29 Julie 2015 | Ds. Pieter du Plessis oorlede

Kerkraad_van_die_Gereformeerde_kerk_Johannesburg-Sentraal_by_die_hoeksteenlegging_van_sy_eerste_kerkgebou,_27_Augustus_1960.jpg

Die kerkraad van Johannesburg-Sentraal afgeneem by die hoeksteenlegging van die kerkgebou in Lovedaystraat, 27 Augustus 1960. Agter: J. Dorland, L.J. van Rensburg, J.J. van der Walt, J.J. Davids, L. Venter. Middel: J. van der Graaff, P. Venter, C. Ham, J.H.L. Pretorius, K. Touwen, L. Venter en W. Booysen. Voor: J.H. Grobler, ds. P.G.W. du Plessis, J.J. van Wyk en J.J. Breedt. Afwesig: D.H.J. venter, N.S. Kruger en P.N.J. Buys.

Dominee het altyd nuut probeer uit die nimmereindigende Bron

“As herder en leraar het hy sy lidmate in elke gemeente se belange op die hart gedra,” skryf ds. Sarel Cilliers skryf in ds. P.G.W. du Plessis se lewensberig in Die Kerkblad van Februarie 2016. “In liefde het hy hulle bygestaan en vertroos in tye van nood.

“Almal is in nederigheid op gelyke voet behandel. Die kerkjeug het hom na aan die hart gelê en katkisasie was ’n baie belangrike deel van sy bediening. As bedienaar van die Woord was sy grootste worsteling om die nimmereindigende skatte uit die Woord in ’n beperkte tyd te moet deurgee.”

Ds. Du Plessis is ná ’n skielike terugslag in sy gesondheid in die Montana-hospitaal in Pretoria opgeneem. Net voor sy operasie het hy nog vir sy vrou, Ina, en die kinders ’n gebed gedoen. Met ’n handgewuif is hy die teater ingestoot. Ná die operasie het hy nie sy bewussyn herwin nie en is enkele dae later op 88-jarige ouderdom oorlede.

Ds_PGW_du_Plessis.jpg

Ds. Pieter du Plessis.

Ds. Pieter Gert Wessel du Plessis was van 1953 tot 1993 predikant in vier Gereformeerde gemeentes. Hy is op 18 Januarie 1928 in die omgewing van Matlabas gebore as oudste kind en enigste seun van vier kinders, en het ook daar grootgeword.

Ná matriek aan Hoërskool Rustenburg is hy na die PU vir CHO om te studeer vir predikant en die grade B.A. en Th.B. verwerf. Dit was baie moeilike en arm jare; tog was dit moontlik, met baie liefdevolle ondersteuning, om in 1953 sy teologiese studie te voltooi.

“Groot was die vreugde,” skryf ds. Cilliers, “toe die innerlike roeping wat reeds vroeg in hom gebrand het, eindelik uitwendig realiseer met sy bevestiging as predikant in Swartruggens.”

Op universiteit het Du Plessis sy aanstaande, Ina (’n nooi Du Plessis), ontmoet. Hulle is op 13 Julie 1957, tydens sy bedieningsjare in Johannesburg-Sentraal getroud. Uit die huwelik is vier kinders (twee seuns en twee dogters) gebore. Die eerste twee, Pieter en Marilette, is in Johannesburg-Sentraal gebore.

Nadat hy van 1953 tot 1956 in sy eerste gemeente het hy op 24 November 1955 as jong predikant met skaars drie jaar ervaring die beroep na Johannesburg-Sentraal gekry. Hy is in Januarie 1956 bevestig en sou tot Augustus 1961 in die gemeente bly. Hy het later geskryf hy was bang vir stad en vir die bediening wat daar op hom gewag het.

Gereformeerde_kerk_Johannesburg-Sentraal.jpg

Die eerste Gereformeerde kerk Johannesburg-Sentraal. Die argitek was Jan Koelewyn.

Soos sy voorganger het ds. Du Plessis te kampe gehad met die uitdagings van ’n klein gemeente met ’n geweldig vinnige wisselende lidmaattal wat hoofsaaklik uit jong mense bestaan het. Omdat dit as’t ware ’n gemeente van nuwe intrekkers was, was daar ’n gedurige tekort aan kerkraadslede en ’n gedurige van vooraf begin met nuwe lede.

Sy voorganger, ds. Flippie Snyman, het hom voor dié se vertrek uit die gemeente bemoedig deur hom te vertel van die span wakker diakens, want hy gewens het hy met hom saam Hennenman toe kon neem.

Skaars vyf maande nadat ds. Du Plessis in die gemeente bevestig is, was daar van dié 10 net een oor, naamlik Jan Davids. Die lidmate het ewe vinnig gewissel, want in die tweede predikant se tyd het tussen 600 en 700 lidmate in die gemeente gewoon, maar nooit meer as 200 op enige gegewe tydstip nie.

Die grootste uitdaging vir ds. Du Plessis was egter dat die gemeente geen eie aanbiddingsplek gehad het nie. Die akkommodasie wat die gemeente kon bekom, was nie altyd bevorderlik vir eredienste, katkisasie, kerkraadsvergaderings, evangelisasiewerk of susters- en jeugaktiwiteite nie.

