14 Julie 1932 | Ds. Gert Bester gebore

Ds_GBC_Bester_saam_met_Anita,_Alrina_en_Bone.jpg

Ds. G.B.C. Bester en sy gesin: sy eggenote, Anita, em dogter Joné (links) en Alrina.

Bekend vir sy welluidende stem en kort, kragtige preke

“Pappa het op ’n keer ook iewers gepreek in ’n klein kerkie,” het ds. Gert Bester se dogter Alrina einde verlede jaar vertel. “Hy vra toe mooi dat die mikrofoon afgeskakel word. Die koster wou nie.

“Dit is hier te kort en daar te lank, want die ‘akoestiek’ is nie so gaaf nie. Pappa klim toe maar op die kansel, staan terug, lees rustig die afkondigings . . . Die oomblik toe hy begin met: ‘Ons hulp is in die naam van die Here,’ sê ’n vrou kliphard: ‘O hel, hy breek daai ding!’

Dit is ook al wat ek op sy begrafnisbrief gesit het: ‘’n Groot stem is stil.’”

“Pragtige mens en vurige prediker gewees,” het die My Dopperdagboek-lid Hans Schutte verlede maand geskryf: “Het in 1997/’98 by geleentheid hier op Sannieshof gepreek. Onthou nou nog sy preek uit Psalm 2: ‘Die Here kyk uit die Hemel en spot met hulle.’”

Nog ’n lid, Flip du Plessis, onthou hom vir sy stem: “Pragtige predikantspaar. Was ons predikant op Beestekraal in die 1960’s. Altyd gesê: ‘Ek het nie nodig vir ’n lang preek nie; ek sê wat ek wil sê.’ Hy het jou so gebind, jy wil nog luister, dan sê hy: ‘Amen.’ Pragtige harde stem gehad.”

En Jean Pierre de Villiers het tong-in-die-kies vertel: “By sy ontvangs op Odendaalsrus het (ds. Bester) die volgende verhaaltjie vertel: ‘Die een ou oom op Beestekraal vertel hulle het een aand laat op ’n plaaspad gery en skielik uit die donkerte het iets oor die pad gekom en is raak getrap.

“Toe die polisie daar aankom, vra hulle nou hul vrae oor wat gebeur het en hoe lyk die ‘ding’ wat raakgery is. Die bestuurder van die voertuig sê die ‘ding’ het ’n vreeslike groot bek en het ’n verskriklike geraas gemaak. O wêreld sê die sersant: ‘Julle het nounet vir Gert Bester raakgery!’”

Professore_en_studente_aan_die_Teologiese_Skool_Potchefstroom,_1955.jpg

Professore en studente aan die Teologiese Skool Potchefstroom, 1955. Agter: P.B. de Klerk, G.H. Buys, onbekend, A.Z. Pelser, G. du Plessis, P.J. Steyn, onbekend, onbekend, onbekend, A. van der Walt, onbekend, Gert Bester, drie onbekend, H.A. Van Dalsen, onbekend. Middel: Onbekend, Abraham Coetsee, J.T.C. Snyman, J.H. Coetzee, J.A.H. van der Vinne, F.J. Labuschagne, J.J. Venter, J. van V. du Plessis, A.J. du Plessis, onbekend, Koos van Rooy, onbekend, A.J.R. Vermeulen, vier onbekend, L.H. Stavast. Voor: W.J.J. du Plessis, Willie Maritz, P.J. Pelser, J. Visser, P.C. Snyman, L.S. van der Vyver, proff. Sarel van der Walt, Willem Snyman, Stephanus du Toit, S.J. du Plessis, P.J.S. de Klerk, J.L.J. Snyman, F.N. Lion-Cachet, F.R.P. de Bruyn, A.S.L. Minnaar, T. Steyn.

Gert Bester, wie se stem sommige lidmate beskryf het as die mooiste wat hulle al gehoor het en die enigste predikant in die GKSA se geskiedenis met dié van, was tussen 1959 en sy emeritaat in 1991 predikant in sewe gemeentes, Beestekraal (1959–’62), Odendaalsrus (1962–’65), Salisbury (1965–’68), Durban-Wes (1968–’75), Magol (1975–’80), Rustenburg-Wes (1980–’86) en Amanzimtoti (1987–’91).

Gert Bester is op 14 Julie 1932 op ’n plaas naby Trichardt in die omgewing van Secunda gebore. Ná sy laerskooldae is hy na die Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal, waar hy in 1951 gematrikuleer het.

