28 Junie 2016 | Ds. Willem Vogel oorlede

Wilem Vogel 2.jpg

Ds. Willem Vogel in 2005 op ’n Anglo-Boereoorlog-toer. (FOTO: Facebook)

Kerk armer weens dood van geliefde predikant

Ds. Willem Vogel was predikant van Okahandja (1982–1985), Welkom (1985–2004) en Cachet van 2004 tot sy dood op hierdie dag. Hy is op 4 Julie op Potchefstroom begrawe.

Ds. Vogel sou drie dae later 60 jaar oud geword het. Hy was bekend in Gereformeerde kringe, redakteur van die jaarlikse Almanak van die GKSA en ook in verskillende hoedanighede betrokke by die GKSA se Administratiewe Buro, waar hy onder meer baie moeite gedoen het om gemeentes aan te moedig om hul agterstallige ramings te betaal.

Ds. Hannes Noëth het op sy sterfdag soos volg op Facebook hulde aan ds. Vogel gebring: “Hierdie vriend van my, ds. Willem Vogel, is vanoggend oorlede. Ek rou saam met sy familie oor ’n wonderlike dienskneg van ons HERE Here wat oorlede is, ons eer sy nagedagtenis en sy kosbare dienswerk. Ek dink met heimwee aan baie studentekampe, sinodes en gesprekke wat ons kon deel. Die GKSA is vanaand armer . . .”

Willem Vogel

Isabel en ds. Willem Vogel. (FOTO: Facebook)

Wat hier volg, is Rob van der Kooy se huldeblyk aan ds. Vogel in die Die Kerkblad van September 2016:

Tydens die troosdiens ná die begrafnis het ds. Ronald Bain, jare lank ds. Vogel se kollega en vriend, opgemerk dat ds. Vogel lief was vir die Bybelboek Jakobus, wat baie klem lê op die waaragtige geloof wat tot uiting in daaglikse dade moet kom – daders van die Woord. Nie dat dit iets nuuts in die Bybel is nie.

Kyk maar na Romeine 2:13 of Matteus 12:33 waar Christus sê dat ’n boom aan sy vrugte geken word (sien ook Matt. 7:16-20, ens.). Maar in Jakobus word hierdie beginsel in beknopte vorm prakties uitgewerk, ook wat betref regverdiging uit die werke (2:21, 22).

Hoe uitgewerk? Dit is die moeite werd om dit op te som, onder meer wat betref vandag se omstandighede waar dit lyk of ongeregtighede al groter en meer word. So lê Jakobus klem op die geringheid (relatiwiteit) van rykdom, en stel dat die ryke soos gras in sy weë sal verwelk (1:11), dat na weduwees en wese omgesien moet word (1:27) en ’n waarskuwing teen ’n verkeerde gedrag van rykes (2:1-6, 16, 17).

En dan ook hoofstuk 5 (vs 1-6) teen onbarmhartige rykes. Jakobus het ook ’n reeks ander sondes uitgewys wat vandag so algemeen is. Soos teen twyfel (1:6-8), teen begeerlikheid (1:14,15), teen toorn, vuilheid, boosheid en die onbeheersdheid van die tong (1:19-26 en 3:1-12), teen diskriminasie (2:1-9), teen selfsug en afguns (3:14-18), wellus en onderlinge stryd (4:1 en 2), teen egbrekers en egbreeksters (4:4), teen hoogmoed (4:6 ev.), teen kwaadspreek van mekaar(4:11-12), teen eedsweer (5:12), teen planne maak pleks van “as die Here wil (4:13-16) en teen weelderigheid en losbandigheid (5:5, 6).

Sophia.jpg

Ds. Willem Vogel (regs agter) se broer, Landman (links agter), het ook predikant in die GKSA geword. Hy is in Julie 2013 in die ouderdom van 61 jaar oorlede. Hul suster, Sophia (regs voor), trou hier met Grandi Theunissen.

Jakobus lê ook klem op die krag van die gebed (5:13-18). En hy sluit sy brief af met die belofte dat een wat ’n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ’n siel uit die dood sal red en ’n menigte sondes sal bedek. Jakobus, wat in Jerusalem gearbei het, het die brief aan die 12 stamme in die verstrooiing gestuur – vandag se kerk oor die hele aarde.

Met net vyf hoofstukke word sy brief beskou as een van die mees praktiese boeke in die Bybel. Soos ’n kommentator dit beskryf: Vir Jakobus was die hoogste toets van iemand se geloof hoe hy optree, die verbintenis tussen wat ons glo en wat ons doen.

Dit alles was maar enkele van die sake wat ds. Vogel by herhaling aan gemeentes en veral aan studente by die Geref. Kerk Cachet oorgedra het. So het hy ook gelewe.

Daardeur het hy waardevolle werk gedoen, want studente kon/moes daarmee gaan werk in die gemeentes waar hulle na hulle studie gaan vestig het – ’n vermenigvuldigingsaksie soos min. Ons eer sy nagedagtenis.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s