17 Mei 1955 | Dr. Theuns Eloff gebore

Theuns Eloff.jpg

Dr. Theuns Eloff. (FOTO: NWU)

Akademikus ’n direkte nasaat van Paul Kruger

Dr. Theuns Eloff is ’n Suid-Afrikaanse akademikus en direkteur van die FW de Klerk-stigting.

Theuns Eloff, wat op Potchefstroom gebore is en aan die Hoërskool Gimnasium gematrikuleer het, stam af van pres. Paul en Gezina Kruger se dogter Gesina Susanna Frederika Willemina (gebore 7 Junie 1855), wat getroud was met Theunis Eloff (gebore 23 Desember 1852).

Gimmies st 10 c 1971.jpg

Die Hoërskool Gimnasium se st. 10C-klas, 1971. Theuns Eloff is die seun wat links staan.

Eloff het eers ’n B.Jur. aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO en daarna sy graad in die teologie in 1980 met lof verwerf. Hy het drie jaar lank in die studenteraad gedien en was voorsitter van die Afrikaanse Studentebond in 1979.

Hy was ’n medeopsteller van die Koinonia-verklaring en ’n stigterslid van die nierassige politieke studenteorganisasie Polstu. Dis in sy ouers, prof. Daan en Cila Eloff, se sitkamer op Potchefstroom gestig, merendeels om die ASB as studentekultuurorganisasie te behou en politiek van die dag elders te bespreek. Tydens sy twee jaar nasionale diensplig het hy sy meestersgraad in die teologie verwerf, weer met lof.

Sy eerste en enigste gemeente was die Gereformeerde Kerk Pretoria-Brooklyn, van 1983 tot 1989. In dié tyd het hy sy Th.D. verwerf met ’n proefskrif oor “Regering, regverdigheid en rasseklassifikasie”.

Theuns netwerk 24.jpg

Dr. Eloff word 63 op 15 Mei 2018. (FOTO: Netwerk24)

Ná die probleme wat hy hom in 1987 op die hals gehaal het weens sy insluiting in die groep Afrikaners wat in Julie daardie jaar met die ANC in Dakar beraadslaag het, het hy die bediening twee jaar later verlaat en aangesluit by die Consultative Business Movement, waarvan hy in 1990 uitvoerende direkteur geword het.

Hy was betrokke by die beplanning van die Nasionale Vredeskonferensie, wat in September 1991 gelei het tot die ondertekening van die Nasionale Vredesooreekoms. By Kodesa het hy aan die hoof gestaan van die proses- en sekretariële dienste en daarna van die administrasie van die veelparty-onderhandelings.

Theuns-Eloff.jpg

Dr. Eloff is ’n gewilde spreker. (FOTO: Kerkbode)

Hy was mederedakteur van twee boeke, Managing Change, en Building a Winning Nation – Companies and the RDP, en het talle artikels geskryf oor die rol van die burgerlike samelewing in konflik, fasilitering en mediasie. Tot Mei 1994 was hy adjunk- uitvoerende direkteur van die Uitvoerende Oorgangsraad.

In Februarie 1995 is Eloff aangestel as hoofbeampte van die National Business Initiative (NBI). Onder sy leiding het die NBI onder meer fondse van R1 miljard aangewend om die Saketrust en Sake teen Misdaad op te rig.

Hy het ook gedien in die Ekonomiese Adviesraad van die provinsie Noordwes en die raad van Sake teen Misdaad en die Sentrum vir Geskiloplossing. Aan die Universiteit van die Witwatersrand het hy lesings aan M.B.A.-studente gegee.

Theuns Eloff groep.jpg

Dr. Eloff (vyfde van links) op Somerset-Wes in Mei 2015 aan die vooraand van sy 60ste verjaardag. Saam met hom is (van links) Nic de Jager, Leon van Nierop, Franz Marx, Suzette Eloff, June Seymour en Herman Binge. (FOTO: Facebook)

In Januarie 2002 is hy aangestel as visekanselier van sy alma mater. Hy het ’n nuwe bestuursfilosofie ingevoer en ’n groot rol gespeel in die samesmelting van die verskillende dele wat die Noordwes-Universiteit (NWU) geword het. In Mei 2004 is hy aangestel as visekanselier van die NWU.

Eloff het talle eerbewyse ontvang ter erkenning van sy rol in die onderhandelingsproses: die Junior Chamber of South Africa se prys as een van die vier uitsonderlike jong Suid-Afrikaners van 1994, die Harvard Business Club se staatsman van die jaar-prys in 1994, die Junior Chamber International se 10 uitsonderlike jong mense ter wêreld in 1995 en insluiting in die Wêreld-Ekonomiese Forum se 100 wêreldleiers vir môre in 1996.

In September 2015 is hy as buitengewone professor aan die Potchefstroomse Besigheidskool aangestel. Hy is nou voorsitter van Astral Foods, Dagbreek Trust en die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Op 1 Julie 2016 het hy uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting word.

Eloff het sy vrou, Suzette, op die Puk ontmoet en hulle het twee dogters en ’n skoonseun. Hulle is oupa en ouma van drie dogtertjies.

Facebook-kommentaar

Pieter Louw

Pieter Louw My oorlede broer, Chris was ook deel van die groep Afrikaners wat die ANC in Dakar ontmoet het. My studiejare op PUK het met Theuns s’n oorvleuel en hy was baie jonk toe hy begin studeer het. Hy het eers in sy 4de jaar vir SR gestaan en ek het die debat bygewoon waar hy die stryd teen ander kandidate moes voer wat hy natuurlik met vlieënde vaandels geslaag het. Daardie jare was ek net bewus van sy prestasies op die rugbyveld en het na my studiejare in die media kennis geneem van die buitengewone rol wat hy as studenteleier begin speel het.

One thought on “17 Mei 1955 | Dr. Theuns Eloff gebore

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s