26 Julie 2008 | Ds. P.C. Kruger sterf

Ds_PC_Kruger_trou_op_14_April_1957_met_Alida_Duursema_in_die_Gereformeerde_kerk_Kroonstad,_waarvan_haar_vader,_Jan,_die_bouaannemer_was.jpg

Ds. Kruger trou op 14 April 1957 met Alida Duursema in die Kroonstadse kerk, waarvan haar vader, Jan, die bouaannemer was. Van links: Theunis en Miriam Kruger, Blackie en Alida Kruger, Martha en Jan Duursema. Voor: Die strooimeisie Barbara Roller.

Geliefde predikant het in al vier provinsies gedien

Blackie Kruger, gebore op 8 November 1929, het reeds op vierjarige ouderdom plegtig verklaar: “Ek wil eendag preek.”

Dit was daarna sy enigste strewe en roeping om predikant te word; dus het hy al in st. 6 Latyn as skoolvak geneem en was dit sy hoofmotivering om vir sy matriekjaar na Gimmies in Potchefstroom te gaan.

Ds Blackie Kruger as jong predikant.jpg

Ds. Blackie Kruger as jong predikant.

Sy opoffering was groot; in sy matriekjaar en sy eerste jare as student het hy langnaweke en vakansies tussen Potchefstroom en sy ouerhuis op Eendekuil naby Springs of tussen Potchefstroom en Wagenpadspruit naby Magaliesburg, die familieplaas waar sy oupa gewoon het, met sy swart dikwielfiets afgelê, maar predikant wou hy word.

Eindelik was ds. Philippus Cornelius Kruger tussen 1955 en sy emeritaat in 1994 predikant in vyf gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, waarvan twee in die Vrystaat en een elk in die destydse Natal, Kaapland en Transvaal.

Sy lewensfilosofie was: Elkeen moet ’n kans kry om gehoor te word; elke saak het drie kante: myne, joune en die waarheid.

Blackie Kruger was ’n seun van Theunis Johannes Kruger en Mariam Susanna Bosman. Ds. Kruger se vader is as vyfjarige seuntjie tydens die Tweede Vryheidsoorlog geïnterneer in die konsentrasiekamp te Howick, Natal, saam met sy moeder, ouer suster en twee jonger broers.

Hy het deelgeneem aan die 1914-rebellie en was in die Sentraal-gevangenis in Pretoria in die sel langsaan kmdt. Jopie Fourie, wat tereggestel is vir hoogverraad. In 1930 het Theunis Kruger as koerantverslaggewer in Kaapstad gewerk, daarna was hy sekretaris van die burgemeester van Kaapstad en later redakteur van die Bolandse gemeenskapskoerant Paarl Post.

Oupa Theunis Kruger.jpg

Ds. Kruger se oupagrootjie, Theunis Johannes Kruger. Sy pa het dieselfde name gehad en was een van die 300 wat die GKSA in 1859 gestig het. Hierdie Theunis was ook teenwoordig as 19-jarige jong man.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het hy by Springs se stadsraad as taalkundige en sekretaris van die burgemeester gewerk. Eindelik was hy tot sy aftrede sekretaris van Port Edward se gesondheidskomitee.

Miriam Bosman, Blackie Kruger se moeder, is as driejarige tydens die Driejarige Oorlog in die konsentrasiekamp te Potchefstroom geïnterneer. Later jare was sy 42 jaar lank ’n laerskoolonderwyseres. Uit hul huwelik is ook Catharina Adriana in 1928 en Isak Daniel in 1942 gebore. Hy was joernalis en koerantredakteur.

Blackie Kruger het sy vroegte onderwys aan die plaasskool Stompiesfontein op Eendekuil in die distrik Springs ontvang, waar sy moeder een van die vier leerkragte was. Sy vader het die skoolbus bestuur en soggens die skoliere op die kleinhoewes en plase in die omgewing opgelaai en weer smiddae ná skool afgelaai. Die gesin het destyds in ’n personeelhuis by die skooltjie gewoon.

