10 Mei 1945 | Koos du Plessis gebore

Goue plaat.jpg

Van links: Laurika Rauch, Katinka Heyns,  Koos du Plessis, Chris Barnard, Nick Taylor en Fran Marks van Stanayn Records tydens die oorhandiging van die goue plaat vir Skadu’s teen die muur, Koos se eerste langspeelplaat, in 1979. (FOTO: Martin Lane)

Nederige digter-sanger sou 75 geword het

“Koos se grootste gawe was sy bedrieglike eenvoud,” het sy skoonseun die musikant Andries Bezuidenhout 25 jaar ná sy dood gesê. “Om lirieke te skryf wat op die oppervlak eenvoudig lyk, maar as jy weer en weer daarna luister, kom jy agter dat daar baie vlakke van betekenis is.

“Wat kan vandag se liedjieskrywers by Koos leer? Skryf en skryf weer, en skryf dit dan weer oor, en weer en weer, tot dit perfek is. En aan die einde moet dit steeds spontaan klink. Dis ware vakmanskap.”

Koos_met_kamera

Koos du Plessis het tussen 1966 en sy dood in 1984 by vier koerante van die destydse Afrikaanse Pers en toe Perskor gewerk. (FOTO: Irma du Plessis)

Jacobus Johannes du Plessis is op hierdie dag in ’n Doppergesin op Rustenburg gebore. Hy het grootgeword op Springs, aan die Hoër Seunskool Hugenote gematrikuleer en met ’n onderwysbeurs aan die Normaalkollege in Pretoria studeer. Later het ’n B.A. in Afrikaans aan Tukkies en ’n honneursgraad in Afrikaans-Nederlands aan Wits gevolg.

In 1966 het hy as joernalis by Die Vaderland begin werk. Ná sy huwelik met Mornay, dogter van die AGS-pastoor Justus du Plessis, het hulle in Amanzimtoti gaan woon toe Koos by Die Nataller begin werk het, maar in 1971 keer hulle terug na die Goudstad, waar hy hom opnuut by Die Vaderland se redaksie aangesluit het.

Koos Doep

Jare ná sy dood het sy vrou vertel: “Dit het hom lank geneem om ’n liedjie te skryf; hy het jare aan van sy liedjies gewerk voor hy tevrede was.” (FOTO: Media24)

In 1972 verhuis hulle Pretoria toe nadat Koos ’n aanstelling by die nuwe dagblad Oggendblad gekry het. Gedurende die volgende paar jaar is hul dogters, Irma, Karien en Karla, gebore. Die gesin het in Centurion gewoon, waar Koos lidmaat was van die Gereformeerde Kerk Wierdapark.

Ná meer as ’n dekade lange verbintenis met Oggendblad in verskeie hoedanighede, sluit dié dagblad sowel as Hoofstad in 1983 en gaan werk Koos by Die Transvaler. Daar het hy gebly tot sy dood in die vroeër oggendure van 15 Januarie 1984, toe hy in sy Volkswagen-Kewer op pad na Nick Taylor verongeluk.

Koos kamerasku.jpg

Koos was uiters kamerasku. By die Afrikaanse Musiekfees op Vanderbijlpark in 1982 het hy sy bes gedoen om Rapport se fotograaf te vermy. (FOTO: Rapport)

“Koos Doep, soos almal hom geken het, was by uitstek die man wat die krag en skoonheid van goeie woorde in Afrikaanse lirieke beklemtoon het,” skryf Danie C. Pretorius in 1998 in Musieksterre van gister en vandag. “As koerantman by uitnemendheid het hy deur sy musiek uiting gegee aan sy liefde vir die Afrikaanse taal.”

R-11307216-1513874570-4783.jpeg

Skadus’s teen die muur was die eerste van sy drie album-uitreikings.

Wat hier volg, is uittreksels uit Pretorius se beskrywing van Koos se musiek en geaardheid:

Met sy praterige manier van sing was Koos Doep nie ’n “groot” sanger nie, maar hy het met sy lirieke daarvoor vergoed. Met die jare het Koos sy liedjies vir homself geskryf, en platemaatskappye het nie daarin belanggestel nie omdat dit na hulle mening nie kommersieel genoeg was nie.

Gode sy dank dat iemand wel in sy werk belanggestel het. Dit was Nick Taylor, wat die insig gehad het om Koos se liedjies in sy huisateljee op te neem, sy musiek te verwerk en te produseer.

Nick het Koos se eerste langspeler, Skadu’s teen die muur, met treffers soos “Kinders van die wind”, “As jy my kon volg”, “Sprokie vir ’n stadskind”, “Skielik is jy vry”, “Herman” en die titellied, “Skadu’s teen die muur”, in 1979 opgeneem.

Koos Doep 2.jpg

“Sy ma was een van sy grootste ondersteuners,” het Mornay vertel, “en ons het altyd vir hom gesê sy liedjies was fantasties, maar dat hy nie moet drome hê dat dit gaan verkoop nie. Hy het dan altyd gesê hy gee nie om wat ons sê nie; hy skryf dit in elk geval net vir homself.” (FOTO: Media24)

Sy tweede album was ’n waardige opvolger. Benewens die titellied, “As almal ver is”, het hy ook sy drie talentvolle dogters, Irma, Karien en Karla, wat hulle pa se groot trots was, in liedjies besing. Sy liefde vir sy tuisdorp Springs is besing in “Herinneringe aan Springs”, terwyl “Boshoek” opgedra is aan die familieplaas Boshoek (in Noordwes), waar hy as kind graag gekuier het.

