27 Junie 1946 | Ds. Jopie Erasmus sterf

professore_en_studente_van_die_teologiese_skool_potchefstroom_1941.jpg

Professore en studente van die Teologiese Skool Potchefstroom, 1940. Eerste ry: J.J.S. Venter, J.F. Erasmus. Tweede ry: prof. S. du Toit, prof J.D. du Toit (Totius), prof. C.J.H. de Wet. Derde ry: P.J. Coetzee, P.J. Venter, D.C.S. van der Merwe, L.J. Botha, G.C.P. van der Vyver, S.C.W. Duvenage.

Tragiese einde van ywerige jong sendingpredikant

Ds. Jopie Fourie Erasmus was vier jaar lank sendingleraar van die Gereformeerde Kerk op die sendingstasie De Hoop tot sy dood in ’n skietongeluk.

jopie_fourie-e1530044024239.jpg

Jopie Fourie, na wie ds. Erasmus genoem is, is op 20 Desember 1914 in die ouderdom van 36 gefusilleer vir sy deelname aan die Maritz-rebellie. Ds. Erasmus was  vyf jaar jonger ten tyde van sý skietdood in ’n jagongeluk.

In sy lewensberig in die Almanak van 1947 skryf ds. J.V. Coetzee: “’n Baie swaar slag – ons kan byna sê ’n ramp – het die Gereformeerde Kerk getref aan die einde van Junie 1946, toe wyle ds. J.F. Erasmus, missionêre leraar op die sendingstasie (De Hoop), deur ’n tragiese geweerongeluk die lewe gelaat het in die ouderdom van nog geen 32 jaar nie.

“Ongeveer vier jaar lank het die jong broeder op die sendingveld van die Gereformeerde Kerk in die Soutpansberge gearbei waar hy die grondslae van ’n nuwe sendingterrein heg en stewig gelê het.

“Plotseling het hy heengegaan in die bloei van sy lewe – ’n man van wie ons nog sulke hoë verwagtings gekoester het.

“Tereg het ds. J.A. Schutte, wat die begrafnis op Brits gelei het, dan ook gespreek oor Ps. 77:20: ‘O God, u weg is in die see en u paaie in groot waters en u voetstappe is nie te beken nie.'”

Herkoms en opleiding

Ds_JF_Erasmus.jpg

Ds. Jopie Erasmus tydens sy bevestiging op Burgersdorp, 1942.

Jopie Erasmus is gebore op 17 September 1914 in die distrik Bethlehem, OVS, as die tweede seun van Pieter Johannes Erasmus en Emmerentia Cornelia Pieterse. Ten tyde van sy geboorte was sy vader, wat in 1914 met die gewapende protes (Maritz-rebellie) meegegaan het, op kommando.

Sy vader is destyds gevange geneem en het ’n lang tyd in die gevangenis deurgebring. Vandaar dat Jopie Erasmus al byna twee jaar oud was voor hy gedoop is. Hy het die naam Jopie Fourie Erasmus gekry, genoem na kmdt. Jopie Fourie wat op 20 Desember 1914 in die Pretoriase gevangenis vir sy deelname aan die opstand gefusilleer is.

Fourie het sy eerste skoolonderwys ontvang op die skool van Vegkop, distrik Heilbron, waar sy ouers later gewoon het. Van daar het hulle getrek na Benoni. Daar was hy leerling van die Brandwagskool. Nadat hy die laerskool deurloop het, het hy die Voortrekkerskool op Boksburg besoek, waar hy in 1932 gematrikuleer het. Ná die matrikulasie-eksamen het hy ’n jaar lank gaan werk.

Begin 1933 het hy na die PUK vir CHO gegaan, waar hy sy graad geneem het. Hy het gely aan sy een been en dit het hom baie in sy studie gehinder. Terwyl hy in Potchefstroom studeer het, het hy ’n ernstige operasie aan sy been ondergaan. Einde 1941 het hy sy kandidaatseksamen in die teologie afgelê aan die Teologiese Skool. Hy het sy studie spesiaal ingerig met die oog op sendingwerk.

Sendingkommissie_van_die_Gereformeerde_kerke_Burgersdorp_en_Reddersburg_by_die_bevestiging_van_ds_JF_Erasmus,_25_April_1942.jpg

Die Sendingkommissie van die Gereformeerde Kerke Burgersdorp en Reddersburg by die bevestiging van ds. J.F. Erasmus op 25 April 1942. Voor: A.H Coetsee, dr. S.J. van der Walt, ds. J.F. Erasmus, ds. A.S.E Yssel. Agter: W.A du Plessis, P. Kruger, P.C. Pretorius, M. van Rooy.

