel demokratiese verkiesing in April 1994 uitgeloop het. As deel van die politieke skikking het hy van toe af die amp van adjunkpresident in ’n regering van nasionale eenheid beklee, tot hy en sy party, intussen herdoop tot die Nuwe Nasionale Party, hulle in 1996 van dié meganisme onttrek.

’n Jaar later het hy uit die aktiewe politiek getree. De Klerk het verskeie pryse en eerbewyse ontvang vir sy inisiatiewe wat die nuwe bedeling in Suid-Afrika bewerkstellig het, onder meer die belangrikste, die Nobelvredesprys (saam met oudpres. Nelson Mandela) in Desember 1993. Hy was ook ’n tyd lank kanselier van die PUK en het in 1990 ’n eredoktorsgraad van sy alma mater ontvang.

Dr. Pieter Bingle, De Klerk se predikant in GK Kaapstad sedert 1978, het hom op 7 November 1998 met Elita Georgiadis in die huwelik bevestig. Tussen dié predikant en staatsman was en is “welwillendheid, wedersydse respek vir en vertroue in mekaar”. So is dr. Bingle as vriend en pastor gevra om die prediking tydens De Klerk se inhuldiging as tweede uitvoerende staatspresident van die RSA op 20 September 1989 in die NG kerk Universiteitsoord waar te neem.

Secretary_Clinton_Meets_With_Former_South_African_President_F.W._de_Klerk.jpg

Oudpres. FW de Klerk ontmoet Hillary Clinton in Washington, DC, in 2010. (FOTO: Wikipedia)

In Januarie 1999 is De Klerk se outobiografie, Die Laaste Trek – ’n Nuwe Begin uitgereik en in dieselfde jaar het hy die FW de Klerk-stigting tot stand gebring “om vrede in multi-gemeenskaplike samelewings te bevorder”.

In 2004 het De Klerk talle gerespekteerde voormalige nasionale leiers bymekaargebring om by hom aan te sluit as stigterslede van die Global Leadership Foundation (GLF), organisasie sonder winsoogmerk wat ’n konstruktiewe rol wil speel in die bevordering van vrede, demokrasie en ontwikkeling in lande wêreldwyd.

Elita en FW Nelson diens.jpg

Elita en FW de Klerk by oudpres. Nelson Mandela se gedenkdiens, 2013. (FOTO: Ben Curtis/AP)

Hy is erevoorsitter van die Praag-vereniging vir internasionale samewerking in die Tsjeggiese Republiek, ’n lid van die vergadering van die parlement van kulture in Istanbul en is betrokke by Forum 2000, ’n dinkskrum wat deur voormalige president Vaclav Havel en Nobelvredesprys-wenner Eli Wiessel van stapel gestuur is. Daarbenewens dien hy as erelid van die raadgewende raad van die Peres-sentrum vir Vrede in Israel.

De Klerk neem as voormalige staatsman aktief deel aan internasionale konferensies oor die bevordering van vreedsame verhoudings in multigemeenskaplike samelewings, die toekoms van Afrika en Suid-Afrika en die uitdagings wat die wêreld in die nuwe millennium die hoof moet bied. Hy woon in Kaapstad en geniet die buitelewe, om te lees en golf te speel.

(SAAMGESTEL UIT: Sages en Legendes, vol. 1; www.fwdeklerk.org; Kerk teen Tafelberg – Gereformeerde Kerk Kaapstad 1873–2006)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s