Sy hoërskoolopleiding het hy van 1942 tot 1945 aan die Hoër Seunskool Hugenote op Springs ontvang, waarna hy vir die sy laaste skooljaar na die Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom is en matriek in die eerste klas geslaag het. Op skool was hy lid van Hugenote se Volkspele-demonstrasiegroep.

Vierdejaarstudente_aan_die_Teologiese_Skool_Potchefstroom,_1954.jpg

Die vierdejaars van 1954 van die Teologiese Skool Potchefstroom. Voor (van links): P.C. Kruger, C.J. Malan, J.A. Jooste, N.J. Grobler. Agter (van links): N. Malan en N.J.P. Coetzee.

Aan die destydse PU vir CHO het ds. Kruger sy B.A. in 1949 cum laude verwerf en in 1950 ’n B.A. (Hons.) in wysbegeerte. Ná die gebruiklike vier jaar aan die Teologiese Skool het hy in 1954 sy Th.B. behaal en is hy beroepbaar gestel.

Ds_PC_Kruger

Ds. Kruger in die tyd toe hy predikant van Kroonstad was.

In later jare het hy ook van die PU vir CHO verwerf: ’n sertifikaat in pastorale psigologie in 1973, ’n M.A. in wysbegeerte en ’n sertifikaat in Christelike berading in 1983 en ’n sertifikaat in Bybelse predikant in 1984. In die volgende jaar het hy kursus gevolg in interpersoonlike kommunikasievaardighede aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Mensontwikkeling.

Op universiteit was hy leier van die PU vir CHO se Volkspelelaer, bestuurslid, voorsitter en kaptein van die skaakklub en bestuurslid en voorsitter van die Geselligheidskomitee. Hy het in die studenteraad gedien en was bestuurslid en voorsitter van die studenteraad se komitee vir kuns en kultuur.

Van die studentevereniging Korps Veritas Vincet was hy bestuurslid en sekretaris. Ook was hy referent van die Afrikaanse Studentebond se inter-universitêre groep oor kommunikasie, terwyl hy die Teologiese Studentevereniging se groepleier oor arbeid was.

Ds. Kruger se vyf gemeentes was Kroonstad 1955–1957, Vryheid 1957–1961, Theunissen 1961–1967, Burgersdorp 1967–1975 en Ontdekkers 1975–1994, toe hy sy emeritaat aanvaar. Daarna het hy in talle gemeentes hulpdiens verrig, die langste daarvan in die Outjo in 1997 en 1998.

Sy eerste beroep as proponent, op dieselfde dag op hom uitgebring as waarop hy ondervra is vir toelating tot die bediening, was juis van die GK Outjo, maar hy het daarna ook ander beroepe ontvang en eindelik dié van die GK Kroonstad aanvaar.

Ds Blackie Kruger in later jare.jpg

Ds. Kruger in later jare.

In dié gemeente se halfeeugedenkboek van 1975 vertel ds. Kruger van teenstand in die gemeente teen die sending: “Veral een ouderling was baie uitgesproke teen sending. Hoe nou gedaan? In plaas van ’n direkte vermaning, is ’n ander plan bedink.

“Met huisbesoek in sy wyk het die leraar by elke huis ’n vurige pleidooi ten gunste van sending gelewer, alles ten aanhoor van die ouderling. By die laaste huis is die ouderling onverwags en ewe plegtig aan die woord gestel: ‘Die ouderling sal nou oor die sending praat.’

“Met gebruikmaking van al die argumente ten gunste van sending wat hy by die ander twaalf huise gehoor het, het hy hom uitstekend van sy taak gekwyt. Hy was later elders voorsitter van die sendingkommissie!”

Ds Blackie Kruger se portret in die kerk op Burgersdorp.jpg

As predikant van Burgersdorp.

