25 Julie 1804 | Kerkorde van De Mist

tablemountain.jpg

Kaapstad en Tafelbaai in 1772, deur die Engelse skilder William Hodges. Twaalf jaar later het kommissaris De Mist sy kerkorde uitgevaardig.

Liberale beskouing kry vaste staanplek in Kaapse Kerk

Jacob Abraham Uitenhage de Mist (1749–1823) was ’n Nederlandse staatsman, staatshoof van die Bataafse Republiek van 17 April 1797 tot 1 Mei 1797 en kommissaris-generaal van die Kaapkolonie tydens die afwesigheid van ’n goewerneur van 21 Februarie 1803 tot 25 September 1804 in ooreenstemming met die Verdrag van Amiens.

Dr. Bouke Spoelstra skryf in sy Die Doppers in Suid-Afrika 1760–1899 soos volg oor De Mist se kerkorde:

Die ideë van die Franse Rewolusie en die Napoleontiese oorloë het Nederland tot die Bataafse Republiek omskep. Toe die Kaap in 1802 aan die Republiek oorhandig word, is die regering anders as dié van die eertydse Kompanjie ingerig.

uitenhage_de_mist.jpg

Kommissaris Jacob Abraham Uitenhage de Mist. Hy het op 7 Februarie 1804 ’n nuwe distrik geproklameer, wat later ter ere van hom Uitenhage genoem is. 

Toe Kommissaris De Mist en Goewerneur Janssens na die Kaap kom, word daar vir die eerste maal van “het Zuid Afrikaansch Volk” gepraat. Die bekwame De Mist was gematig-liberaal en het die godsdiens nodig geag om deug en goeie sedes in die staat te bevorder.

 

Netelige probleme het dadelik die aandag van hierdie manne gevra. In Graaff-Reinet het die soldate die kerkgebou as kwartiere gebruik en die Swellendamse kerk was in ’n finansiële krisis. Die Lutherane het nog rede tot klagte gehad.

Vanweë hierdie gistende ontevredenheid, het De Mist, sonder raadpleging van die kerke, ’n kerkordonnansie ooreenkomstig sy liberale denkbeelde afgekondig. Dit is nietemin dadelik deur die predikante toegejuig.

Waar Nederland die voorbeeld gestel het om “ter bevordering van deugd en goede zeden” die kerk te duld, het De Mist die gereformeerde gedagte dat die kerk ’n instelling van God is, wat skriftuurlik geregeer moet word, heeltemal uit die oog verloor. Die invoering van sy “Kercken-ordre” in 1804 is daarom die “sterfjaar” van die sewentiende-eeuse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika genoem.

Aan die ander kant sê (die Hervormde historikus) prof. S.P. Engelbrecht: “De Mist het met hierdie kerkorde aan Suid-Afrika ’n weldaad bewys. Dit het uit twee hoofdele bestaan, met ’n liberale beginsel wat van die Hollandse vryheidsgees getuig het en die afstammeling van die vrye Nederland waardig was.”

In teorie wou De Mist kerk en staat skei, maar die handhawing van staatsinmenging het van die kerk ’n staatsdepartement gemaak. Volgens die liberale opvatting word die “Hervormde Kerkgenootschap”, soos vergader op sy Sinode of Algemene Vergadering, nou die eerste maal as die eintlike Kerk gesien.

Die plaaslike kerke word beskou as onselfstandige dele van die groter geheel. Die meerderheid op die hoogste vergadering dra die hoogste gesag, ongeag die vraag of dit volgens die Skrif en Belydenis geskied. Hierdie regeringsbeginsels van die Rewolusie op kerklike erf word kollegialisme genoem.

De Mist het wel waardevolle orde in sake probeer stel, maar tegelykertyd ’n onuitwisbare niegereformeerde stempel gedruk op die kerklike ontwikkeling 1804.

Die Bataafse Bewind van 1802 tot 1806 was wel kortstondig, maar dit het aan die liberale beskouing ’n vaste staanplek aan die Kaap gegee om weldra met die tradisionele opvatting ’n stryd om lewe en dood aan te bind.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s