1 Julie 1988 | Hester Rossouw oorlede

NG_kerk_Swellendam_2014.jpg

Die kerkgebou van die NG moedergemeente op Swellendam, waar dr. Servaas en mev. Hester Rossouw as predikantspaar van 1930 tot 1944 diep spore getrap het. (FOTO: Burgert Behr)

Dopperdogter word staatspresident se skoonmoeder

Hester Rossouw, die eggenote van die NG predikant dr. Servaas Rossouw en moeder van Suid-Afrika se staatspresidentsvrou Elize Botha, is op hierdie dag ná ’n kort siekte in die oudewrdom van 93 jaar  in Huis Vergenoegd in die Paarl oorlede.

As pastoriemoeder het sy saam met haar man gearbei in die gemeentes Nuwe Kerk van 1920 tot 1921, Senekal tot 1926, Albertinia tot 1930, Swellendam tot 1944 en daarna tot anderhalf jaar voor sy dood op Maandag 11 Junie 1956 in Maitland.

Hester Duvenage is op 26 April 1895 op Middelburg in die Karoo gebore as ’n dogter van mnr. en mev. A.P.C. Duvenage. Ná voltooiing van haar skoolloopbaan is sy na die Universiteit van Stellenbosch, waar sy die hoogste eksamens afgelê het in sang en musiek (klavier en tjello) en haar as onderwyseres bekwaam het. Sy het haar aanstaande in haar studentejare ontmoet terwyl hy besig was met sy voorbereidende studie aan Maties.

Hester Rossouw.jpg

Mev. Hester Rossouw was weduwee van 1956 tot haar afsterwe in 1988.

Nadat Servaas Rossouw vir verdere teologiese studie na die buiteland vertrek en studeer het aan Princeton, die Universiteit van Chicago, in Louisville in Kentucky en die Vrije Universiteit in Amsterdam, het sy op Potchefstroom onderwys gegee.

In 1982 het sy haar herinneringe aan haar jare op Potchefstroom “met ’n vaste handskrif wat veel jonger mense haar van harte sal beny” (volgens die samesteller van Potchefstroom Gimnasium se gedenkboek, 1982) neergeskryf. Daarin het sy onder meer geskryf:

Prof Duvenhage se huis, later gebruik as koshuis . Hv Molen & Esselenstr 216.jpg

Die huis van Hester se broer prof. A.P.C. Duvenage op die hoek van Molen- en Esselenstraat, Potchefstroom, wat later as koshuis gebruik is.

“My broer, prof. A.P.C. Duvenage, het my in Januarie 1915 op Potchefstroom se stasie kom ontmoet. Ek het van Middelburg, Kaap, gekom om ’n betrekking as onderwyseres aan die Laerskool Gimnasium te aanvaar. My broer was nie juis baie opgeruimd nie.

“Die volgende oggend aan ontbyttafel vertel hy, terwyl die trane oor sy wange rol, dat genl. (C.R.) De Wet die vorige aand ’n vergadering in die stadsaal gehou het. Die Sappe het die lig afgeskakel en het hom met tamaties en eiers gegooi.

1912 Voetbalskap Teologiese Skool Potchefstroom A144.jpg

Hester se broer was jare lank afrigter van die Teologiese Skool Potchefstroom se rugbyspan. Dit is hy met die hoed.

“Genl. Smuts wou Duits-Wes verower. Die polisie het my broer vertrou en hom vertel dat hulle die aand om agtuur genl. (J.C.G.) Kemp in hegtenis gaan neem. Happy van der Walt, ’n student, het saam met my broer gegaan om genl. Kemp te gaan waarsku. Hulle het omtrent 20 voor agt by die Kemp-woning aangekom. Genl. Kemp het dadelik weggejaag. Toe Smuts se mense kom, was Kemp al weg . . .”

Haar broer, was ’n meestersgraad in die Kaap behaal het, het aanvanklik die onderwysman Dirk van Rooy opgelei. Hierdie onderwyser het later sy plek ingeneem. Prof. Duvenage was ook burgemeester van Potchefstroom en het saam met sy ander bedrywighede rugby afgerig.

Dr_SH_Rossouw_en_gesin_op_Senekal.jpg

Dr. S.H. en mev. Hester Rossouw toe hy leraar was van die NG Gemeente Senekal met hul twee oudste kinders. Die dogtertjie is Elize, later staatspresidentsvrou, en die seuntjie die latere adv. Servaas Rossouw.

Sy vertel ook dat sy en Dirk van Rooy daardie tyd nog nie belydenis afgelê het nie. Hy het die dominee se vrou gevra om vir hulle voorspraak te doen by die predikant, ds. W.J. de Klerk, grootvader van die opvolger van Hester Rossouw se skoonseun as staatspresident, FW de Klerk.