Met sy derde album, Herbergier, het Koos se lirieke weer eens tot hulle reg gekom met delikate komposisies soos “Hier’s ons almal tesaam”, “Spore op die maan”, “Koue vuur”, “Skimme” en ‘Herbergier”. Die liedjie “Mornay” het hy aan sy vrou opgedra.

Koos se boesemvriend, Nick Taylor, het met sy verhuising na die Kaap in 1995 nege “nuwe” Koos du Plessis-liedjies ontdek wat hy op band gehad het, en ná die verwerking daarvan het Trio-plate dit op ’n CD, Die vierde horison, uitgereik.

Koos du Plessis.jpg

“Koos het hom nooit aan tyd gesteur nie,” het sy studentevriend en woonstelmaat Douglas Davis jare later vertel; “hy sou selfs op kollege mense in die middel van die nag wakker maak om te gesels.”

As kunstenaar het Koos een groot vyand gehad: hyself. Eerstens was hy sku, en tweedens het hy nie daarin belanggestel om ’n “kommersiële kunstenaar” te word nie. Hy was heilig op sy liedjies en wou nie hê dat enigeen daaraan peuter nie.

Platemaatskappye wou sy liedjies meer “kommersieel aanvaarbaar” maak; hy het volstrek geweier. Dit verklaar waarom ’n liedjie soos “Kinders van die wind” langer as 10 jaar in ’n laai bly lê het voordat die televisieregisseur Katinka Heyns dit per abuis “ontdek” het as temaliedjie vir haar reeks Phoenix en Kie.

’n Suksesvolle platekunstenaar kan eenvoudig nie ’n bestaan voer sonder die nodige publisiteit nie, en verhoogoptredes is essensieel. Koos het albei verpes. Maar ten spyte van sy skugterheid was Koos Doep baie gewild by sy kollegas en kennisse. Hy het graag vir sy vriende in kleiner groepe gesing. Onderhoude hey hy nie sommer toegestaan nie.

“My liedjies,” het Koos altyd gesê, “hulle praat namens my. Wat ek wil sê, sê ek daar. Trek hulle uitmekaar, en skryf oor hulle. Wat myself betref, net dit: Ek is ’n doodgewone ou.”

Mornay.jpg

Koos se weduwee, Mornay, einde 2017. (FOTO: Facebook)

Almal wat hom goed geken het, kan vertel dat hy ’n ware poetsbakker was en ’n fyn humorsin gehad het. Hy was ’n skerpsinnige mens wat in elke situasie die humor kon raaksien. Hy moet dus nie bloot op grond van sy musiek as ’n sombere of swartgallige kunstenaar beoordeel word nie.

Altyd gereed met ’n kwinkslag, het hy sy kollegas by Oggendblad en later by Die Transvaler dikwels laat skater van die lag. Vir jong kunstenaars het hy ook alles veil gehad, en het belowende talent probeer ontgin waar hy kon.

karla.jpg

Sy dogter Karla en haar kroos, begin 2015. (FOTO: Facebook)

“My pa het gedoen waarvoor hy lief was,” haal Ilza Roggeband vir Karla in haar boek 50 Stemme (2009) aan. “Daar was nie vir hom ’n groter doel agter dit alles nie. Hy het net gedoen wat sy hart vir hom gesê het om te doen. Ek dink as iemand vandag vir hom sou vra wat hy vir Afrikaans gedoen het, sou hy net sy kop geskud het.”

Mornay meen sy grootste bydrae was “dat hy verskriklik mooi Afrikaanse lirieke geskryf het. Wat hy geskryf het, het tot elke mense gespreek”.

Gebed

Laat my nooit die grond verlaat nie

Laat my in U skadu bly

Gee dat elke aardse vreugde en vrees

Eind’lik nietig word vir my

 

Elke afdraai paadjie ken ek

Elke keer het ek verdwaal

Elke keer het U my iewers kom haal

Maak dit Heer die laaste maal

 

Elke dag is ’n gedagte

Elke kamer net gehuur

Elke aardse droom van rykdom en roem

Net ’n skadu teen die muur

 

Wat ek is, is net genade

Wat ek het is net geleen

Eind’lik smag ek na U waters van rus

Lei my Heer vanaand daarheen


Trekos

3 thoughts on “10 Mei 1945 | Koos du Plessis gebore

  1. Ek kry trane in my oë.. my gemoed skiet vol.. Swaer Koos nooit persoonlik ontmoet nie.. maar my seun en Karla het vir ons die drie pragtigste kleinkinders, Katryn, (Kobus) Koos du Plessis Reyneke en Lenka gegee..

    Gister was Morne se verjaarsdag saam met my ma.. en vandag Swaer Koos s’n.

    Gebed en Somerkersfees is twee van my mees hartroerende kunsliedere…

    Koos Reyneke

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s