17 Julie 2013 | Ds. Fires van Vuuren oorlede

Vierdejaarstudente_aan_die_Teologiese_Skool_Potchefstroom,_1951.jpg

Die vierdejaarstudente aan die Teologiese Skool Potchefstroom, 1951.Van links: Fires van Vuuren, Ben Lombard en Platbos du Plessis.

Bedrywige dominee ’n voorbeeld vir vele

Ds. Cornelius Marthinus Janse van Vuuren was van 1952 tot 1991 predikant in drie gemeentes van die Gereformeerde Kerk. Hy was algemeen bekend as Fires, en as kind en in die familie as Kok.

Van Vuuren was die vyfde van nege kinders op die plaas Winkelhaak naby Swartruggens, waar die gesin gewoon het. Dit was moeilike grootwordjare met min geld. Op die plaas moes hulle hard werk, wat tot sy kenmerkende deursettingsvermoë bygedra het.

Die ses broers was, volgens ds. Jan Malan, sy skoonseun, in ds. Van Vuuren se lewensberig in die Almanak vir 2015, “ongeneeslike platjies. Hulle het mekaar altyd ’n punt probeer steek en die hardheid van die lewe met grappe versag.”

ds_fires_van_vuuren_as_finalejaarstudent_aan_die_teologiese_skool_potchefstroom_1951.jpg

Fires van Vuuren in sy finale jaar aan die Teologiese Skool Potchefstroom, 1951.

Sy gesonde humorsin kon hy met groot takt in moeilike situasies in die bediening aanwend. Hulle was lewendig en goeie sportmanne. Drie van die seuns het Wes-Transvaal-rugby gespeel: Kok (Fires), Hen en Koos.

Die PUK was tydens Fires van Vuuren se studentejare ’n hegte gemeenskap. Sy tydgenote onthou mekaar goed en het baie staaltjies te vertel. Hy was betrokke en het ook in die studenteraad gedien.

Hy was ’n goeie atleet en het eers later begin rugby speel. Ds. Malan skryf sy rugbybekendheid in die PUK- en Wes-Transvaal-geledere is legendaries. Hy was in 1949 Theos-kaptein en het van 1948 tot 1951 senter vir Wes-Transvaal gespeel. Hy is vir die 1951-Springbokproewe benoem, maar weens ’n beenbesering moes hy onttrek. Volgens koerantberigte was Danie Craven uitgesproke daaroor dat hy die beste senter in die land was en beslis die topkeuse.

Di. Ben Lombard en Platbos du Plessis was sy klasmaats in die 1951 finalejaarklas. Dié drie was hegte vriende met ’n lewendige onderlinge humorsin. Elk van sy twee klasmaats se dood later jare was vir ds. Van Vuuren baie hartseer.

Hy is in 1952 in Randfontein bevestig, verskuif in 1954 na Carletonville volgens die afstigtingsakte, en neem in 1964 die beroep aan na Bethal, waar hy in 1991 sou emeriteer. Hy het baie jare lank as kurator van die Hammanskraalse Teologiese Skool gedien.

Gedurende die 1960’s en ’70’s was baie gemeentes vakant, ook rondom Bethal. So het hy jare lank ander gemeentes (bv. Evander, Standerton, Carolina en Kriel) ook as konsulent gedien, Sondae daar gepreek (voor die erediens op Bethal op een plek, en daarna weer in ’n ander rigting) en huisbesoek gedoen met dieselfde toewyding as in sy eie gemeente.

Helena Malan en gesin.jpg

Helena en ds. Jan Malan en gesin. Sy was ’n dogter van ds. Van Vuuren en hy het sy lewensberig in die Almanak vir 2015 geskryf.

Waardering

Ds. Malan skryf: “Die grootste getuigskrif vir ds. Fires is . . . sy toewyding in sy diens as Woordbedienaar en die betroubare leiding wat hy in die gemeentes wat hy bedien het, en die kerkverband gegee het.

“Hy het respek afgedwing, vertroue ingeboesem en so opgetree dat lidmate hom in hulle vertroue geneem en in onsekerheid en nood op hom gesteun het. In meerdere vergaderings is sy optrede gerespekteer. Met sy skerp insig kon hy ’n saak raak insien en duidelike advies gee.”

Ds. Harry Cilliers (Standerton se predikant van 1990–’07) vertel: “Ek het tydens eredienste aan ds. Fires se lippe gehang en elke woord probeer indrink, want hy kon preek!

“Ek onthou ook hoe hy en my vader kopstukke gesit en gesels het voor, tydens en ná middagete. Vir my was ds. Fires ’n rolmodel. Ek wou graag so ’n dominee word soos wat hy was. Hy was vir my ’n groot aansporing op die pad. Hy was belese (hy het geweet wat in die wêreld aangaan) en skerpsinnig in sy antwoorde en kommentaar oor dinge.

“Hy het ’n fyn en wonderlike humorsin gehad (’n dominee wat jou kon laat lag!). Hy was ’n ware kind van God en ’n dominee na wie jy kon opkyk.”

Hy skryf toe hy en ds. Fires in die laaste twee jaar van dié se bediening naburige kollegas was, was “ ‘ou’ ds. Fires nog net so eerbiedwaardig, skerpsinnig, humoristies en vriendelik soos wat ek hom as kind leer ken het. Daarom het hy nooit vir my ‘oom’ geword nie; hy het ‘dominee’ gebly.”

