20 April 2008 | Prof. Peet Coetzee oorlede

1980 Afskeid van prof PJ Coetzee (4) 549.jpg

Die Teologiese Skool Potchefstroom neem in 1980 gesellig afskeid van prof. Coetzee (vierde van regs) en sy eggenote, Pattie (derde van regs).

Roepingsbewuste predikant en teoloog met lang lewe geseën

Prof. dr. Petrus Johannes Coetzee is op hierdie dag in die ouderdom van 92 jaar en agt maande oorlede.

Hy was predikant van predikant van drie Gereformeerde kerke, toe voltyds redakteur van Die Kerkblad, daarna predikant van nog ’n kerk en einde van 1970 tot 1980 professor aan die Teologiese Skool Potchefstroom (TSP).

Peet Coetzee was, volgens prof. A. le R. du Plooy in die die Almanak van 2008, die oudste kind uit ’n gesin waarvan al die seuns en dogters in eie reg merkwaardige en begaafde mense was.

Dr_PJ_Coetzee.jpg

Dr. Peet Coetzee toe hy predikant was van GK Kaapstad (1945–’52).

Hy skryf: “Oom Peet, soos hy by die meeste van ons bekend was, was ’n besondere mens, begaafd en vurig lief vir die gereformeerde leer en daarom vir die GKSA. Hy was ook intens lief vir die Afrikanervolk en vir Suid-Afrika.

“Hy was ’n deelnemer en wanneer hy nie kon deelneem nie, iemand wat belangstelling en betrokkenheid bly toon het. So was dit reeds vanaf sy studentejare waar hy aktief aan die studentelewe deelgeneem het. Hy het as voorsitter van die Studenteraad sterk leiding geneem op plaaslike vlak, maar ook in nasionale verband.”

Sy oudste dogter, Adriana van der Westhuyzen, het haar pa met enkele woorde digterlik soos volg tipeer:

Pa

Vlymskerp brein wat

Die Woord dissekteer

En tot die slotsom kom:

LOF AAN GOD!

Altyd weer.

So was hy inderdaad, skryf prof. Du Plooy, “iemand wat graag met die Woord besig was, en wat gelewe het onder die besef dat die Here hom as bedienaar van die Woord geroep het”.

Loopbaan

Dr. Coetzee het sy bediening in 1942 in die Gereformeerde Kerk Benoni begin en in 1945 voortgesit in Kaapstad, waarna hy in 1952 ’n beroep na Bloemfontein aangeneem het. In 1958  is sy diens as gemeentepredikant onderbreek, toe hy sy vyfjarige redakteurskap van Die Kerkblad begin. Daarna was hy voltyds direkteur van die Afrikaanse Calvinistiese Beweging (1963–’65).

GK Kaapstad - Hoeksteen.JPG

Dr. Coetzee het die hoeksteen van Kaapstad se Gereformeerde kerk op 11 Augustus 1951 gelê. Die kerkgebou is op Stigtingsdag, 6 April 1952, in gebruik geneem.

In 1965 het hy na die bediening teruggekeer as predikant van GK Klerksdorp-Wes, maar in 1970 professor in dogmatiek aan die TSP geword en dit tot sy emeritaat in 1980 gebly.

In sy jare as predikant hy het in talle deputaatskappe gedien, was hy afgevaardigde na die Gereformeerde Ekumeniese Sinode in 1953 in Grand Rapids, asook na die General Assembly van die Free Church of Scotland in dieselfde jaar. Hy het ook in die moderamen van die Nasionale Sinodes van die GKSA van 1955 en 1958 gedien.

GK Kaapstad KR met ingebruikneming van kerkgebou 1952.jpg

Dr. Coetzee en die Kaapse kerkraad afgeneem by geleentheid van die ingebruikneming van die kerkgebou op 6 April 1952.

Tydens sy bediening in Kaapstad, het hy ’n doktorsgraad in die wysbegeerte onder prof. H.G. Stoker behaal met ’n proefskrif oor “Die antropologie van die vroeg-moderne humanisme en die betekenis daarvan vir ons vandag”.

In dr. Coetzee se tyd het die gemeente van Kaapstad die voorreg gehad om sy kwarteeufees van 24 tot 27 September 1948 luisterryk te vier. Prof. Stoker het as feesredenaar opgetree, terwyl die eredienste waargeneem is deur prof. dr. J.P. Jooste van die Teologiese Skool en ds. J.W. Jansen van Ryssen, die eerste predikant van Kaapstad.

