16 Julie 1967 | Frederik Burgers sterf op vlug

Gereformeerde kerk Johannesburg-Suid.jpg

Van die Gereformeerde Kerk Johannesburg-Suid in Turffontein, die omgewing waarin hy gewoon het, was Frederik Burgers ’n tyd lank orrelis.

Orrelis van Gereformeerde kerke sterf op vlug

Frederik Burgers, ’n mynwerker, vermaakkunstenaar en orrelis, is op hierdie dag op ’n vlug tussen Jan Smuts-lughawe, Johannesburg, en Louis Botha-lughawe, Durban, oorlede.

Frederik Louis Benjamin Burgers is op 7 Julie 1907 in Johannesburg gebore as die seun van Philip Rudolph en Johanna Catharina Wilhelmina Burgers. Sy eintlike beroep was ver verwyder van die verhoog, waar hy landwyd bekendheid verwerf het.

image-w240.jpg

Frederik Burgers.

Op 21 het hy begin werk by Crown Mines suid van Johannesburg, waar hy grootgeword en skoolgegaan het. Ná ’n dienstydperk van 39 jaar by die mynmaatskappy het hy ses maande voor sy dood as mynopmeter afgetree.

Burgers se loopbaan as vermaakkunstenaar het selfs langer as sy loopbaan in die mynwese gestrek. As vyftienjarige het hy sy vader, wat ook ’n verhoogkunstenaar was, agter die gordyne gehelp en toe dié een aand siek word, moes hy sy plek op die verhoog inneem.

Dit was vir hom geen moeilike taak nie aangesien hy die rol reeds uit sy kop geken het. Al moes hy tussendeur nog die beligting ook behartig, was sy optrede so geslaagd dat daardie aand as die begin van sy toneelloopbaan beskou kan word.

Onder aansporing van sy broer, die radioveteraan dr. M.P.O. Burgers, het hy in 1931 met radiowerk begin. Hy het gou bekend geword as grapmaker oor die eter – eers alleen, daarna saam met sy medekomediant De Wet Marais, en nog later saam met Al Debbo. Dié twee is as Suid-Afrika se “Laurel en Hardy” beskryf.

hqdefault.jpg

Al Debbo (middel) en Frederik Burgers (regs) in Fratse in die Vloot (1958).

Burgers het ’n ietwat potsierlike kort en fris voorkoms gehad, terwyl Debbo lank en maer was. As radioman was Burgers besonder gewild in die program Bog met Blou Maandag, waaraan hy deelgeneem het tot twee weke voor sy dood, asook vanweë sy Saterdagaandprogram, waartydens hy luisteraars met grappies vermaak het.

Altyd in my Drome

Frederik Burgers en Al Debbo het in 1952 saam in die rolprent Altyd in My Drome gespeel.

As verhoogkunstenaar het hy die land deurkruis en in die rolprentwêreld het hy as komediant in meer as 20 vollengterolprente opgetree. In 1946 het hy opgetree in sy eerste vollengte- Afrikaanse rolprent, Die Wildsboudjie, en later was hy die hoofspeler in rolprente soos Piet Se Tante (1959) en En die Vonke Spat (1961). Hy word veral onthou vir sy spel in vroeë rolprente soos Kom saam vanaand (1949) en Piet se tante (1959).

Burgers was ’n toegewyde kunstenaar en iemand met ’n wye belangstelling in enige onderwerp onder die son. Hy het wyd gelees en was bedrewe in motorherstelwerk, houtwerk en fotografie.

Daarbenewens was hy briljant met syfers. Hy het klavier gespeel en Sondae as orrelis in die Gereformeerde kerk in Turffontein en ’n stadium ook van Johannesburg in Mayfair-Wes opgetree.

Hy het aan ’n hartaanval beswyk op ’n vlug van die Lughawe Jan Smuts na Durban. Die vliegtuig het kort nadat dit om 21:55 opgestyg het, na die lughawe teruggekeer. Dit was nege dae ná sy sestigste verjaardag.

Burgers was twee keer getroud: sy eerste vrou was Aletha E. Nel. Later is hy getroud met Lydia Johanna Botha. Hy het drie kinders gehad. Sy broer, dr. Olivier Burgers, is ook aan ’n hartaanval oorlede en ook kort ná sy verjaardag, te wete op 30 April 1962, agt dae nadat hy 53 geword het, terwyl hy ’n huldeblyk aan wyle Pieter de Waal opgeneem het.

Filmografie

  • Piet my Niggie, 1964
  • En die Vonke Spat, 1961
  • Oupa en die Plaasnooientjie, 1960
  • Piet se tante, 1959
  • Fratse in die vloot, 1958
  • Dis Lekker om te Lewe, 1957
  • Matieland, 1955
  • ’n Plan is ’n Boerdery, 1954
  • Altyd in my drome (rolprent), 1952
  • Alles sal regkom, 1951
  • Hier’s ons weer, 1950
  • Kom saam, vanaand, 1949
  • Die wildsboudjie, 1946
  • Die Skerpioen, 1946

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s