15 Julie 1866 | GK Pretoria kry eerste predikant

GK Pretoria vergrote kruiskerk kerkgebou.JPG

In 1863 het die gemeente Pretoria ses erwe tussen Kerk- en Pretoriusstraat van die regering van die ZAR bekom. Dit was van hierdie erwe waarop die kerkgebou steeds staan. Spoedig is ’n paalkerk opgerig, maar dit was kort voor lank ontoereikend. Ds. N.J.R. Swart het hom vir ’n nuwe kerkgebou beywer, en reeds in Desember 1866 het die bouer J.N. Arnoldi ’n tender ingedien. Dit was die ontstaan van die sogenaamde waenhuiskerk (‘n reghoekige vorm). Die hoeksteen is op 8 April 1867 deur pres. M.W. Pretorius gelê.

Ongelukkig einde aan ds. N.J.R. Swart se dienstyd

Die Nederlandse emigrant Nicolaas Swart was een van vier kandidate wie se aansoek om as predikant toegelaat te word op die sinode van 1866 in sitting te Reddersburg gedien het.

Hy was die enigste kandidaat van ds. Postma; die ander was al drie kandidate van ds. Johannes Beijer van Reddersburg, by name S.D. Venter (van 1866 tot 1877 eerste Gereformeerde leraar van Bethulie), A.A.J. de Klerk Coetsee (van 1869 tot 1872 eerste leraar van Philipstown) en J.S.L. Venter (ds. Swart se opvolger in Pretoria, waar hy leraar was van 1872 tot 1880).

Van die drie wat onder ds. Beijer studeer het, is net Venter dadelik toegelaat saam met prop. Swart, van wie hoë verwagtings gekoester is, volgens dr. Bouke Spoelstra. So het Swart die heel eerste kandidaat in die teologie geword wat in Suid-Afrika studeer en as predikant in die Gereformeerde Kerk toegelaat is.

Hy was reeds 34 jaar oud. Al het ’n vorige sinode besluit dat van studente bo 30 jaar nie verwag sou word om die antieke tale te leer voor hulle die bediening betree nie, het Swart Grieks, Hebreeus en Latyn as vakke in sy voorbereiding gehad en daarin geslaag.

Kort ná sy toelating is prop. Swart na die Gereformeerde Kerk Pretoria as hul eerste leraar beroep, waar hy op hierdie dag (of moontlik eers in Oktober, volgens ’n ander bron) deur ds. Postma in die amp bevestig is.

Ds_NJR_Swart,_Gereformeerde_kerk_Pretoria.jpg

Ds. N.J.R. Swart.

Dieselfde sinode wat ds. Swart tot die bediening toegelaat het, het besluit ds. Postma moes na Burgersdorp gaan as leraar van die plaaslike gemeente terwyl hy ook daar met die voltydse opleiding van predikante sou begin.

So het ds. Swart as enigste Gereformeerde predikant in Transvaal agterbly. Hy was dus herder van ’n kudde wat toe uit vier kerke (benewens Pretoria en Rustenburg ook Potchefstroom en Waterberg) bestaan het met ’n lidmaattal wat in 1871 sowat 1 400 sou tel (vroeëre syfers is nie beskikbaar nie), maar sy bedieningsgebied het ook Nazareth (Middelburg) en Winburg in die OVS ingesluit. Op elk van hierdie plekke moes hy al om die drie maande die Woord en sakramente bedien.

Ds. Swart se traktement sou £250 wees (’n skaflike vergoeding), maar hy moes voorlopig met £225 per jaar tevrede wees. Gegewe die omstandighede het ds. Swart ’n goeie begin gemaak. Die kerkraadsnotules getuig ook dat hy die kerkraad sowel as gemeente se vertroue geniet het.

Kort ná sy ontvangs het die gemeente ’n nuwe kerk begin bou, waarvoor kollektes eers ingesamel is. Die oorbodige grond is ook verkoop onderhewig aan duidelike voorwaardes. Paul Kruger het aangebied om dadelik 125 000 stene te laat bak as die kerk verbeter sou word.

Met die toestemming van sy kerkraad het ds. Swart begin om vir die Engelssprekendes van Pretoria in hul taal godsdiens te lei en het in 1867 verlof van die kerkraad gekry om daarby ook die Engelse gebedeboek te gebruik in sover dit nie met die Gereformeerde leer in stryd is nie.

Op die sinode van 1869 is hy as voorsitter aangewys en as moontlike dosent aan die voorgestelde teologiese skool van die Gereformeerde Kerk oorweeg. Op 12 Junie daardie jaar het hy die kerkraad van Pretoria versoek om met spesiale verlof na Europa te gaan.

Dis hom in ’n goeie gees met behoud van sy traktement toegestaan. Die kerkraad het selfs aangebied om hom ’n bedrag van £95 te gee wat nog uitstaande was, maar ds. Swart het die aanbieding van traktement tydens sy verlof van die hand gewys.

Nes in die gemeentes wat ds. Swart indertyd bedien het, het hy aanvanklik in die kerkverband veel vertroue ingeboesem.

Maar volgens dr. Spoelstra was ds. Swart afhanklik van geestelike leiding. Toe hy dus die steun verloor van sy vriend ds. Jan Lion Cachet, wat van 1868 af predikant van Rustenburg was, maar in 1869 na Burgersdorp verhuis het om saam met ds. Postma hoogleraar aan die Teologiese Skool te word, is hy gaandeweg in die hoofstad deur die sosiale lewe aangetrek.

Hy het ook tot smart van sy vrou besef dat hy hom nie innerlik tot die amp van predikant geroepe gevoel het nie. In 1871 het hy weer na Nederland gereis en by sy terugkeer sonder voorkennis van sy kerkraad op 8 November 1871 die aanstelling deur die volksraad as goewermentsekretaris van die ZAR aanvaar as opvolger van B.C.E. Proes, wat bedank het.

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s