22 Julie 2004 | Ds. Van Staden Roos oorlede

Gereformeerde_kerk_Eendracht_Peet_Schabort.JPG

In die Gereformeerde Kerk Eendracht het ds. Van Staden Roos, nadat hy weens swak gesondheid sy emeritaat moes aanvaar, in ’n eensame tyd in sy lewe die hartlike ondersteuning van medegelowiges ervaar.

Predikant enduit blymoedig ondanks lyding

Ds. Gerhardus Jacobus van Staden het op hierdie dag, 11 dae voor sy 67ste verjaardag, die ewige rus binnegegaan

“Hy het ’n lang en bitter lyding gehad,” skryf ds. Capser Breed in sy lewensberig in die Almanak vir 2006, “maar hy het min daaroor gepraat sodat net mense wat na aan hom was, geweet het wat hy werklik deurgemaak het. Sy antwoord was altyd dat dit goed met hom gegaan het, al was hy swak en al het hy pyn en ongemak verduur.”

Ds Van Staden Roos.jpg

Ds. Van Staden Roos.

Ds. Roos het besoeke altyd hoog op prys gestel maar “jy het dikwels weggegaan met die gevoel dat hy jóú vertroos het”, skryf ds. Breed. “Sy blymoedigheid in die aangesig van die dood sal ’n mens altyd bybly. Hy het werklik ’n verlange gehad om heen te gaan en met Christus te wees omdat hy geweet het dat diegene wat in die Here sterwe salig is (Openb. 14:13).”

Van Staden Roos is op 2 Augustus 1937 gebore op die plaas Soutpansdrift naby Brits, waar hy ook die eerste paar jaar van sy lewe gewoon en skoolgegaan het. Later het die gesin verhuis na Tzaneen, waar hy sy hoërskoolloopbaan voltooi het. Einde 1963 het hy sy studie vir predikant op Potchefstroom voltooi en is hy beroepbaar gestel.

Sy eerste werkkring was die kombinasie Reitz-Harrismith, waar hy in Mei 1964 bevestig is. In 1966 is hy na die kombinasie Naboomspruit-Vaalwater, waar hy tot 1975 gebly het. Daarna het hy ’n beroep na die kombinasie Volksrust-Vrede aanvaar.

Nadat hy einde 1992 sy emeritaat weens swak gesondheid moes aanvaar, het hy by GK Eendracht betrokke geraak en hulle met groot vrug bedien. Dit was ’n gemeente wat hom besonder na aan die hart gelê het,” skryf ds. Breed, “aangesien hy daar in ’n baie eensame tyd van sy lewe ’n tuiste gevind het en die hartlike ondersteuning van medegelowiges ervaar het.”

Kort voor sy bevestiging as predikant van Reitz-Harrismith het prop. Roos met Ansie Grobler, ’n weduwee, in die huwelik getree. Uit hul huwelik is vier kinders gebore: Maretha, Christelle, Isabel en Jaco.

Vroeg in hul huwelikslewe is veelvuldige sklerose by Ansie gediagnoseer. As invalide was sy van haar eggenoot afhanklik om haar te versorg. “Hy het dié taak met liefde verrig,” skryf ds. Breed, “terwyl hy tegelykertyd vader en moeder vir sy kinders moes wees te midde van sy bedieningswerk en die gepaardgaande verpligtinge wat dit meegebring het.

“Hy het nie daaroor gekla nie, maar dit blyk duidelik uit die gedigte wat hy gedurende hierdie tyd van sy lewe geskryf het dat dit vir hom ’n smartlike beproewing was.”

Ds. Breed skryf ds. Roos was as predikant “besonder toegewyd en as pastorale begeleier het hy geen moeite ontsien om gemeentelede by te staan nie, meestal onder die moeilikste persoonlik omstandighede. Hy moes dikwels aan ander vertroosting bied terwyl hy dit self broodnodig gehad het.”

Hy het sy diepste gevoelens self so verwoord:

Hoe pynlik die gedagte elke nuwe môre weer

vandag presies soos gister en elke ander dag –

siekte, gebondenheid –

die groot seer wat jy probeer verskans agter vriendelikheid en lag.

So gaan die dae, weke, maande, jare om.

Soms blymoedig

Soms so diep terneergedruk.

Die lange jare maak mens moeg en tam!

Ja, tot die dood toe tam.

In moedeloosheid word jy keer op keer gevang.

“Die verkondiging van God se Woord was altyd vir hom ’n hoë prioriteit,” skryf ds. Breed. “Selfs toe sy siekte al ver gevorder was en hy worstelend in die hospitaal gelê het met sy verstand soms nie meer so helder nie, het hy grepe uit preke voorgedra en gedeeltes uit die Bybel aangehaal.”

6 thoughts on “22 Julie 2004 | Ds. Van Staden Roos oorlede

  1. Baie dankie vir hierdie berig dit is my pa gewees. Die beste man in die wereld wat my pa en ma was. Hy het die laaste 3 jaar van sy kanker stryd by my gebly. Nooit een dag gekla net dankbaar gewees tot hy sy laaste asem uitgeblaas het. Hy was in n koma en paar uur voor hy dood is terwyl al ons kinders by hom was wakker geword en gese …. dis mooi dis baie mooi …. hy het die hemel gesien …….. en paar uur daarna dood. Pappa mis jou elke dag van my lewe.

    Liked by 1 person

  2. Hom baie goed geken. Die Roos familie is familie.Sy ouma en Pa was neef en niggie. Sy grootoupa Oom Koot was die broer van Oupa Rooi Jan. Sal hom altyd onthou vir sy vriendelikheid en lekkerlag altyd n opgewekte mens. Sy Ma was n nooi van Staden ook van Soutpansdrif van daar die naam Van Staden Roos.

    Like

    1. Van Staden was met my suster getroud Ansie Grobler gebore van der Walt. Haar man Jannie Grobler is dood in n motorongeluk en haar twee dogtertjies Mareta en Christelle was nog kleuters.. sy en van Staden het twee kinders saam gehad Isabel en Jaco. Sy is na n stryd van ongeveer 20 jaar met veelvuldige sklerose oorlede. Van Staden het altyd onderskraag en lank alleen versorg. Gereformeerde groete Rina Buys

      Liked by 1 person

  3. Van Staden Roos was my man Koos se ouer broer en het ons 50 jaar gelede, in 1968 in die huwelik bevestig. Sy lewe was deurgaans ‘n stryd met beproewings wat hy daagliks met slegs die genade van Bo te bowe kon kom. Desondanks het hy sy sin vir humor behou en soos tevore reeds genoem is, was hy dikwels die vertrooster wat self behoefte gehad het aan vertroosting en bemoediging. Ons eer sy nagedagtenis.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Rina Buys Kanselleer antwoord