24 Julie 1862 | Ds. L.P. Vorster gebore

Ds_Louis_en_mev_Abrahama_Vorster_in_die_Gereformeerde_pastorie_op_Erasmus_(Bronkhorstspruit),_Oktober_1930.jpg

Ds. Louis en mev. Abraham Vorster in die pastorie van die Gereformeerde Kerk Erasmus (soos Bronkhorstspruit toe bekendgestaan het) in Oktober 1930 toe hul skoonseun ds. H.J.R. du Plessis, wat getroud was met hul dogter Susanna, predikant van die gemeente was.

Predikant, politikus ’n vurige vaderlander

Ds. Louis Petrus Vorster was predikant in die Gereformeerde Kerk en Volksraadslid vir die Nasionale Party.

Vorster is op hierdie dag op Middelburg, Kaap, gebore as die oudste seun van ds. Casper Jan Hendrik Vorster en sy vrou, Lasya Susanna van der Walt, wat oorlede is toe Louis net 12 jaar oud was.

Sy was ’n dogter van Hendrik Tjaart van der Walt, mede-eienaar van die plaas Grootfontein, die huidige landboukollege op Middelburg, waarop die Gereformeerde Kerk Middelburg, Kaap, op 1 Desember 1860 gestig is.

Predikante_op_die_Algemene_Vergadering_van_die_Gereformeerde_Kerk_te_Aliwal-Noord,_1904.jpg

Predikante op die Algemene Vergadering van die Gereformeerde Kerk te Aliwal-Noord, 1904. Ds. Vorster sit links voor, dan di. W.J. Snijman en Taetse Hamersma. Agter: Ds. J.G.H. van der Walt en dr. P.C. Snijman.

Ds. C.J.H. Vorster was predikant van 1880 tot 1899, toe hy oorlede is te Humpata, Angola, waarheen hy gegaan het om die plaaslike Gereformeerde kerk te bedien. Kort daarna moes ds. Louis Vorster, destyds leraar van Burgersdorp, na Humpata reis om sy stiefmoeder, Hester, daar te gaan haal en terug na die Kaapkolonie te bring.

 

Louis se grootvader na wie hy genoem is, is op betreklik jeugdige leeftyd oorlede. Sy grootmoeder was ’n kleinkind van Douw Steyn van die plaas Bulhoek, waarop die Gereformeerde Kerk Steynsburg in 1872 gestig is.

Ds. L.P. Vorster het in die volgende gemeentes gedien: Philipstown (1884–1893), Burgersdorp (1893–1905), Rustenburg (1905–1915) en Krugersdorp (1922–1928). Hy was ’n vurige prediker en het algemene vertroue in die Gereformeerde Kerkverband geniet.

Hy het as kurator van die Teologiese Skool gedien en was dikwels in die moderamen van die Sinode. Vir sy oortuigings het hy onverskrokke stelling ingeneem en sy simpatie met die Boererepublieke het hy openlik betoon. In die Tweede Anglo-Boereoorlog (1899–1902) het hy die Boeremagte by Stormberg in die Noordoos-Kaap besoek, is aangekla weens hoogverraad en vir sewe maande in ’n gevangenis opgesluit.

Ds_Louis_Vorster.jpg

Ds. Louis Vorster.

In 1903 het hy die Afrikanertrek onder Cornelis Visser na Argentinië vergesel, maar ná sy terugkeer ontmoedig hy om verskillende redes die verdere verhuising van Afrikaners wat nie minstens £500 besit nie, al was dit na sy mening ’n ryk land vir die landbou en veeteelt. Tog is in 1905 weer ’n trek daarheen onder M.M. Venter, oudlid vir Colesberg van die Kaapse Wetgewende Vergadering.

 

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) het Vorster op 14 Oktober 1914 ’n onderhoud gevoer met die eerste minister, genl. Louis Botha, en geprotesteer teen die inval van Duits-Suidwes-Afrika. As moontlike bedreiger van die oorlogspoging is hy gevange geneem, maar ontsnap uit die trein onderweg na Kaapstad.