Beroep as sendingpredikant

Die kerkrade van Reddersburg en Burgersdorp het in Oktober 1941 ’n kombinasie gevorm met die oog daarop om ’n sendingleraar na Noord-Transvaal te stuur. Nadat die stukke in orde gebring is, is prop. Erasmus beroep.

Hy het die beroep aangeneem en op die Burgersdorpse kerkraad se vergadering van 27 Maart 1942 is besluit om ’n sendingkommissie te benoem wat namens die kerkraad aandag kon skenk aan sendingsake en saam te werk met die sendingkommissie van Reddersburg.

Koor sing op Siloam by die sendeling se huis 1963.JPG

’n Koor sing op Siloam by die sendeling se huis, 1963.

Prop. Erasmus is op 25 April 1942 op Burgersdorp in die amp bevestig deur ds. A.S.E. Yssel van Reddersburg en sou later op Reddersburg verwelkom word. Daarmee het die sendingaksie waarvoor wyle ds. Dirk Postma so geywer het, eindelik sy vaste loop verkry, en van toe af sou die kerkraad gereelde rapporte van die sendingwerk kon behandel.

Ds. Erasmus moes met behulp van sy sendingkommissies en in oorleg met die deputate van die kerkverband ’n nuwe sendingstasie uit die grond uit opbou; vanselfsprekend moes baie probleme oorkom moes word. Gaandeweg het onder sy leiding die aksie te De Hoop egter gevorder en het dit geskyn dat die vrugte van harde arbeid gesmaak sou kon word.

GK_Brits_Mei_1942_eerste_kerkgebou_word_in_gebruik_geneem.jpg

Die eerste kerkgebou van die Gereformeerde Kerk Brits is in Mei 1942 in gebruik geneem. In dié kerk is ds. Erasmus in Februarie 1943 getroud, en middel 1946 daaruit begrawe.

In die sendingveld

Ná bevestiging is hy na Siloam, waar hy ’n tyd lank saam met ds. Hugo du Plessis gearbei het, voor hy gaan woon het op die nuwe sendingterrein De Hoop. In Februarie 1943 is hy in die Gereformeerde kerk op Brits met Catharina S. Ras getroud en saam met sy jong vrou het hy homself met volle bors op die sendingarbeid toegelê. ’n Mooi begin is gemaak en die aanvoorwerk van die nuwe arbeid is goed en deeglik gedoen.

Evangelis James Ndleve van De Hoop.JPG

Evangelis James Ndleve van De Hoop.

Ds. Erasmus is gevra om self ’n geskikte plek te soek waar hy en sy eggenote sou woon tot die deputate in oorleg met hom kon vasstel waar hy hom in die toekoms sou vestig.

Op 7 November 1943 het die deputasie by monde van dr. J.P. Jooste gerapporteer dat besluit is om die plaas De Hoop van ’n sekere mev. Terblanche aan te koop. Die plaas was 347 morge, waarvan 47 morge deur die verkoper as ’n geskenk aan die kerkverband met die oog op die sending gegee is.

Verskillende moeilikhede en probleme het hulle voorgedoen. Ds. Erasmus moes byvoorbeeld eers die taal van die Bawenda aanleer; daar was nie die nodige geld vir die buiteposte wat ’n wesentlike deel van die sendingarbeid is nie; die saak van die werkmetode en die verhouding tussen die sendingkommissie en Sinodale Deputate moes nog in die reine gestel word. Wie sou byvoorbeeld die koste vir geboue dra? Die watervoorsiening by De Hoop was ook nie in orde nie.

Op 22 Julie 1944 is vir die eerste keer op De Hoop vergader. Daar was teenwoordig: dr. S.J. van der Walt en br. P. C. Pretorius (namens sendingkommissie) en di. W.J. Snyman en Izak Krüger (deputate van die Partikuliere Sinode Kaapland en OVS). Hulle het onder meer besluit:

Siloam onbekend 2

Op Siloam, datum en geleentheid onbekend.

“‘n Skool te De Hoop op te rig; Andries die status van oefenaar te gee (hy was reeds lid van die kerk sedert 1912); te laat boor vir water; die land suid van die huis en vrugtebome aan ds. Erasmus te gee vir bewerking; ’n deel van die plaas aan die naturelle te verhuur vir weiding vir hulle vee; ’n kliniek daar te stel.”

Mev. Erasmus het reeds begin met ’n handwerkklas. Die buiteposte was uitmekaar en party verafgeleë en kon net met moeite en opoffering bereik word. Daar was ook ’n groot tekort aan helpers en onderwysers wat onontbeerlik is vir suksesvolle bearbeiding. Vergeefse pogings is aangewend om van die Stofberg-gedenkskool (van die NG Kerk) helpers te kry.