Ds. L.S. Kruger, wat later jare sy mentor en vriend sou wees, het hom geïnspireer om vir predikant te leer. Hoewel Bester in die Nederduitsch Hervormde Kerk grootgeword het, was dit die Gereformeerde Kerk wat hom ’n beurs gegee en dit vir hom moontlik gemaak het om vir predikant te leer. Hy voltooi dan ook sy studie aan die Teologiese Skool Potchefstroom in 1958 met die grade B.A en Th.B.

Ds_Gert_Bester.jpg

Ds. Gert Bester.

Uit sy huwelik omstreeks dié tyd met Anita Brits is twee dogters gebore, Alrina en Joné. Anita  is oorlede op 11 Desember 2013 op Langebaan, waar hul jongste dogter, Joné, woon.

In ds. Bester se 28 jaar in die bediening is hy 42 maal beroep. In sy eerste werkkring, Beestekraal, is hy in 1959 bevestig as ook die gemeente se eerste predikant, maar vertrek in 1962 na Odendaalsrus 1962.

Met die oog op die gemeente Odendaalsrus se 50ste verjaardag in 1983 het ds. Bester geskryf: “Wanneer ek terugpeins oor ons verbondenheid aan die Gereformeerde Kerk Odendaalsrus, dan was daar donker dae in ons gesinslewe, maar ook helder flitse in die bediening.

“Die beginmaande vir my en my vrou was baie moeilik omdat ons geworstel het met ons oudste dogtertjie (Alrina) van iets net meer as 1,5 kg. So klein dat Jan en Dollie van Jaarsveld haar ’n ‘klein bietjie niks’ genoem het. Menslik gesproke het ons haar lewe te danke aan dr. Eksteen wat letterlik saam met ons dag en nag oor haar gewaak het.

“Daar was egter nie net diep dale van beproewing nie, maar ook die heerlike bergspitse van bedieningsgenot: ’n gemeente wat altyd waarderend was ten opsigte van alle fasette van die arbeid wat ek daar in swakheid verrig het; ’n kerkraad wat my as jong predikant waarlik ondersteunend gebou het, my vir my latere dienswerk werklik toegerus het.

“Hierdie terugblik sal sonder ’n nagedagtenis aan die gemeenskap en die ander twee Afrikaanse kerke nie volledig wees nie. Die liefde en respek en waardering wat van hulle kant na my gekom het, bly een van my mooi herinneringe.”

Van Odendaalsrus het die gesin in 1965 na Rhodesië gegaan, waar ds. Bester predikant van die gemeente Salisbury was tot 1968. In daardie jaar is hy beroep as die eerste predikant van die nuwe gemeente Durban-Wes, waar sy sewe jaar lange bediening die langste van sy loopbaan sou word.

Ds_Gert_Bester_en_sy_gesin_in_Odendaalsrus.jpg

Ds. Gert en mev. Anita Bester en hul oudste dogter, Alrina, toe hulle tussen 1962 en 1965 op Odendaalsrus was.

Ds. Bester was 25 jaar lank direkteur van die Maatskappy vir Europese Immigrasie. Vir hierdie diens het hy ’n goue penning ontvang. Hy was lid van die Kuratorium van die Teologiese Skool Potchefstroom en het etlike jare lank in die raad van die Gereformeerde Stigting gedien.

Ook was hy lid van verskeie skole se beheerliggaam. Ná aftrede het hy nog in talle gemeentes gehelp, maar veral in Namibië.

Ds. Theuns de Klerk, destyds van Okahandja, skryf in ds. Bester se lewensberig in die Almanak vir 2007: “’n Groot stem het stil geraak. In nederigheid en in ootmoed was hy getrou aan sy roeping as VDM – bedienaar van die Goddelike Woord.”

Hy skryf onder vyf hoofpunte: “Ds. Gert het alles vir die bediening gegee.” Sy prediking was suiwer, kort, kragtig en diep treffend.

Wat huisbesoek, betref, het hy die skape opgepas, versorg en met simpatieke omgee elkeen begelei. In sy kategese het hy op besonderse wyse die kinders – klein en groot – vir die lewe toegerus.

Sy uitsonderlike kennis van kerkreg het hom op vergadering ’n groot rol laat speel in kerklike vergaderings. Wat die gemeenskap betref, het sy betrokkenheid en meelewing met alle mense meegebring dat hy ’n besonderse rol in die gemeenskap gespeel het.

Ds. De Klerk skryf: “Ds. Gert het nooit erkenning gesoek nie, maar in nederigheid altyd gedien, tot op die end.”

Volgens oorlewering het ds. Bester gesê: “As jy nie binne 20 min. jou sê (in ’n preek) kan sê nie, dan het jy ’n probleem.” Nog ’n wysheid van hom was: Daar is twee redes hoekom ’n predikant nie ’n beroep opvolg Namibië toe nie: óf sy kinders is al op skool óf dis te ver vir die predikant se vrou van haar ma af.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s