Hy is op ’n plaas in die distrik Beaufort-Wes nogmaals in hegtenis geneem en opgesluit, eers in die Roelandstraatse tronk in Kaapstad, waar sy medegevangenes dr. W.P. Steenkamp en nog talle voormanne van die Hantam was, waar dr. Steenkamp indertyd predikant van die NG Gemeente Nieuwoudtville was.

Daarna is hy drie maande lank saam met mede- politieke gevangenes in die bandietetronk op Tokai, naby Kaapstad, aangehou sonder dat enige aanklagte ooit teen hom gebring of hy ’n kans gekry het om verhoor te word.

As groot kampvegter vir die Afrikaanse taal, godsdiens en tradisies het hy genl. J.B.M. Hertzog en die Nasionale Party ondersteun.

Mev_Abrahama_en_ds_Louis_Vorster,_15_Mei_1934,_Pretoria.jpg

Hierdie foto van mev. Abrahama en ds. Louis Vorster is op 15 Mei 1934 in Pretoria geneem op spesiale versoek van die redaksie van die Gereformeerde Kerk se Almanak. Dit het dan ook in 1935-uitgawe by sy lewenskets verskyn.

In 1915 betree hy die politieke terrein en verower die Volksraadsetel Albert, waarvan Burgersdorp die vernaamste dorp was, van ’n gedugte teenstander, adv. Henry Burton, die minister van finansies, wat in 1910 onbestrede verkies is vir die Regerende Party, voorloper van die Suid-Afrikaanse Party.

Ds. Vorster het met ’n meerderheid van 239 stemme gewen. Daar was 2 851 geregistreerde kiesers van wie 91,7% gestem het. Albert is in 1920 ná ’n herafbakening gekombineer met die kiesafdeling Aliwal en dié keer wen Vorster, steeds vir die Nasionale Party, met 17 stemme teen die dienende Volksraadlid vir Aliwal, Constantine Alexander Schweizer.

In 1921 is die bordjies in die gekombineerde kiesafdeling egter verhang toe ds. Vorster met 172 teen die Suid-Afrikaanse Party se Charles Arthur Augustus Sephton verloor. Ds. D.P. du Plessis, in ds. Vorster se lewenskets in die Gereformeerde Kerk se Almanak vir 1935, skryf dié nederlaag daaraan toe dat “soveel (swart mense) in daardie kiesafdeling intussen geregistreer” het.

Hierna het ds. Vorster teruggekeer na die bediening as predikant van Krugersdorp van 1922 tot 1928, toe hy sy emeritaat aanvaar het ná byna 45 jaar in diens van sy Kerk. Hy en sy eggenote het daarna op hul plaas in die distrik Ermelo gaan woon, waar hy eindelik siek geword het en verplig is om die boerdery prys te gee. Van daar is hy as “invalide” (volgens ds. Du Plessis) na Pretoria.

Grafsteen_ds_LP_Vorster.jpg

Ds. Vorster se grafsteen in die ou begraafplaas op Rustenburg.

Ds. Vorster het hom deurentyd vir die republikeinse ideaal beywer. Ná die Balfour-verklaring (1926) was hy een van die ontevrede republikeinsgesindes binne die geledere van die Nasionale Party wat hulle nie met genl. J.B.M. Hertzog se standpunt oor die konstitusionele posisie van die Unie binne die Britse Ryk kon vereenselwig nie.

Ds. Vorster was ’n vurige vaderlander met ’n sterk persoonlikheid. Onverskrokkenheid en ongekunstelde egtheid was kenmerkende eienskappe van hom. Op kerklike, nasionale sowel as onderwysgebied het hy sterk Calvinistiese beginsels gehuldig en hom ook vir die verwesenliking daarvan beywer.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s