Dr. Coetzee het met groot ywer en toewyding in die gemeente gearbei, en baie het tot stand gekom in die sewe jaar van sy ampstermyn. Hy het besonderse aandag aan die finansiële posisie van die gemeente gegee. Onder sy leiding het die lidmatebydraes byvoorbeeld van £495 in 1945 tot £834 in 1946 toegeneem. In 1948 is die bates van die gemeente op £4 326 gestel, en was die finansies bevredigend.

Gereformeerde_kerk_Kaapstad_vanuit_Bo-Oranjestraat,_Morné_van_Rooyen,_17_Junie_2017.jpg

Die Gereformeerde Kerk Kaapstad se saal (voor) en kerkgebou agter, wat in gebruik geneem is in dr. Coetzee se tyd. (FOTO: Morné van Rooyen)

Dr. Coetzee het ’n prominente rol in die selfstandigwording van die PU vir CHO gespeel deurdat hy betrokke was onderhandelinge met die staat daaroor.

Die Van Riebeeckfees van 1952 het gedurende sy bedieningstyd in Kaapstad plaasgevind. Hyself was lid van die sentrale feeskomitee en het ’n prominente bydrae gelewer. Op dieselfde dag dat die fees ’n hoogtepunt bereik het, 6 April 1952 – dag en datum 300 jaar ná die planting van die gereformeerde leer aan die suidpunt van Afrika – het die gemeente die mooi dag beleef dat hy sy nuwe Kerkgebou dankbaar en feestelik in gebruik kon neem.

Destydse_Gereformeerde_kerk_Klerksdorp-Wes,_27_Desember_2017,_Morné_van_Rooyen.jpg

Dr. Coetzee het ook die hoeksteen van die Gereformeerde Kerk Klerksdorp-Wes se kerkgebou gelê, op 3 September 1966, drie dae voor die moord op dr. H.F. Verwoerd. (FOTO: Morné van Rooyen)

In sy voorwoord tot die feesprogram by dié geleentheid het dr. Coetzee geskryf: “Hierdie kerkgebou staan vandag ná 300 jaar, by die skeiding van die eeue, as ’n getuienis van ons onwrikbare geloof in die onverganklike beginsels van die Heilige Skrif soos uitgedruk in ons belydenisskrifte. Deur die geloof sien ons op Hom wat gesê het: ‘Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige!'”

Nog in die feesjaar het dr. Coetzee ’n beroep na GK Bloemfontein aanvaar. Reeds in 1949 het die gemeente hom byna verloor. Dr. Coetzee het ’n beroep na Pretoria-Oos opgevolg, maar ná heroorweging – en mede op advies van ’n aantal professore aan die Teologiese Skool Potchefstroom – het hy ingesien dat dit op daardie bepaalde tydstip onwenslik sou wees om Kaapstad herderloos te laat.

Hoeksteen_van_die_destydse_Gereformeerde_kerk_Klerksdorp-Wes,_27_Desember_2017,_Morné_van_Rooyen.jpg

Die hoeksteen van die destydse Gereformeerde Kerk Klerksdorp-Wes se kerkgebou, nou ingemessel in die nuwe kerk van GK Klerksdorp, waarby Klerksdorp-Wes ingelyf is.

C.W.M. du Toit, LV (’n gewese predikant van die Gereformeerde Kerk, wat ’n tyd lank deeltydse arbeid in die gemeente Kaapstad verrig het) het aansienlike vordering in die ressort van die gemeente gemaak met die herstigting van die ou Kruiskerk.

In dr. Coetzee se tyd was die naaste gemeente aan Kaapstad in die binneland De Aar en langs die kus op Port Elizabeth, waarvan hy die konsulent was.

Ná sy emeritaat het hy graag hulpdiens gedoen, onder meer in Petrusburg, Okahandja, Stofberg, Clanwilliam, Wolmaransstad, Petrus Steyn/Lindley.

