28 Junie 1910 | Susan Strijdom gebore

Susan_Strydom.jpg

Hierdie portret van mev. Susan Strijdom verskyn by haar groeteboodskap aan die Gereformeerde susters voorin hul Gedenkalbum van 1959.

Premiersvrou ’n Gereformeerde pastoriedogter van Aliwal-Noord

Susan Strijdom was Suid-Afrika se premiersvrou van einde November 1954 tot met haar man, adv. J.G. Strijdom, se dood in die amp op 24 Augustus 1958. Sy was tussen 1910 en 1983 (toe die eersteministersamp afgeskaf is) die enigste gebore Dopper van die agt premiersvroue. Al ander pastoriedogter was Elize Botha.

’n Tehuis vir bejaardes, die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) se Susan Strijdom-tehuis in Colbyn, Pretoria, is in 1966 na haar genoem. Sy het self ook in die politiek belanggestel en meermale as spreker in sy plek opgetree.

Ds_WJ_de_Klerk_en_sy_gesin.png

Ds. De Klerk, sy vrou Lettie en gesin. Van links: Onbekend, Aletta (1907), Maria (1904), onbekend, (later sen.) Johannes (Jan, 1903), Jacobus (1912), onbekend (op ma se skoot), Willem (1906), Susan (1910) en Hendrik (1915).

Herkoms

Susanna de Klerk se vader, ds. W.J. de Klerk, wat predikant was Aliwal-Noord ten tyde van haar geboorte, was drie keer getroud: die eerste keer met Susanna Catharina Grobler van Venterstad (die moeder van Barend Jacobus); die tweede keer met Aletta Johanna (Lettie) van Rooy (die moeder van al ds. De Klerk se kinders behalwe die oudste en jongste; oorlede aan die griep), dogter van sen. J.C. van Rooy, en die derde keer met Anna Sophia Coetsee (moeder van Helenius). Uit dié huwelike is 12 kinders gebore.

Van die kinders uit ds. De Klerk se tweede huwelik, was Johannes (Jan) ’n kabinetsminister, later president van die Senaat en op ’n keer amper staatspresident. Ook van ds. De Klerk se kleinseuns (Susan Strijdom se broerskinders) het sy liefde vir die politiek geërf. Wimpie de Klerk het ook Gereformeerde predikant geword en verder bekendheid verwerf as redakteur van twee koerante, professor en politieke raadgewer.

Sy ander kleinseun, FW de Klerk, het ’n regsgeleerde geword voor hy tot die politiek toegetree het. Hy was later hoofleier van die Nasionale Party en eindelik staatspresident van Suid-Afrika.

Susan_Strijdom_op_besoek_aan_Suidwes-Afrika,_1955.jpg

Op besoek aan Suidwes-Afrika in September 1955 saam met haar man.

Lewensloop

Adv. Strijdom was eers getroud met die aktrise Margaretha van Hulsteyn, maar hulle het binne ’n jaar ná die huwelik geskei. Susan de Klerk was 17 jaar jonger as haar man. Hulle het mekaar in Februarie 1929 op Nylstroom ontmoet, waar sy musiekonderwyseres was, en is in 1930 getroud.

Op Nylstroom het sy musieklesse gegee vir onder andere die kinders van ds. J.P. van der Walt en sy vrou, Miemie, pastoriepaar van GK Waterberg. Toe adv. Strijdom in 1958 in die amp oorlede is, het sy in die betreklik jeugdige ouderdom van 48 ’n weduwee geword en dit langer as 40 jaar gebly.

Susan_en_Hans_Strijdom_tydens_die_1958-verkiesingsveldtog.jpg

Susan en adv. Hans Strijdom tydens die 1958-verkiesingsveldtog, enkele maande voor sy dood.

Ná adv. Strijdom se dood het die gedagte ontstaan om ’n gedenkteken ter nagedagtenis aan hom in Pretoria op te rig. ’n Komitee is onder voorsitterskap van S.G.J. van Niekerk, administrateur van Transvaal, gestig. Coert Steynberg was die beeldhouer van die kopstuk en Danie de Jager van die perdegroep.

Die hele opset is uitgevoer onder toesig van die argitekte Roelf en Hans Botha. Nadat die onthulling van die beeld ’n tyd lank vertraag is, het Susan Strijdom dit op 31 Mei 1972 onthul, terwyl premier B.J. Vorster as geleentheidspreker opgetree het.

Twee kinders is uit die huwelik gebore: Johannes Gerhardus en Estelle (1936, getroude van Crowson, oorlede 2009).

Adv_Hans_Strijdom_en_sy_gesin,_Johannes_Gerhardus,_Susan_en_Estelle.jpg

Mev. Strijdom en haar gesin: (van links) Johannes Gerhardus, Hans en Estelle.

Latere lewe

Ná haar man se dood mev. Strijdom in Pretoria gewoon, eers jare lank in ’n woonstel en van 1984 af saam met ’n groepie vriende in die aftreeoord Harmoniehof in Sunnyside. In Januarie 1999 is sy in Kaapstad op ’n sypaadjie aangeval. Sy moes ’n heupoperasie ondergaan, maar het nooit heeltemal herstel nie en is oorlede in ’n privaat kliniek in Pretoria.

Ná haar afsterwe het ’n kleinseun, Hans Strijdom, haar beskryf as “’n sterk, rustige vrou wat ’n ongelooflike vermoë gehad het om terugslae te hanteer”. Naasbestaandes en vriende het haar onthou vir haar “rustige geaardheid, hartlike glimlag en warm vriendelikheid”.

