15 Julie 1922 | Dr. Dion Kempff gebore

Dion_Kempff_en_sy_aanstaande,_Esther_du_Plessis,_was_skottelgoed_op_'n_uitstappie_na_die_Vaalrivier_in_1945

Dion Kempff en sy aanstaande, Esther du Plessis, was skottelgoed op ‘n uitstappie na die Vaalrivier in 1945. Hy staan op die oewer (derde van regs) en sy regs van hom.

Raadgewer vir baie 23 jaar lank ‘Kerkblad’-redakteur

Dr. Dionysius (Dion) Kempff was van 1949 tot 1963 predikant in vier Gereformeerde gemeentes en daarna tot 1987 sowat 23 jaar lank redakteur van die Kerk se nuusblad Die Kerkblad.

Reeds van voor sy emeritering het dr. Kempff sy vrou langer as 30 jaar bygestaan in ’n siekte en kruis wat sy moes dra. Prof. B.J. de Klerk skryf in sy lewensberig in Die Kerkblad van 2002:

“Miskien was sy grootste lewensvrug nie die talle geskrifte (soos artikels en boeke) wat uit sy pen verskyn het nie. Ook nie die indeksering van Calvyn se werke, Kerkblad-artikels en die deeglike taalkundige versorging van sinodes se agendas en handelinge nie. Dit is eerder sy liefde, geduld, lewensblydskap, selfbeheersing en diep geloof waarmee hy sy lewensmaat bygestaan het.”

Dion Kempff in ’n sterk Christelike huis opgevoed en was van jongs af ’n knap student met ’n ondersoekende gees. Daarom het hy as skrander student en leier ontluik op die PUK, waar hy nie gehuiwer het om die Gereformeerde leer as student te handhaaf nie.

Dr_Dionysius_Kempff.jpg

Dr. Dion Kempff as jong predikant.

Onder prof. H.G. Stoker behaal hy die M.A. in filosofie en vertrek daarna na Nederland vir sy doktorale studie. Hoewel hy ’n alleenmens op universiteit was, kon hy tog die sprankelende Esther du Plessis se liefde wen en volg sy hom na Nederland, waar hulle getroud is. Daar behaal hy sy D.Theol.

Studente_en_professore_van_die_Teologiese_Skool_Potchefstroom,_1944.jpg

Proff. S. du Toit, C.J.H. de Wet en J.D. Toit by die studente aan die Teologiese Skool Potchefstroom, 1944. Die studente en professore aan die Teologiese Skool Potchefstroom, 1944. Agter: S.P. du Plessis, P.W. Buys, M.J.P. Olivier (van die NG Kerk), C. Hattingh, G.P. Scheepers en Tjaart Steyn. Middel: G.P.L. van der Linde, proff. Fanus du Toit, Casparus de Wet en Totius, en K. van Wyk de Vries. Voor: D. Kempff, J.C. Kruger en M.J. Booysen.

Kort ná hul terugkeer in Suid-Afrika is dr. Kempff in 1949 in die Gereformeerde Kerk Sannieshof bevestig. Hy het ongeveer vyf jaar in die gemeente gedien voor hy na Salisbury gegaan het om ’n reusegebied in Suid-Rhodesië te bedien. Die mense van daardie wêreld tot in Karoi het altyd met groot lof van sy baanbrekerswerk in dié streek gepraat, het pro. De Klerk geskryf.

Ná die vier jaar in die buiteland was sy volgende gemeente Viljoenskroon, waar hy byna ses jaar lank gewerk het. Hy was skaars ’n jaar in Vereeniging-Oos toe hy redakteur van Die Kerkblad word.

Dr. Kempff was bekend vir sy liefde vir die predikantsbediening en het selfs in sy redakteursdae hulpdiens in Potchefstroom-Suid gedoen. Hy was, volgens prof. De Klerk, “’n lerende prediker met ’n skerp insig in die Skrif en belydenis”.

Dr_en_mev_D_Kempff.jpg

Dr. Dion en mev. Esther Kempff.

Hy skryf dr. Kempff “het met durf en volharding sy roeping nagekom om ’n behoudende, nugter en toekomsgerigte boodskap op skrif te stel. Die mate waarop hy menings gevorm het, kan nie bepaal word nie, maar baie van dit waarvoor hy gepleit en gestry het, het reeds werklikheid geword.”

Hy was eintlik predikant vir al die lesers van Die Kerkblad (wat destyds ’n sirkulasie van amper 14  000 gehad het); daarom was daar uiteenlopende menings oor sy boodskap en die gesindheid wat hy met die blad uitgestraal het.

“Hy het respek afgedwing sonder om meerderwaardig te wees,” skryf prof. De Klerk, “reguit maar sonder venyn, altyd gereed met goeie raad en advies. Soos ’n vader het hy wyse raad uitgedeel. Kwinkslae en grappies was daar genoeg.”

In sy laaste lewensjare was dr. Kempff alleen, maar nog wakker van gees, op die hoogte van gebeure en ’n raadgewer en vriend vir baie. Op 12 Desember 2000 het hy in die ouderdom van 78 rustig ontslaap.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s