29 Julie 2014 | Ds. Jelte Kits oorlede

1971 vierdejaars TSP.jpg

Die vierdejaarstudente aan die Teologiese Skool Potchefstroom, 1972. Agter: E. Pretorius, S.J. van der Westhuizen, D.C.P. Scholtz, J.J. Erasmus, J. du Plessis, I.L. Bekker. Voor: H.T. de Villiers, J.L. Venter, P.J. Buys, J. Kits en M.F. van der Walt.

Dominee herstel nie ná ongeluk in vreemde

Ná sy emeritering in 2000 het ds. Jelte en Marie Kits nog in verskeie gemeentes hulpdiens verleen, onder andere ses jaar in Sabie. Maar op besoek aan hul twee kinders in Kanada is hy sodanig beseer toe hy by ’n trap afgeval het dat hy met ’n noodvlug na Suid-Afrika moes terugkeer.

Hiervan het hy nooit herstel nie en het hy die laaste tyd van sy lewe in die versorgingseenheid van Huis Eikelaan, Potchefstroom, deurgebring.

Ds. Kits (gebore op 1 Augustus 1935), wat drie gemeentes of kombinasie bedien het – Queenstown 1973–1976, Salisbury 1976–1977 en Carolina/Waterval-Boven 1978–2000 – het as vierjarige saam met sy ouers (Douwe en Tine) uit Holland na Suid-Afrika gekom. Hy was die oudste van vier kinders.

Prof. Faan Denkema skryf is in sy huldeblyk die Almanak vir 2016: “In 1961 het hierdie B.Com.-student gereeld by my – besig met my teologiese studies – kom kuier. Weke later het dit eers tot my deurgedring: Jelte is intens belangstellend in Marie, my suster, ook ’n Pukstudent.

“Hulle is later getroud en op 32-jarige leeftyd het sy roeping om predikant te word, hulle gesin weer na Potchefstroom gelei. Vier kinders is aan hulle geskenk: Douwe, Jakobus, Retha en Tinus.”

Kits Ds Jelte predikant v Salisbury 1976-1977  A171.jpg

Ds. Jelte Kits toe hy predikant van Salisbury was, 1976–1977.

Prof. Denkema skryf: “In Jelte Kits het die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika ’n nederige dienskneg gehad wat met oortuiging en roepingsbesef tot die koms van God se koninkryk op aarde gedien het. Sy arbeidsterrein, ver-al sy bediening in Salisbury, was baie groot en gevaarlik. Hier het lidmate – dit was tydens die bevrydingsstryd – met gewere na die kerkdienste gekom.

“Sy innemende persoonlikheid – opreg, deeglik, behulpsaam en pligsgetrou – het hom vir almal toeganklik gemaak. Hy het oor ’n goeie dosis humor en selfspot beskik.

“Nadat hy in die bediening bevestig is, het hy sy skoonpa as ‘die heilige Koos’ aan lidmate voorgestel. Al drie sy kinders was toe in Dopperpastorieë woonagtig.

“Kitskoffie sou die jong dominee drink, maar hulle moet nie Kitspreke verwag nie. Tengergebou en baie skraal, was hy glo gereeld met diakonieë in ’n stryd gewikkel om hulle te oortuig dat hy tog goed versorg is!

“Jelte en Marie was stappers in die vroeë oggendure en het seker duisende kilometers in hulle lewe afgelê. As bedienaar van die Woord het hy die gawe ontvang om op sy rustige manier sterk, positiewe leiding te gee.

“Op meerdere vergaderings was hy nie baie spraaksaam nie, maar ’n mens kon altyd luister as hy praat. Sy menings het deurgaans getuig van sy rotsvaste geloof, sy vrome lewensuitkyk, sy suiwer beginsels en eg-gereformeerde oortuigings.

“Die manier waarop hy huisbesoek gedoen het, was indringend, met die klem op vertroosting en bemoediging. Hy het nie geskroom om te vermaan waar dit nodig was nie. Soos ’n vader het hy wyse raad uitgedeel. Sy preke het tot nadenke gestimuleer en gedring tot selfondersoek, omdat dit berus het op goeie eksegese.

“In die gemeenskappe waar hulle gewoon het, was Jelte en Marie geëerd en voorbeelde van ’n Christelike lewenswandel.”

Facebook-kommentaar

Ria Vd Walt
Ria Vd Walt Was ons bure tydens ons verblyf en bediening inBelfast. Het tydens ons bevestiging aldaar ook weer spottend verwys na die Kits in sy van. Dit was ‘n voorreg om saam met hulle in dieselfde klassis te dien.
Constanze van der Walt
Constanze van der Walt Met deernis dink ons aan hom en sy liewe vrou!
Hanlie Jordaan
Hanlie Jordaan Pragtige, opregte mense…
Albertje Fouche
Albertje Fouche Ek het Jelte en sy ouers op Theunissen as dogtertjie eer ken waar sy pa die Bakkery besit het. Hulle het later na Henneman verhuis, waar ons hulle ook besoek het. Terwyl hy teologie geswot het en ek skoolgehou het, was ons saam in Pot ch sentraal gemeente. Na sy emeritaat het ons mekaar weer hier in Potch gekry. Hul het een van hul seuns in die tyd verloor. Dit was ‘n voorreg om Jelte te ken. Marie stap nog steeds waar sy wil wees.
Nico van der Merwe
Nico van der Merwe ja Jacobus is oorlede. Hy het ‘n slaghuis hier en in Klerksdorp gehad.
Anita Cilliers
Anita Cilliers Jelte was ons predikant in die tagtigerjare in Carolina. Dit was altyd n uitnemende genadevoorreg om veral na sy kategismuspreke te luister. Soos gesê deur prof Faan, (weer my predikant vir n tyd lank in Barberton) was hy nie n man wat geskroom het om die woord te spreek indien hy dit nodig gevind het nie. Ons gesin het 1 Sondagaand sonder wettige rede nie die aanddiens bygewoon nie. Toe ons weer sien staan hy in die kombuisdeur. “Nee, ek het maar net kom kyk of alles wel is by die Cilliers’s. Ek kan mos nie dink julle sal sommer wegbly nie?” Nou, ons was sonder woorde, maar het nie weer weggebly nie… Marie was n innemende nederige fyn dame en in daardie jare die 1ste predikantsvrou waarvan ek geweet het wat nie n “mevrou” was nie. Sy was sommer net Marie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s