Ds. Kruger was voorsitter van die Kaaplandse Streekseeufees van die Teologiese Skool (TSP) in 1969 en lid van die kieskollege vir professore aan die TSP en Hammanskraalse Teologiese Skool (HTS). Hy het in die kuratorium van die TSP gedien en was sekundus vir die HTS.

Van 1967 tot 1975 was lid van die Sinodale Deputate vir Diakonale Sake en van 1976 tot 1991 van die Sinodale Deputate vir Noodtoestande, waarvan hy van 1979 tot 1991 voorsitter was; met die Laingsburgse Vloedramp van 1981 was hy ’n spesiale deputaat van die GKSA.

Voorts was hy lid van die Kieskollege vir Raadslede van die Randse Afrikaanse Universiteit van 1975 tot 1994 en van 1984 tot laasgenoemde jaar voorsitter.

Ds Blackie en mev Alida Kruger op hul 50ste huweliksherdenking 2007.jpg

Ds. Blackie en mev. Alida Kruger vier hul goue bruilof in 2007.

Gemeenskapsbetrokkenheid

  • Deelname aan spesiale Volkspelevertonings: Ingebruikneming Voortrekkermonument (1949), Van Riebeeck-fees, Kaapstad (1952).
  • Burgersdorpse Kultuurhistoriese Museum (Voorsitter van stigtingskomitee 1969–1971, voorsitter van Trusteeraad 1971–1975, verteenwoordiger van die Kaaplandse Provinsiale Administrasie in Trusteeraad 1971–1994.
  • Burgersdorpse Kultuurhistoriese Museum (lewenslidmaatskap as stigterslid 1971, erelidmaatskap toegeken in 1994).
  • Museumkomitee Roodepoortse Stadsraad (lid van komitee 1976–1993, voorsitter 1985–1993).
  • Federasie van Afrikaanse Kuultuurverenigings (FAK) – lewenslidmaatskap ontvang in 1965.
  • Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede (Sabra) – lewenslidmaatskap ontvang in 1968.
  • Biblioteekkomitee Roodepoortse Stadsraad (lid van komitee 1976–1992).
  • Goudveldse Kultuurraad (Bestuurslid 1979–1984).
  • Roodepoortse Suiderkruisvereniging (Bestuurslid 1980–1984).
  • Dirk Postma-tehuis, Burgersdorp (voorsitter 1967–1975).
  • Roodepoortse Sentrum vir Bejaardes (bestuurslid en vise-voorsitter 1988–1994, erelidmaatskap toegeken in 1994).
  • Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme (Sanra) (lid van Wes-Randse tak 1975–1992, voorsitter van Wes-Randse tak 1983–1990, lid van nasionale uitvoerende komitee 1983–1994).
  • Gekommissioneerde Kommando Dienskapelaan (Stormberg Kommando 1971–1975, Wes-Rand Kommando 1976–1979, Roodepoort Kommando 1979–1989).
  • Gekommissioneerde Kommandementskapelaan (Kommandement Witwatersrand 1979–1994).
  • Stigter en begeleier van telefoniese noodberamingsdiens HELP (Hulp en Liefde-projek), waaruit die organisasie Selfmoord Anoniem voortgevloei het).

Sy stokperdjies was Volkspele, kultuur en genealogie. Sy M.-verhandeling, Die Jainistiese Kategorieëleer oor die Oosterse Jain geloof, is in 1983 uitgegee.

Facebook-kommentaar

Anita Erasmus
Anita Erasmus Dit was my geliefde neef wat al sy Puk vakansies by ons aan huis in Johannesburg deur gebring het. Hy het my laat droom om eendag ook Puk..P U vir C H O.. toe. te gaan wat ook verwesenlik is. Vanaf 1958 tot 1992 was ek my nan..Rassie en al drie.kinders aan hierdie Universiteit verbonde..n Mooi deel van ons lewe is daar afgemeet..Dankie Here!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s