26 Maart 1934 | Ds. Peet Malan gebore

Ds_PJ_Malan_en_gesin_in_die_Gereformeerde_kerk_Dordrecht.jpg

Ds. Peet Malan, sy vrou, Mienie, en hul oudste twee seuns, Johan (links) en Jaco, die oudste kind. Later sou ook nog Annalie en Marius volg.

Gebore en ook oorlede in Natal

Ds. Petrus Jacobus Malan was tussen 1961 en sy dood in die ouderdom van 43 jaar predikant in drie Gereformeerde kerke.

Peet Malan is in Pietermaritzburg gebore as een van vier kinders – drie seuns en ’n aangenome dogter. Sy oudste broer, dr. C.J. Malan, was ook ’n Gereformeerde predikant. Hul ander twee sibbes was Jacobus en Leonie.

Die gesin het in 1937 na Johannesburg verhuis, waar ds. Malan eers die Laerskool Jubileum in Mayfair-Wes bygewoon en daarna aan die Hoërskool D.F. Malan in Crosby gematrikuleer het.

Vierdejaars Teologiese Skool Potchefstroom 1960

Peet Malan en sy klasmaats in die finale jaar aan die Teologiese Skool Potchefstroom, 1960. Agter: C.J. van Vuuren, J.C. Britz, W.L. Kuperus, G.A. Hattingh, P.J.W. Linde en P.J. Malan. A. Myburg, J. Venter, J.H.S. van der Walt, H. Dykstra, S.J. van der Byl en J.C. Coetsee.

Nadat hy in 1960 sy studie aan die Teologiese Skool Potchefstroom voltooi het, is hy in 1961 in sy eerste gemeente, Noordrand, bevestig. Sy en sy vrou, Mienie Geyer – ’n onderwyseres met wie hy in sy eerste jaar in die bediening getroud is nadat hulle jare lank ’n studenteverhouding gehad het – se eerste pastorie het op die hoek van ’n blomplaas gestaan.

Van sy eerste gemeente was hy ook die eerste predikant, want Noordrand het pas op 27 November in die vorige jaar afgestig van Florida, Krugersdorp en Linden. Sy uitgestrekte arbeidsveld het gestrek van Fairland af oor Honeydew tot anderkant Lanseria by Renosterspruit en daarvandaan tot by die Sterkfonteingrotte, alles noord van die Wes-Rand.

Die gemeente het omtrent om die helfte uit lidmate van Florida en Krugersdorp bestaan. Die twee groepe was gekonsentreer onderskeidelik by Wilgespruit en Muldersdrift. Noordrand het ’n kerkgebou by Wilgespruit van Florida geërf wat vir buitedienste en katkisasie gebruik is.

Indwe_Gereformeerde_kerk.jpg

Ds. Malan was van 1966–’76 predikant van Indwe en Dordrecht. Indwe het in 1990 ontbind, waarna die kerkgebou (foto) verkoop is. (FOTO: Morné van Rooyen)

Vyf jaar later het ds. Malan ’n beroep aangeneem na die kombinasie Dordrecht-Indwe, waar hy op 28 Augustus 1966 bevestig is en 10 jaar lank gewerk het. So kon hy Dordrecht se eeufees op 6 Maart 1969 meemaak. Hy is op 4 Maart 1967 tot sameroeper van die Historiese Kommissie benoem wat, benewens die opdrag om stof en foto’s te versamel vir die Eeufeesgedenkboek, ook as Reëlingskommissie van die eeufees aangestel is.

Ds_PJ_Malan_as_student.jpg

Peet Malan as student.

In 1976 het die gesin, wat aangeroei het tot vier kinders, Jaco, Johan, Annalie en Marius, na die gemeente Ficksburg verhuis. Maar hul tydjie daar was kort, want net 18 maande later, op 5 Julie 1977 is ds. Malan oorlede terwyl hy en sy gesin vakansie by Winklespruit aan Natal se Suidkus gehou het. Hy het blykbaar verdrink.

Ds. J. Venter skryf in die Almanak van die GKSA vir 1977: “Ons dink met groot dankbaarheid terug aan die mooi werk wat ds. Malan deur God se genade verrig het. Werk wat hy met die uiterste getrouheid en nougesetheid gedoen het. Hy was ’n stil soort mens maar tog (aan) die voorpunt om leiding te gee op die kerklike en kulturele akker.

“Daarby was hy steeds student en besig met sy Th.M.-graad. Ons het as studentemaats ’n lojale vriend begrawe; iemand wat altyd intens belang gestel het in die wel en wee van sy naaste.”

Lidmate van die ander kerke in sy dienstyd op Dordrecht het volgens oorlewering van hom gesê: “Wys my ’n Christen en ek wys julle ds. Malan.”

Koop dagboek

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s