Hulle het te veel werk gehad met die skoolhouery en kon nie al die vrae vir die belydenis leer nie. “Ons is toe aangeneem,” het Rossouw geskryf, “en toe ons die dag terugry Bult toe (dis waar die “Doppers” gewoon het), het dit begin reën en ons het waternat gereën. Dirk sê toe dis ons straf omdat ons nie vrae wou leer nie.”

Nog ’n herinnering aan haar tydjie op Potchefstroom was aan die onderwysers wat soms na partytjies genooi is waar dit “nie so plegtig gegaan het nie”. Dan was dit prof. Joon van Rooy se lot om vir hulle ’n voorspraak te wees.

Tog het hulle hulleself darem meestal goed gedra. “Ons het dikwels gaan piekniek hou onder die wilgerbome langs die Mooirivier. Ons het toebroodjies en skons saamgeneem en frikkadelle”.

du Toit Wilhelmina as jong meisie (dogter van Totius) 630.jpg

Van Wilhelmina, Totius se dogter wat einde 1920 deur weerlig doodgeslaan is, het Hester Rossouw ’n silwerbakkie as geskenk ontvang toe sy weg is by Laerskool Gimnasium.

Van die bekendes uit haar tyd het sy Munstra, ’n Hollander, as een van die groot figure uitgesonder. “Hy het altyd daarop gestaan dat Afrikaans gepraat moet word. Gretchen – prof. (Ferdinand) Postma se oudste dogter – was by hom in die klas.”

Van die latere minister en president van die senaat, Jan de Klerk, ’n seun van ds. De Klerk, het sy soos volg vertel: “Tydens die griep het mev. De Klerk haar seun, Jan de Klerk, op sy fiets met emmertjies sop na die siek, arm mense gestuur. Sy het die sop in ’n groot kastrolle op twee primusse gekook. Dit was sulke wit emmertjie met deksels.

“Totius, klein van gestalte maar ’n reus in alle opsigte, was stil en bedaard met ’n dierbare vrou en kinders. Hy het altyd gaan stap. Fanus was die oudste seun. Wilhelmina was ’n pragtige dogter. Sy het vir my ’n geskenkie gebring toe ek daar weg is – ’n silwerbakkie.”

Toe Hester Duvenage die geskenkie van Wilhelmina ontvang, sou niemand kon droom dat Wilhelmina op 31 Desember 1920 deur weerlig doodgeslaan sou word nie, enkele weke nadat hul boetie François in die ouderdom van 13 maande op 7 November 1920 oorlede is.

Dr_SH_Rossouw_en_gesin_Swellendam.jpg

Dr. en mev. Rossouw en gesin omstreeks 1944 toe hy predikant was van die NG Gemeente Swellendam. Elize Botha is op die inlas.

Ná haar huwelik het mev. Rossouw 24 jaar lank as lid van die destydse Sensorraad gedien. Sy was voorsitster en presidente van verskeie verenigings, komitees, en verskeie takke van die Vrouesendingbond en die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging.

Sy was lid van die Kaaplandse Blommebeoordelaarsunie en het haar beywer vir die instelling van die Wêreldbiddag vir Vroue in Kaapland.

Sy is oorleef deur twee dogters, mev. Elize Botha en mej. J.C.M. Rossouw van Kaapstad, en ’n seun, adv. Servaas H. Rossouw van Pretoria. Haar oudste seun, Daniël Hendrik Rossouw, is as kind oorlede. Ten tyde van haar dood was daar agt kleinkinders en 10 agterkleinkinders.

Sy is op Dinsdag 5 Julie uit die NG Kerk op Swellendam, waar haar man predikant was van 1930 tot 1944, begrawe.

Naskrif

Dr. Rossouw het massiewe breinbloeding gekry terwyl hy op 13 Desember 1954 besig was met ’n middernagdiens in die NG kerk Maitland.

Sy preek het gehandel oor die verlore seun en sy laaste woorde, terwyl hy sy arms omhoog gehou het, was: “Ek sal opstaan en na my Vader gaan.” Hy was, letterlik en figuurlik, ’n groot man en het hierna die koperpype wat die rooi fluweelgordyntjies om die preekstoel vasgehou het, middeldeur geval.

Later het sy afskeidspreek self geskryf, al kon hy toe nie meer verstaanbaar praat nie. Hy was wel in die kerk teenwoordig die dag waarop ’n ander predikant die preek namens hom moes lewer, maar dié het nóg sy gekose teks nóg sy preek gebruik.

Die teks was uit Hooglied 4:6: “Totdat die aandwind waai en die skaduwees vlug, sal ek gaan na die mirreberg en na die wierookheuwel.”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s