Adv_JG_en_mev_Susan_JG_Strijdom_voor_Groote_Schuur,_Desember_1954.jpg

Mev. Susan en adv. J.G. Strijdom voor die ampswoning Groote Schuur, 1954.

Haar seun, Johannes Gerhardus (1939–’93), is reeds in 1993 in Lissabon aan ’n hartaanval oorlede sodat sy oorleef is deur haar dogter, drie kleinkinders en ’n agterkleinkind. Sy is langs haar man in die Heldeakker in die ou begraafplaas in Pretoria naby die graf van pres. Paul Kruger begrawe.

Op Nylstroom het die Strijdoms aanvanklik in ’n grasdakhuisie gewoon wat hulle aan die buitewyke van die dorp laat oprig het. Soos die gesin gegroei het, het hulle behoefte ook gegroei. In 1943 is die huis vergroot en in 1948 is die argitek Gerard Moerdyk (’n boorling van Waterberg) genader om die huis te vergroot en die Kaaps-Hollandse fasade te ontwerp.

Adv_Hans_en_mev_Susan_Stijdom,_11_September_1957.jpg

Dirk Richard skryf by dié foto, wat verskyn in sy boek Bid en droom, ’n koerantman het albei nodig: Toe ek advokaat Strijdom begin 1958 op kantoor gaan besoek het, het hy laggend gesê: ‘Die Engelse pers wil my in die graf hê, maar hulle sal lank moet wag.’ Op 24 Augustus 1958 was hy dood. Op dié foto, wat op 11 September 1957 geneem is, kan ’n mens reeds die tekens van bloedkanker sien waaraan hy minder as ‘n jaar later oorlede is.

In 1958, ná adv. Strijdom se dood, het die Transvaalse provinsiale administrasie die huis oorgeneem. In 1975 is dit tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar en as museum ingerig waarna die huis professioneel gerestoureer is.

Meubels en ander gebruiksartikels van die Strijdom-gesin asook persoonlike besittings van adv. Strijdom maak die museumskat uit. Daar is ook ’n lewensgetroue borsbeeld van hom, gekap uit ’n hardekoolstomp uit sy geliefde Bosveld.

Gelukwensing Susan Strijdom.jpg

Mev. Strijdom se gelukwensing aan die susters van die Gereformeerde Kerk, waarin sy grootgeword het, met die oog op die GKSA se eeufees in 1959. Dit verskyn so in die Gedenkalbum 1859–1959 Die Gereformeerde Vrou.

Haar herinnerings

In 1973 het Susan Strijdom haar herinnerings aan haar man soos volg gedeel in Die Nasionale boek, 1948–1973:

“My eerste geskenk van Hans Strijdom sal ek nooit vergeet nie – ’n bos pragtige rose. Hy was ’n jong prokureur op Nylstroom en ek was musiekonderwyseres aan die plaaslike skool. Die tyd: Februarie 1929. Ons het mekaar, vir die eerste keer, op ’n aand by vriende ontmoet en die volgende oggend was dit daar: Die pragtige ruiker rose uit sy tuin, waarvoor hy so lief was.

Susan_Strijdom_op_haar_man,_adv_JG_Strijdom,_se_begrafnis,_Augustus_1958.jpg

Mev. Strijdom word deur ’n verpleegster ondersteun op haar man se begrafnis, Augustus 1958. Haar broer sen. Jan de Klerk, die vader van Willem en FW de Klerk, staan regs van haar. Dis moontlik haar seun, Johannes Gerhardus, wat regs staan.

“Ek sal daardie rose nooit vergeet nie, want dit versinnebeeld wat ek altyd van my man Hans sal onthou: Te midde van al sy uitmergelende bedrywighede in die politiek – vanaf die jare dertig; ná 1948 as minister in dr. Malan se kabinet en toe, in November 1958, as eerste minister was Hans hartstogtelik lief vir die skone in die lewe, die kunste, maar bowe al musiek.

“Ek onthou nog hoe hy altyd in daardie lang vervloë jare, ná sy politieke studie van die koerante, altyd na Emol se musiekrubriek in Die Burger teruggeblaai het om sy bespreking van nuwe plate te verslind. So het sy plateversameling aangegroei. Tot in die jare toe hy eerste minister was, het ons na elke simfoniekonsert gegaan waartoe die tyd en die geleentheid hom toegelaat het.

“So sal ons wat die naaste aan hom was, ons weg van die honderdduisendes wat hom net in die openbare lewe geken en aangehang het, hom onthou. Geskiedenis, tradisie, die gevoel vir die skone was verstrengel met sy liefde vir sy huis en sy gesin, van wie toenemende openbare eise hom so dikwels weggeneem het.

Adv_JG_en_mev_Susan_Strijdom_se_graf_in_die_Kerkstraat-begraafplaas,_Pretoria-Wes,_foto_deur_Brian_Kaighin,_24_September_2007.jpg

Adv. en mev. J.G. Strijdom se graf in Pretoria-Wes.

“Ná die eerste bos rooi rose, en die twee jaar waarin hy twee aande per week by my kom kuier het (nooit meer nie en dan ook net stiptelik tot tienuur in die aand!) is ons op 14 Januarie 1931 in Fordsburg getroud – Fordsburg, Johannesburg, omdat my vader toe daar predikant was.

“Hans was toe al twee jaar in die parlement, agterbankmaats saam met ’n jong Kapenaar, Paul Sauer. Ons het Kaap toe gegaan en daar het hy my al die skoonhede van die ou Kaap gewys.”

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s