Sonder ’n vaste adres moes die lidmate maar altyd weer op pad. Ds. Du Plessis skryf: “Dit het selfs een Sondagaand terwyl die preek aan die gang was, gebeur dat die ligte op ’n onverklaarbare wyse uitgegaan het en die gemeente na ’n ander saal, op die eerste vloer van die gebou moes gaan, waar die diens toe maar voortgesit is asof niks gebeur het nie. Die dinge het stremmend gewerk; moedeloosheid en afval was ’n dreigende gevaar.”

Die gemeente kon nie met middele uit sy eie geledere tot kerkbou oorgaan nie, want die bydraes van die minder as 200 belydende lidmate was nie eens genoeg om die lopende uitgawes te dek nie en moes jaarliks aangevul word uit die Gereformeerde Kerk se Eeufeesbedieningsfonds. Die pastorie in Auckland Park was toe reeds afbetaal, maar op die kerkperseel was nog die helfte van die koopsom verskuldig.

Die Sinodebesluit van 1952 waarin toestemming verleen is om binne die kerkverband te kollekteer, het die weg vir Johannesburg-Sentraal gebaan om sy eie kerkgebou te laat oprig. ’n Stukkie grond van 50 x 100 voet by Lovedaystraat 135 teenoor die Evkomgebou is vir R12 000 bekom.

’n Volle 16 kerkrade het ds. Du Plessis uitgenooi om hulle te kom besoek met die oog op Johannesburg-Sentraal se boufonds. Intussen is die plan van die kerkgebou met sy eietydse aansig gefinaliseer en onder die leiding van die argitek, Jan Koelewyn van die firma Geers, Koelewyn en Moors, het die gemeente onderneem om ook hul deel by te dra deur die orige skuld op die grond van ongeveer R5 000 self binne 16 maande af te betaal.

Ds. Du Plessis is selfs toegelaat om van huis toe huis te kollekteer in die gemeentes Beestekraal, Benoni, Bloemfontein-Wes, Bronkhorstspruit, Burgersdorp, Drieviersboom, Kemptonpark, Koedoesrand, Gereformeerde kerk Koster, Krokodilrivier, Linden, Matlabas, Potgietersrus, Reddersburg, Sannieshof en Venterstad. So het hy nagenoeg 2 000 huishoudings besoek en R34 000 ingesamel, onder meer R4 016 van ’n enkele gemeente.

Danksy dié geldinsameling kon die kerkgebou in Lovedaystraat, waarvan ds. Du Plessis die hoeksteen gelê het, voltooi en op Saterdag 19 November 1960 in gebruik geneem word. ’n Hele aantal jare lank het dié gebou volledig in al die gemeente se behoeftes voorsien.

In sy derde gemeente, Krokodilrivier, asook in die laaste gemeente, Pretoria-Rooiwal, was vanweë sy groterwordende kinders ook ’n besonderse betrokkenheid by die skole. Sy dienende karakter is duidelik opgemerk in beheerrade asook in ander gemeenskapsbetrokkenheid.

Die Hammanskraalse Teologiese Skool (HTS) was binne die gemeentegrense van Rooiwal. Hy en sy vrou het ’n besondere pad met die HTS geloop. Ina was onder meer 14 jaar lank die administratiewe klerk by die HTS, tot en met die oorskakeling na die Teologiese Skool Potchefstroom.

Ds. Cilliers skryf dit was vir hom “een van die juweeltjies in my bedieningstyd om ds. Pieter as emeritus te besoek. Die lang en diepgaande geestelike gesprekke uit die Bybel en oor die kerk sal mens altyd bybly. Hy het altyd nuut probeer put uit die nimmereindigende Bron.

“Daarby was sy innemende geaardheid en liefde altyd ’n bron van bemoediging en waardering. Sy besondere meelewing as emeritus in Waterberg was vir die gemeente kosbaar. Hierdie geestelike vader deurdagte adviese in verskillende situasies sal inderdaad gemis word.

“Die kerk van die Here was vir hom baie kosbaar; daarom was hy altyd meelewend met kerklike aktiwiteite. Hy was baie belangstellend oor meerdere vergaderings en het voluit meegeleef by plaaslike aktiwiteite.

“Sy nederige opregtheid sal mens altyd bybly. Selfs in moeilike tye was daar opregte dankbaarheid teenoor die Here.”

Al kon ds. Du Plessis later jare nie meer die Woord amptelik in eredienste bedien nie, was sy lewe een groot getuienis van die evangelie. Daarby was hy ’n natuurmens. Sy laaste jare op die plasie tussen Warmbad en Modimolle met die pragtigste natuurskoon was vir hom ’n kosbare lafenis.

Sy kennis van plante en bome het hierdie liefde beklemtoon. Kinders en kleinkinders, susters en swaers asook neefs en niggies kon heerlik saamkuier. Ds. Cilliers skryf: “Almal was vir hom lief en het hoë agting vir hom gehad.”

Sy familie se woorde in die begrafnisbrief lui: “As liefdevolle gesinsman gaan ons hom baie mis. Sy ryke nalatenskap is vir ons baie kosbaar – mot en roes kan dit nie verniel nie.”

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s