Die eerste hospitaalgebou op Siloam.JPG

Die eerste hospitaalgebou op Siloam.

Op 21 Maart 1945 is gerapporteer dat reeds ’n begin gemaak is met die oprigting van ’n kerkgebou op De Hoop. Op die hoeksteen staan: “Gereformeerde Sendingkerk De Hoop Ef. 2:20-21.” Die teksvers lui: “(G)ebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in Wie die hele gebou saamgevoeg, verrys tot ’n heilige tempel in die Here.”

Ds. Erasmus kon met die seën voortgaan, hoewel die arbeid baie vertraag is deurdat dit so lank geduur het voor hy ’n woning kon kry. Hierby was van die sendingposte in reëntyd glad nie bereikbaar nie.

Gebrek aan helpers en onderwysers asook goeie geboue het nog verder die arbeid bemoeilik. Op party plekke was die groot stryd nie teen die heidendom as sodanig nie, maar teen die verheidenste Christene en ander sendinggenootskappe.

Tog het onder dit alles die werk in die nuwe sendingveld Karmel vooruitgegaan. Daar was groot moontlikhede vir die sendingwerk vanaf De Hoop.

Blinde pasiente  word gelei na Siloam 1961.JPG

Blinde pasiënte word gelei na Siloam, 1961.

Sy skielike en tragiese dood

Van ds. Erasmus het die Kerk groot verwagtings gekoester. “Maar,” skryf ds. Coetzee, “die wil van die Here was anders. Plotseling het hy ons ontval. ’n Jong weduwee met twee kindertjies het agtergebly.”

Ds. Erasmus het verongeluk met ‘n jagtog agter die Soutpansberge, ver van sy huis af. Saam met ‘n paar vriende en familiebetrekkinge het hy gaan jag. Hulle het die middag op die plaas aangekom en kamp opgeslaan. Daardie aand het hulle gaan skiet.

Toe hulle uit die motor klim, het een van die geselskap ‘n patroon in sy haelgeweer gesit. Onverwags het die skoot afgegaan en hom vol in die dy en die ingewande getref.

Dr. S.J. van der Walt van Burgersdorp het in Die Kerkblad die volgende oor sy dood geskryf: “Hy het dadelik besef dat hy dit nie kon oorlewe nie. Terwyl sy vriende hom ondersteun het, het hy ’n gebed opgestuur tot sy God en sy siel aan Gods genade opgedra.

“Hy is toe vervoer na die plaaswoning daar naby, waar hy kalm en vol geloofsvertroue sy einde afgewag het. Hy het allerlei boodskappe vir sy dierbares nagelaat en onder meer ook die begeerte uitgespreek dat sy tweejarige seuntjie eendag vir predikant moes leer.

“Verder het hy alles gereël in verband met sy begrafnis en ook gesê waar hy begrawe moet word. Die dokter het uiteindelik opgedaag van Louis Trichardt af. Maar toe was sy kragte reeds so verswak dat hy beswyk het, omtrent drie uur nadat hy die skoot gekry het.

“Die volgende môre het die geselskap aangekom by sy niksvermoedende vroutjie op De Hoop. Toe moes sy die verpletterende boodskap hoor. So verbysterend en skokkend was die berig dat al die bediendes en naturelle van die huis af weggehardloop het en eers later teruggekeer het.”

Ds. Erasmus is begrawe vanuit die Gereformeerde Kerk Brits, dieselfde kerkgebou waarin hy ‘n paar jaar vantevore in die huwelik bevestig is deur een van sy ou studiemaats, ds. B.R. Krüger van Springs. Hy rus in die familiekerkhof van die Ras-familie naby Brits.

Sy weduwee, Trienie, is met Peet Roos getroud en het lank op Orkney gewoon. Sy seun, Pieter, het nie ’n predikant geword nie, maar in ’n ingenieursrigting studeer. Ds. Erasmus en sy vrou het ook ’n dogter, Marina, gehad. Uit Trienie se huwelik met Peet Roos is ’n dogter, Christa, gebore.

Facebook-kommentaar

Neels Niesing

Neels Niesing Tydens my hoërskooljare, in die vroeë 1970’s, was ek tydens die wintervakansie saam met ‘n groep studente op De Hoop. Ons was toe lidmate van GK Waterkloofrand, wat betrokke was by die sending op De Hoop, ds vd Walt was die sendeling. Ek onthou dat die plaaslike poskantoor se naam was”Sumsare” (omgekeerd Erasmus). Sou dit na ds Erasmus vernoem wees?

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s