Ds Fires van Vuuren.jpg

Ds. Fires en mev. Engela van Vuuren. (FOTO: Facebook)

Talle predikante het met die jare by hom prakties gedoen. Prof. Faan Denkema onthou: “Oom Fires was met hart en siel ’n herder. Sy gemeente was nie bloot name op ’n lysie wat stelselmatig deurgewerk moes word nie.

“Elke besoek was ’n persoonlike ontmoeting – bowenal met dié Herder en sy Woord. Hy het deeglike eksegese gedoen om die evangelie in gelowiges se persoonlike lewe te laat posvat. Dit was vir hom vanselfsprekend om eers te luister, en nogmaals te luister, voor hy die woord neem.

“Die innigheid van sy gebede en voorbidding vir die kerk (wêreldwyd) het my diep getref. Omdat hy sy roeping as dominee werklik beleef het, het hy dikwels daaroor gepraat. ‘Onthou,’ het hy gesê, ‘jy is ’n werktuig van God: Hy vra jou diens, nie jou rus nie.’ ”

Sy aard en lewensingesteldheid blyk uit herinneringe soos dié van prof. Denkema: “Oom Fires was ’n ware live-wire; hy kon nooit lank stilsit nie. Soms met huisbesoek het hy op en af in die sitkamer geloop om te illustreer wat bekering beteken.

“Op ’n Vrydagmiddag in Eloffstraat (Johannesburg) om pasiënte in die hospitaal te besoek, het hy gesê: ‘Ons sukkel nou al 10 minute om van robot tot robot te kom. Dit is seker die besigste straat in Afrika. Maar daar is ’n ander straat wat nog besiger is: die weg van die minste weerstand!’”

Ds. Malan skryf: “Vir hom was daar altyd net een keuse tussen die regte pad en die maklike pad. Die regte pad soos hy dit gesien het, was die enigste pad, al kos dit jou wat en al moet jy die hele gemeenskap teengaan. Dit het hy ook meer as een keer gedoen.

“Voorwaar iemand wat in sy toewyding, opregtheid en liefdevolle vaardigheid in sy omgang met die mense om hom, vir my in alles ’n rolmodel was van my studentedae af, spesifiek ook prediking.”

Ouma Engela en van haar kleinkinders.jpg

Ouma Engela van Vuuren was ’n bobaasstorieverteller. (FOTO: Facebook)

Gesinslewe

Ds. Van Vuuren is in 1952 met Engela Combrinck getroud. Hulle het ses kinders gehad: vyf dogters en een seun, die derde kind. Almal was ook Pukke. Met sy afsterwe was daar 16 kleinkinders en vier agterkleinkinders.

In 2002 moes die gesin die skok deurgaan van die moord op hul seun Apie, nadat ds. Van Vuuren se broer Lar in 1997 op sy plaas vermoor is. Ten tyde van ds. Van Vuuren dood was hulle 61 jaar getroud. Kwalik drie maande later, op 14 Oktober 2013, is Engela van Vuuren ook oorlede.

Aftrede en dood

Ná sy aftrede het hy nog vir drie jaar in Cradock/Somerset-Oos hulpdiens gelewer en toe in Potchefstroom gevestig. Vanaf 1999 het hulle drie jaar lank op De Aar gewoon tot hulle hulle in 2002 finaal in Ebenhaeser in Pretoria gevestig het.

Ds. Van Vuuren is vroegoggend op 17 Julie 2013 in die ouderdom van 87 jaar oorlede. Hy was die laaste maande ernstig verswak nadat hy in Januarie van sy sterfjaar sy heup gebreek het.

Facebook-kommentaar

Helena Malan
Helena Malan Hierdie foto is geneem op Skanskopeiland by Keimoes, waar hulle tweede dogter, Karen Visser, en haar man Gerhard woon. Dit was die laaste gesinskersfees wat al ses ons kinders nog geleef het. Desember 2000. My pa was ‘n baie nederige mens. Sy roeping was vir hom ‘n eerste prioriteit. Ek het soms met hom koppe gestamp daaroor…
Helena Malan
Helena Malan Ek dink dit is gepas om hierdie een gebeurtenis te deel oor die drie rugby-broers. Julievakansies het hulle op die plaas gewerk. Dan het hulle ook vir Swartruggens se dorpspan rugby gespeel. So is daar die dag ‘n wedstryd teen een van die sterk mynspanne van Rustenburg en die Swartruggensspan sukkel, selfs met die Van Vuuren versterkings. Die broers maak toe gou ‘n plan. Oom Hen kry telkens ‘n hoge skop waarvoor hy regstaan. As die opponent hom storm, loop hy hom in ‘n reguit arm vas en dan is dit klaar met hom. Maar toe die tweede Rustenburger van die veld af gedra word met ‘n “wettige” besering (en daar was nie plaasvervangers in daardie tyd nie, hulle moes eenvoudig met minder manne speel), toe staan my net langer as 1,5 m ouma op die veld en maak hulle die ding staak!
Erina Bain
Erina Bain Sout van die aarde mense! Helena het ons op ‘n tafel om hoogte te kry, redelik ernstig in Klawerhof ontgroen hahahaaa. Jan het self goeie rugby as slot op skool in Rustenburg gespeel. Apie en Renate was saam met ons in Meyersparkgemeente. Hartseer tye.
Joggie Grobler
Joggie Grobler Het in 1972 belydenis van geloof afgele in Bethal. Deur ds Van Vuuren onderrig. Hy het my in huwelik bevestig.Ook my oudste kind gedoop.Het hom partykeer as “kwaai” ervaar maar het die grootste respek vir hom gehad.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s