26 Julie 1996 | Ds. Alwyn Smit sterf

Vierdejaarstudente_aan_die_Teologiese_Skool_Potchefstroom,_1952

Vierdejaarstudente aan die Teologiese Skool Potchefstroom, 1952. Voor: A.S. Smit, J.H. Venter, Bouke Spoelstra en W.J.I.M. du Plessis. Agter: E.W. Meyer, P.G.W. du Plessis, W.J. de Klerk, C.D. van der Merwe.

Musikale dominee dra positiewe getuienis uit

“Ons as mense sal sê hy kon nog baie doen,” het ds. Johan Ligthelm, Alwyn Smit se kamermaat op universiteit in sy lewensberig in die GKSA se Almanak vir 1997 geskryf, “maar by God was sy taak op aarde afgehandel.”

Ds. Alwyn Schalk Smit is op hierdie dag in die ouderdom van 67 jaar en 10 maande oorlede. Hy was tussen 1953 en 1994 predikant in twee gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, naamlik Piet Retief (1953–1958) en Sasolburg (1958–1994).

Alwyn Smit is op 28 Januarie 1929 te Volksrust gebore as die oudste kind van Ras en Bernice Smit. Die opvoeding wat hy van sy ouers ontvang het, het ’n diep merk op hom gemaak wat lewenslank in sy optrede waargeneem kon word.

In 1935 het hy sy skoolloopbaan op Volksrust begin. Saam met sy ouers het hy in 1936 na Pietersburg (Polokwane) verhuis, waar hy einde 1945 gematrikuleer het.

Begin 1946 het hy sy studie aan die PUK vir CHO begin. In die studentelewe het hy reeds diep spore getrap en hom as leier onderskei.

Hy was ’n bekwame violis wat dikwels in dié hoedanigheid opgetree het. Hy het baie belanggestel in goeie musiek en was ook leier van die Alabama-studentegeselskap. Hy was onder andere lid van die studenteraad.

Einde 1952 het hy sy studie aan die PU vir CHO en Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk voltooi.

As predikant het ds. Alwyn Smit ’n geseënde bedieningstyd van 41 jaar belewe. Die eerste vyf jaar van sy bediening, 1953 tot 1958, was hy predikant van Piet Retief.

Van Januarie 1958 tot met sy emeritering in 1994 was hy deurentyd predikant van die Gereformeerde Kerk Sasolburg. Hy het op die kerklike akker met toewyding gearbei.

Ds. Ligthelm skryf in sy lewensberig: “’n Uitstaande eienskap van hom was dat hy ’n man van prinsipe was. Hy het nooit sy beginsels prys gegee nie. Daarvoor het hy met ywer in die lig van die Skrif gestry.

“So het hy hom ook openbaar as ’n ware herder van die kudde van die Here wat aan sy sorg toevertrou was. In al hierdie tyd het hy as ongetroude man alleen gestaan, maar geweet dat sy hulp is by die Here wat hom tot hierdie taak geroep het.”

Danksy ds. Smit se talent en liefde vir musiek het hy ruim 10 jaar lank gedien in die Interkerklike Kommissie vir Psalmberyming (IKKP). Hierdie kommissie het dan ook aan ds. J.P. Bingle opdrag gegee om op ds. Smit se begrafnis ’n waarderende woord te spreek.

Ds. Bingle het onder meer gesê die Verbondslied, of Skriflied (soos hy ook graag daarna verwys het), het ds. Smit na aan die hart gelê. Ds. Bingle het sy huldeblyk afgesluit met die gedagte:

“In die Verbondslied – waaraan hy so toegewyd gewerk het vir eie tyd en taal, maar nie kon voltooi nie – het hy van kleins af die toonaard en melodie (figuurlik) geleer van die nuwe lied wat hy nou saamsing met die 144 000 se lied voor die troon van God.”

Ds. Ligthelm skryf ds. Smit was ’n ware Afrikaner wat sy land en volk baie lief gehad het. “Hy het baie gedoen en positiewe Christelike getuienis uitgedra. Op hierdie terrein sal hy ook baie gemis word.”

Ds. Smit het sy tyd vir aktiewe bediening voltooi, maar in die kort tyd hom gegun ná sy emeritering, was hy nog baie aktief.

Facebook-kommentaar

Zacharias Venter
Zacharias Venter Ek het nog sy spore in Pongola gekry. As predikant van Piet Retief het hy ook in Pongola en Swaziland bedien. Die eerste lidmate wat met die stigting van die nedersetting Pongola toe is, het met groot lof van hom gepraat. Wyle Tannie Bessie Welken het vertel hoe hy by hulle huis aangekom het vir huisbesoek, sy nie geweet het dis die predikant nie en gedink het dis ‘n handelsreisiger; Ds Smit het heerlik oor die komiese situasie en haar verleentheid toe sy agterkom wie dit is, gelag. Hy het ‘n besondere mooi sin vir hom gehad en kon kostelike staaltjies ten koste van homself vertel. Hy het vir my as jong predikant gesê: Jong die eerste ses jaar van mens se bediening maak jy baie foute, die tweede ses jaar maak jy die foute reg en daarna begin jy werk.

Zacharias Venter
Zacharias Venter Hy het die staaltjie vertel van ‘n lidmaat in Swaziland wat nie eredienste bygewoon het nie. Toe vat hy hom daaroor aan.
Die lidmaat sê toe vir hom: Ds, ek het nie ‘n kar nie.
Sê ds Smit: Het jy ‘n trekker?
Lidmaat: Ja, ds.
Ds Smit: Nou kom dan met die trekker.
Lidmaat: Ds, ek kry skaam. Al die lidmate het karre en kom met hulle karre. Hoe sal dit nou lyk as ek met ‘n trekker kom.
Ds Smit: Jy is skaam vir mense. Moet jy nie eerder skaam wees vir die Here omdat jou skaamte vir mense jou van die kerk laat wegbly nie.
Lidmaat: Goed, ds. Ek sal met die trekker kom.
Saterdagmiddag was dit voorbereidingsdiens en dit is later op die tyd en die lidmaat is nog nie daar nie. Kerkraad sê vir Ds Smit dat hy nie kan begin met die diens totdat daardie man opgedaag het nie, want kom sal hy kom; hy’s ‘n man van sy woord. So 10 of wat minute later kom die trekker dan ook aan. Die oom het ‘n stoel agter sy sitplek vir die tannie gebou. Hy gooi so ‘n kaapse draai op die kerkterrein met die trekker en kom hou by Ds Smit stil, spring triomfantelik af en sê: Hier’s ek, ds!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s