1 Augustus 2001 | Ds. Chris Hattingh oorlede

Ds_C_Hattingh.jpg

Ds. Chris Hattingh. (FOTO: Piet van Maarleveld)

Geesvervulde predikant staan 38 jaar in bediening

“Omdat hy werklik sy roeping beleef het, het hy sy werk altyd met vreugde gedoen,” getuig dr. Tjaart van der Walt van ds. Chris Hattingh in sy huldeblyk in die Almanak vir die jaar 2004.

“Ook ouderdom en die hartseer aftakeling van sy laaste jare kon die roepingsgevoel nie uitwis nie. Mense na aan hom weet hoe hy dikwels gehuil het omdat hy nie meer sy roeping kon uitleef nie.”

Ds. Christiaan Hattingh was tussen 1948 en 1986 predikant in vyf gemeentes of kombinasies van die GKSA, waarvan sowat 17 jaar in sy laaste gemeente, Krugersdorp.

Chris Hattingh se pa – wat toe self maar 26 was – is oorlede voor die babaseun op 25 September 1921 op Hofmeyr in die Oos-Kaap gebore is. Sy pa het vir hom ’n plaas nagelaat en hy sou kon boer as hy wou, maar hy het van kleins af geweet hy is geroep om predikant te word.

Kerkraad_van_die_Gereformeerde_kerk_Johannesburg-Sentraal,_vroeë_1950s

Ds. Hattingh, van 1952 tot 1953 die eerste predikant van Johannesburg-Sentraal (in kombinasie met Johannesburg), en die kerkraad van Johannesburg-Sentraal.

Prop. Hattingh is in 1948 in sy eerste gemeente, Koster, bevestig, maar sou net drie jaar daar bly, want in 1951 het hy ’n beroep na die Gereformeerde Kerk Johannesburg aangeneem. Met die stigting van Johannesburg-Sentraal in 1952 het ook predikant van dié gemeente geword, maar net die volgende jaar ’n beroep na Pretoria aanvaar en sowat 13 jaar daar gebly.

In 1966 het hy na Potchefstroom-Noord gegaan. Ná ’n driejarige bediening het hy in 1969 ’n beroep na Krugersdorp aanvaar en daar gebly tot sy emeritering in 1986.

Dr. Van der Walt skryf: “Van sy kinders sê hy het ook sy fiemies gehad, maar min mense buite die intieme kring het dit geweet, want ‘Vroutjie’ het sy voorkeursmake geken en hom veilig deur sy vooroordele gestuur.

“Trouens, hoe veral sy – maar ook hulle kinders, Chris, Rika en Elsa – hom tot die einde toe met die grootste liefde en geduld versorg het – was vir almal rondom hulle ’n ontroerende voorbeeld. En met die aftakeling van sy geestesvermoëns het dit ál meer veeleisend geword.”

Professore_en_studente_van_die_Teologiese_Skool_Potchefstroom,_1947.jpg

Professore en studente van die Teologiese Skool Potchefstroom, 1947. Eerste ry: B. Duvenage, G.P. Scheepers, M.J. Booyens, prof. S. du Toit, prof. W.J. Snyman, prof. J.D. du Toit, prof. J.P. Jooste, P.W. Buys, C. Hattingh, F.W. Buytendach. Tweede ry: I.J. van der Walt, J.J. van der Walt, L.S. Kruger, P.J. Opperman, J.M. Opperman, E.J.G. Norval, P.G. Geertsema, C.H. Smit, H.J. Kruger, P. Snyman, H. Pelser, P.C. Rule, M.W. van der Walt. Derde ry: Z.C. Grobler, G.L. van der Walt, A.P. Malan, B. Spoelstra, H.A. Louw, H.J. Boshoff, L.J. Buys, A.J. Pelser, W. Venter, G.H.J Kruger.

Dr. Van der Walt beskryf ds. Hatting as “een van die nederigste en sagmoedigste mense wat ek ooit geken het. Dit was nie moeilik om vir hom lief te wees nie – hy het so spontaan liefde gegee.

“En dit het diep, diep uit sy hart gekom. Daarby was hy altyd onkreukbaar eerlik – skerp en onomwonde as dit oor sy eie foute gaan, maar nooit sonder begrip en deernis as hy ander oor hulle foute – en sonde – moes aanspreek nie.

“Terselfdertyd het hy nie in die slaggat getrap om soveel liefde na buite te gee dat hy sy eie huis afgeskeep het nie. Hy was ’n gesinsman by uitnemendheid. Ondanks sy stywe program het hy altyd vir sy kinders tyd gemaak.

“En dan veral ‘Vroutjie’ (soos hy Brechtje genoem het): Tot aan die einde moes sy verkieslik nooit ver van hom gewees het nie.”

Dr. Van der Walt skryf ds. Hattingh was “met hart en siel ’n herder. Sy kudde was nie bloot name op ’n lysie wat stelselmatig deurgewerk moes word nie. Elke besoek was ’n persoonlike ontmoeting – bowenal met dié Herder.

“Dit was vir hom vanselfsprekend om eers te luister, en nogmaals te luister, voor hy die woord neem. En nooit het hy die Woord verkondig voor hy nie self aandagtig en biddend daarna geluister het nie.

“Hy was lief vir lees, en om teologies besig te wees, was vir hom ’n vreugde. Hy het ’n besondere liefde vir die Heilige Gees gehad. Hy het nie net graag oor die Gees gelees en gestudeer nie; hy was inderdaad ’n Geesvervulde mens.

“Hierbenewens het die kerk hom altyd na aan die hart gelê. Hy het deurgaans die eenheid van al God se kinders oor kerkgrense, oor volks- en kleurgrense heen – sterk beklemtoon. Hy het nooit daarmee te koop geloop nie, maar sy diep roepingsbesef was onmiskenbaar.”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s