13 Julie 2012 | Ds. Arie van der Walt oorlede

1957 Vierdejaarstudente aan die TSP 537.jpg

Arie van der Walt se klas vierdejaarstudente aan die Teologiese Skool Potchefstroom, 1957. Voor: A.J du Plessis, F.J. Labuschagne, J.J. Venter, J.H. Coetzeee, J.V.V. du Plessis. Agter: A.Z. Pelser, G. du Plessis, A. van der Walt, G.H. Buys, P.J. Steyn, W.J. Maritz, J.T.C. Snyman.

‘’n Seder sterk en skoon’ ontslaap

“Ds. Arie van der Walt was eintlik nog jonger as die bykans 79 jaar wat deur ons hemelse Vader hier op aarde aan hom gegun is,” skryf ds. Cassie Aucamp in sy huldeblyk in die Almanak vir 2014. “Nog vol lewenslus en ’n jonkheid van gees.”

Ds. Van der Walt was predikant van Belfast/Dullstroom 1958–1962, Schweizer-Reneke 1962–1965, Heilbron/Koppies 1965–1967, Bergsig 1967–1984, Stoffberg 1984–1993 en eindelik Stoffberg/Belfast 1993–1996.

Hy is ’n amper 16 jaar lange aftrede gegun, maar het nog in sy sterfjaar gereeld eredienste in Elandspoort (Danville, Pretoria) gelei, tot sy heupe hom ernstig begin knel het. “Hy sou vir ’n heupvervanging gaan,” skryf ds. Aucamp, “maar het vir veiligheid eers ’n draai by die kardioloog gemaak vir ’n angiogram, veral ook omdat hy in 1992 ’n ernstige hartaanval gehad het, waarvan hy wonderlik herstel het.

“Die ondersoek het getoon dat sy hart ernstig verswak is. Dieselfde Maandagnag het tannie Rita die oproep van die Eugene Marais-hospitaal gekry: ‘Kom in, ds. Van der Walt is ernstig.’ Hy was in ’n koma tot hy die Donderdag, 13 Julie, na sy ewige woning oorgetree het.”

Ds. Aucamp was, benewens die hospitaalpersoneel, die laaste persoon met wie ds. Arie die Maandagaand laat gesels het. Hier volg ’n geredigeerde weergawe van ds. Aucamp se huldeblyk aan sy vertroueling:

Adriaan van der Walt is op 5 November 1933 in die Kaapprovinsie gebore. Hy het op Vaalharts matriek geskryf en is direk daarna PUK toe om hom voor te berei om te antwoord op die roeping om bedienaar van die Woord van die Here te wees.

Uit sy huwelik met Ansie van der Merwe is vier kinders gebore, maar sy het hom op ’n vroeë ouderdom ontval. In 1982 is hy met tannie Rita Botha getroud, met twee kinders uit haar eerste huwelik. Saam het hulle ’n geseënde huwelik van 30 jaar gehad. Sy het van die begin af haar plek as predikantsvrou in die gemeente vol gestaan.

Ná sy emeritering het hulle hul binne die grense van GK Bergsig (Mayville, Mountain View, Roseville, Suiderberg) gevestig, in die Mootgebied van Pretoria. Hulle het steeds ’n opbouende rol as meelewende lidmate in die gemeente gespeel.

Ds. Arie se gereelde waardering vir ’n preek het altyd gespreek van sy kinderlike verwondering oor die Woord van die Here. Hy het in dié tyd in die gemeentes van Totiusdal en Elandspoort gewaardeerde diens gelewer, met eredienste, maar ook met die pastorale versorging van veral die ouer lidmate.

Sy besadigde, rustige geaardheid het ’n kalmte om hom uitgestraal. Hy wou altyd die ander se kant aanhoor voor !hy oor ’n saak besluit het, en het nie ligtelik ’n oordeel gevel nie.

In die vraagstukke waaroor daar op die kerklike akker so dikwels die strydbyl opgeneem word, het hy ’n nugtere en gebalanseerde openheid gehad, en het altyd die heil en stigting van die kerk voor oë gehou.

Van sy pastorale bewoënheid was ek self al getuie waar ons saam by ’n lidmaat ná die dood van ’n dierbare opgedaag het.

Hy het ’n besondere humorsin gehad en het gereeld by ’n gemeentesamekoms of tydens ’n Wildtuinkamp met sy besonderse vertellings luister aan ’n geleentheid verleen. Sy twee groot stokperdjies was tuinmaak en kos maak. Hy het tot op die end self sy tuin op ’n groot erf met groot toewyding versorg.

Vir almal rondom hom en ook vir die gemeentes van Bergsig en Andeon is oom Arie se dood ’n groot verlies. Vir my persoonlik was hy ’n vaderfiguur en vertroueling.

Oom Arie was vir my die verpersoonliking van die bekende woorde van Psalm 92:6:

‘n Palmboom, hoog en rustig, ’n seder sterk en skoon, met breë blarekroon . . .

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s