29 Maart 1937 | Marike de Klerk gebore

FW en Marike de Klerk en Marianne en Pieter Bingle

Pres. F.W. en mev. Marike de Klerk by mev. Marianne en dr. Pieter Bingle, die predikantspaar van GK Kaapstad, waarvan die De Klerks jare lank lidmate was.

Laaste presidentsvrou van ou SA

Marike de Klerk (née Willemse) was Suid-Afrika se eerste en tot dusver enigste Gereformeerde presidentsvrou, maar ook ’n politikus van die Nasionale Party in eie reg.

Marike se vader, Wilhelm Willemse, was professor in sosiale patologie en sielkunde aan Tukkies.

“Sy het vroeg in haar lewe, toe sy skaars vyf jaar oud was, vir die eerste keer verwerping ervaar toe haar ouers geskei is,” het Elise Tempelhoff in ’n berig kort ná Marike de Klerk se dood geskryf.

“Sy vertel in die outobiografie Marike: ’n reis deur somer en winter dat haar ma later met ’n boer getroud is, dat haar eie pa, ’n professor aan die Universiteit van Pretoria, haar dikwels in die geheim besoek het en altyd vir haar en haar broer ’n boek saamgebring het. Haar ma het van die boeke uitgevind en dit probeer vernietig.

“(Haar medeskrywer aan die boek, Maretha) Maartens sê De Klerk het haar vertel hoe sy eendag ’n boek agter die wiel van ’n motor weggesteek het. Daardie nag het dit gereën en die boek was die volgende oggend papnat. ‘Marike se hart was stukkend.’

“De Klerk het onlangs in ’n televisie-onderhoud gesê sy moes haar hele lewe lank ‘presteer om liefgehê te word’.”

Sy het haar aanstaande aan die Potchefstroomse Universiteit ontmoet, waar sy studeer het vir ’n handelsgraad. Die egpaar het drie kinders aangeneem: Jan, Willem en Susan. Ná ’n huwelik van 39 is sy in 1998 van haar man geskei, waarna hy ’n week later hertrou het.

800px-marike_willemse_en_fw_de_klerk_op_universiteit.jpg

Marike de Klerk aan die Puk.

In 2000 het sy verdere emosionele omwenteling in die gesig gestaar toe haar verhouding met haar verloofde, die sakeman Johan Koekemoer, ineenstort. In die later jare van haar lewe het sy aan ernstige depressie gely.

In 1993 is sy bekroon met die Vrou vir Vrede-prys in Genève, Switserland, vir die bevordering van die welstand en ontwikkeling van landelike vroue.

Sy het twee boeke geskryf. In Marike: ’n reis deur somer en winter beskryf sy haar huwelik van 39 jaar. Later, in ’n Plek waar die son weer skyn, het sy leiding gegee aan vroue wat deur egskeiding in die gesig gestaar word. Haar gewese man het ’n hoofstuk in laasgenoemde boek wat gehandel het oor egbreuk, suksesvol laat sensor.

Op 4 Desember 2001 is Marike in haar Kaapse woonstel vermoor. In Mei 2003 is ’n oudveiligheidswag, Luyanda Mboniswa, daaraan skuldig bevind.

Die destydse president, Thabo Mbeki, het ná haar dood hulde aan haar gebring deur te sê dat sy ’n “sterk, pragtige en waardige vrou was”. Winnie Madikizela-Mandela het gesê “… as ’n vrou, kan ek met die uitputting van haar emosionele hulpbronne identifiseer in die vorming van haar gewese man se loopbaan”.

Marike de Klerk1.jpg

Marike de Klerk was gedurende 2000 en 2001 betrokke by die Avontuurklub van die Laerskool Simon van der Stel, Wynberg, se strandskoonmaakprojek op Dolphin Beach. (FOTO: Laerskool Simon van der Stel)

Een van die berigte wat wêreldwyd ná haar dood verskyn het, was dié een van 11 Desember 2011 in Beeld onder die opskrif “Marike het ’n nuwe lewe geskep met danslesse”:

Al was sy “ ’n Dopper wat nie eintlik mag gedans het nie”, het mev. Marike de Klerk “uit eensaamheid” drie jaar gelede baldanslesse begin neem.

Mnr. Jan Cilliers (73), ’n wewenaar wat De Klerk gereeld na danspartye in die Milnertonse stadsaal vergesel het, het gesê sy het met haar bywoning van die dansklasse op Woensdagaande in dié saal ’n nuwe sosiale lewe probeer skep.

“Ek dink sy het die lesse uit eensaamheid geneem. ’n Dopper mag nie eintlik dans nie, maar ek dink sy het besluit om dit vir sosiale verkeer te doen,” het Cilliers gesê.

Hy en De Klerk het die laaste keer saamgedans toe hulle vroeër vanjaar op dieselfde plesierboot gereis het na Skandinawië en Rusland.

Marike_de_Klerk_en_haar_vader_se_graf.JPG

Marike de Klerk en haar vader, Willem Willemse, se grafsteen in die Pretoria-Wes-begraafplaas.

De Klerk sou net in Italië gaan vakansie hou het, maar toe sy hoor van Cilliers se toer, het sy haar reisprogram uitgebrei om dié lande ook in te sluit.

Cilliers het gesê haar eintlike liefde was klassieke musiek.

“In Finland het ek haar een keer gekry sy was in ’n ander toergroep waar sy in ’n klipkerk met ’n ronde dak en ongelooflike akoestiek in vervoering na die orrelmusiek geluister het.”

Dr. Neels Smit van die Gereformeerde Kerk Noordbrug in Potchefstroom, ’n vriend en destydse gemeentepredikant van die De Klerks toe hulle in Pretoria gewoon het, het die skriflesing mev. De Klerk se graf behartig.

“Ek wil ’n boodskap van vertroosting oordra,” het hy vooraf aan Beeld gesê. “Ek wil ook sê dat die vraag van waaróm na waartóé verander word. Wat positiefs wil die Here hiermee doen?

“Kan dit nie dalk gebeur dat haar dood die belanghebbendes in die land tot stilstand ruk en daartoe aanleiding gee dat hulle die land in orde kry nie?”

Facebook-kommentaar

Arie Weyers
Arie Weyers Marike is n kleinniggie van my en net voor haar dood het ek haar gekontak want ek was besig met ons stamboom om meer van haar kant te hoor. Ons was op pad Nederland toe en wou graag sekere inligting van haar hoor. Ons sou nadat ons terug is weer kontak gemaak het maar sy was vermoor toe ons oorsee was. Hoop ek kan die inligting iewers kry.
Este Vorster Marieke was ernstig om plattelandse vroue wat min geleenthede gehad het, met ‘n uitreikings en ontwikkelings-program te bereik en sodoende hulle lewens te verryk. Hierdie program is deur ‘n groep wetenskaplikes op die PUK ontwikkel (“the women’s outreach foundation’s programme) en met groot sukses in groot dele van die destydse RSA toegepas. Twee kenmerke van Marieke wat haar so ‘n besondere mens gemaak het was haar skerp intelligensie en haar diep en sterk gefundeerde geloof.
Gereformeerde Kerk Alkantrant Na haar egskeiding met FW was sy ‘n paar jaar lidmaat in my gemeente, Pretoria-Alkantrant. Ek het haar goed leer ken en met baie waardering haar besoek en bygestaan.

Ouma ritme

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s