16 Julie 1922 | GK Durban gestig

Gereformeerde_kerk_Durban,_kerkraad,_Maart_1945.jpg

Die kerkraad in 1945, wat vier meer getel het as die belydende lidmate 23 jaar vantevore: Sittende: Oudle. H. B. Kruger (sr.); en C.M. du Plooy; ds. H.F.V. Kruger; oudle. B.R.Kruger en J.G. Pretorius. Staande eerste ry: Oudle. H. Coetsee; P.A. Olivier; J.C. van Niekerk; J.C. Kruger; A.J. Venter; J.L. Delport en S.L.C. van der Walt en diak. B.J. Venter. Tweede ry: Diakens Z.B. Coetsee; R.G. Diederiks; W.A. Kruger; H.B. Kruger (jr.); A.J. Coetzee en J.J. Kruger. Derde ry: Diakens G.R. Bester; S.P.J. Vos; N.J.C. Kruger en H.L. Venter. Byportrette: Oudle. C.G. Venter; H. Esterhuizen; diakens A.J. Pretorius; J. de Wet en T.J. Pretorius.

Eerste gemeente in hawestad, tweede in provinsie

Die Gereformeerde Kerk Durban is op hierdie dag met 24 belydende en 23 dooplidmate gestig, 10 maande voor die Gereformeerde Kerk Kaapstad. Nog in dieselfde dekade het ook die ander twee hawestede van die Unie, Oos-Londen (1925) en Port Elizabeth (1929), elkeen sy eerste Gereformeerde kerk gekry.

Eers moes die kerkraad van Durban kort-kort ’n saal soek waarin leesdienste gehou kon word. Vanaf April 1935 het hulle die Vrymesselaarslosie gehuur en gebruik tot die gemeente in 1945 sy eie kerkgebou in gebruik kon neem. Die perseel daarvoor is in 1940 aangekoop.

Oom_Corneels_en_tant_Louisa_du_Plooy,_Gereformeerde_kerk_Durban.jpg

Oom Corneels en tant Louisa du Plooy. Hy het ’n leidende aandeel gehad in die stigting van die Durbanse gemeente in 1922. Hy was ouderling tot in die jare sestig en byna 17 jaar lank skriba.

Weens die boubeperkings van die Tweede Wêreldoorlog is die boupermit eers in 1945 goedgekeur. Kort daarna het ds. H.F.V. Kruger die hoeksteen gelê. Dié kerkgebou is nie in ’n bekende boustyl opgerig nie en was net tot Desember 1950 in gebruik.

Dawid_en_Aletta_Schoeman,_Gereformeerde_kerk_Durban.jpg

Dawid en Aletta Schoeman is in 1925 getroud. Hy was ‘n stigterslid van die gemeente en albei het lidmaat gebly tot die afstigting van Durban-Wes in 1968. Hy het die panele vir die galery help bou en was met die gemeente se 50-jarige bestaan 76 jaar oud.

Vanweë die toename van die lidmate in dié oorwegend Engelse stad, wat die NG Kerk ook eers betreklik laat betree het met die stigting van die NG gemeente Durban in 1913, en namate meer jong mense hulle hier kom vestig het, het die behoefte aan ’n ruimer kerk ontstaan.

Gereformeerde_kerk_Durban_GGSA.jpg

Die Gereformeerde kerk Durban.

Die kerkraad het die Gereformeerde argitek Pieter Dykstra genader om dit te ontwerp. Hy het die ontwerp van die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt aangepas by plaaslike omstandighede.

Ds. P.J. (Petra) de Klerk het die hoeksteen op 15 April 1950 gelê. Die kerk en toring is van geelbruin siersteen gebou terwyl die deure en vensters deur pleisteromramings beklemtoon word.

Preekstoel_en_orrel,_Gereformeerde_kerk_Durban.jpg

Die gemeente se Laukhuff-orrel is op 3 Oktober 1952 in gebruik geneem.

Die Laukhuff-pyporrel met 967 pype is op 3 Oktober 1952 in gebruik geneem en bly een van die stad se uitstaande orrels. Vandag nog word dit by elke erediens gebruik asook vir talle ander geleenthede.

Die ou kerkie is in ’n saal met katkisasielokale omskep en in 2003 is ’n veiligheidsheining om die perseel aangebring.

Ds_KAJ_van_Rensburg_en_gesin,_Gereformeerde_kerk_Durban.jpg

Ds. K.A. Janse van Rensburg en sy gesin, die gemeente se sendelingleraar van 1970 tot 1976. Daarna het hy bedien: Bloemfontein-Suidheuwels 1976-1981, kapelaan Klerksdorp 1981-1990, kapelaan Kaapstad 1990-2004, Kaapstad 2004-2005, Paarl 2005-2014. Geëmeriteer 2014.

Die Gereformeerde Kerk Durban-Wes het in 1968 van Durban afgestig, maar het in 1990 ontbind en weer daarby ingeskakel. Die Gereformeerde kerk Durban-Noord, wat in 1952 van Durban afgestig het as Noord-Durban, bestaan nog.

Ook die Gereformeerde kerk Amanzimtoti (1985) het van Durban afgestig en is op die oomblik in kombinasie daarmee.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s