GK Oos-Londen KR emeritering ds ID Kruger 1954. Ry 1 P Kruger Mev H Kruger. Ry 2 Kobus Aucamp dr PJ Coetzee. Ry 3 J Aucamp 317.jpg

Die Gereformeerde kerkraad van Oos-Londen neem in 1954 afskeid van dr. Izak Krüger. Voor (vanaf tweede van links): P. Kruger, prof. P.J.S. de Klerk, dr. Krüger, mev. Krüger, ds. Abraham Aucamp, ds. Martinus Postma. Tweede ry (vanaf derde van links): Kobus Aucamp, ds. G.P.L. van der Linde, ds. L.J Botha en dr. P.J. Coetzee. Derde ry (onder andere): J. Aucamp, D.A. Coetzee en H. Venter.

Prof. Du Plooy skryf: “Hy was iemand met ’n liefde vir die Woord vir die gereformeerde teologie, en het lank eintlik ’n student gebly, baie belese en bekend met die nuus van elke dag. Talle artikels en publikasies het uit sy pen verskyn. As redakteur van Die Kerkblad het hy natuurlik gereeld gepubliseer en goed daarin geslaag om aktueel en insiggewend oor uiteenlopende onderwerpe te skryf.

“In sy publikasies het hy bewys gelewer van sy kennis en insigte van die Reformasie, van die Metodisme, van Calvyn en van die neo-Calvinisme en Humanisme, om enkeles te noem.”

1980 Mev PJ Coetzee ontvang ruiker van mev JC Coetzee met die afskeid van Prof PC Coetzee 545.jpg

Mev. Pattie Coetzee (regs) ontvang ’n ruiker van mev. J.C. Coetzee tydens prof. Coetzee se afskeid van die TSP, 1980.

Waardering

Prof. Du Plooy skryf prof. Coetzee “was iemand wat daarna gestrewe het om goeie verhoudinge tussen mense, tussen instellings soos die Universiteit en die Teologiese Skool asook tussen kerke te onderhou en te bewerkstellig. So het die bestaan van die drie Afrikaanse kerke hom ter harte gegaan en was hy vir ’n geruime tyd intens gemoeid by die Tussenkerklike Kommissie se gesprekke.

“Met sy gawes en eiesoortige aard het hy ’n navolgenswaardige voorbeeld gestel van iemand wat waarlik toegewyd en lief was vir die gereformeerde leer. Ons almal sal hom onthou vir sy humor en blymoedigheid; sy belangstelling en betrokkenheid.”

Gesinslewe

Prof. Coetzee is ná die afsterwe van sy eerste vrou, Pattie, weer getroud, met Annatjie, wat haar 85ste verjaardag op 19 April 2018 gevier het. Sy kinders en kleinkinders was altyd vir hom ’n vreugde en sieraad, skryf prof. Du Plooy, “en dit was vir hom iets besonders (ook vir prof. Callie Coetzee) dat sy seun in sy voetspore kon volg as professor in Dogmatiek aan die TSP.”

Facebook-kommentaar

Albertje Fouche

Albertje Fouche Dankie vir die foto’s veral die OL foto waarop ek so baie herken. Ek dink dis nog net oom Louis Botha om en by 98 wat leef. Die foto’s bring herinneringe terug van mense en gebeure waarvan ek al vergeet het.

Morné van Rooyen
Morné van Rooyen Die so verbasend dat hy nog leef. Hy word DV volgende jaar 14 Oktober 100 jaar oud. Weet jy hoe dit met hom gaan, Albertje?
Albertje Fouche

Albertje Fouche Ek sal môre sy kleindogter vra. Hy het al 3 van sy 5 kinders begrawe. Dierbare oom.

Morné van Rooyen
Morné van Rooyen Mens kan sit sommer sien op sy foto’s.
Morné van Rooyen se foto.
Albertje Fouche

Albertje Fouche Hy was ‘n beeld van ‘n man en het op of oor 90 nog aan atletiek deelgeneem. Ek was nog ‘n klein dogtertjie toe was hy ‘n groot aanhanger van ‘n naturopaat en het ‘n gesonde leefstyl gevolg.

Morné van Rooyen
Morné van Rooyen Albertje, g’n wonder hy leef so lank nie.
Albertje Fouche
Albertje Fouche Morné van Rooyen nounet verneem oom Louis bly nog in sy huis en doen nog elke dag oefeninge. Sy eerste vrou tant Dollie is baie lankal oorlede en hy het met ‘n jonger vrou getrou, ( nou nie bloedjonk nie) wat hom mooi bystaan. Ek ken haar egter nie.

reklame grootpad grondpad

One thought on “20 April 2008 | Prof. Peet Coetzee oorlede

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s