3 Augustus 1998 | Ds. Walter Meyer oorlede

Ds_EW_Meyer_en_sy_gesin.jpg

Ds. Walter Meyer en sy gesin. Die kinders is van links: Ernst, Ada (getroude van Steenekamp) en Jowika (getroude van Willemse).

Eerste Suidwester wat predikant geword het dien ook daar

“Oom Walter was ’n fynbesnaarde mens,” skryf ds. N.P. Heystek in sy lewensberig in die Almanak vir 2001. “Nederig en sensitief, soms selfs totaal broos.

“Sy lewe was om student, prediker en veral pastor te wees. Wanneer jy by hom gaan huisbesoek doen het, het hy jou nie laat gaan voordat hy ook vir jou voorbidding gedoen het nie. So het hy nooit aan sy eie belang gedink nie, maar deurentyd aan dié van ander.”

Ds. Ernst Walter Meyer was tussen 1953 en 1981 ’n predikant in vyf kombinasies of gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

Vierdejaarstudente_aan_die_Teologiese_Skool_Potchefstroom,_1952

Vierdejaarstudente aan die Teologiese Skool Potchefstroom, 1952. Voor: A.S. Smit, J.H. Venter, Bouke Spoelstra en W.J.I.M. du Plessis. Agter: E.W. Meyer, P.G.W. du Plessis, W.J. de Klerk, C.D. van der Merwe.

Walter Meyer is op 4 September 1920 in Angola gebore en is met die repatriasie van 1928/’29 saam met sy gesin in die distrik Gobabis hervestig. Hy was die eerste seun uit Suidwes-Afrika wat predikant in die GKSA geword het. Destyds was die sandpaaie oor die duine so onbegaanbaar dat die gesin op ’n keer ses uur aan 12 km gery het.

Ds_Walter_Meyer.jpg

Ds. Walter Meyer.

Walter Meyer was 25 jaar oud toe hy sy B.Com. aan die PU vir CHO verwerf. Kort hierna het hy tydens ’n aanddiens die innerlike roeping ontvang om predikant te word. Hy het dadelik met propedeuse studie begin en sy teologiese studie vier jaar later voltooi.

Dit was in sy twee laaste studiejare, terwyl hy by Koot en Johanna de Klerk (te Molenstraat) ingewoon het, dat hy sy aanstaande, Helena de Klerk, ontmoet het. As sy eggenote sou sy met die jare ’n reusebydrae lewer ter ondersteuning van sy persoon en bediening. Sy was orreliste van enkele gemeentes en het ook dogterskore afgerig.

In die eerste 15 jaar het die Meyer-egpaar die volgende gemeentes bedien: Venterstad (1953–1955), Olifantshoek in kombinasie met Daniëlskuil en met Upington as wyk (1955–1959), Otjiwarongo in kombinasie met Tsumeb en Grootfontein (1959–1965) en Pongola met Goedgegun as buitewyk (1965–1968).

In 1968 het die eerste terugslag hulle getref toe ds. Meyer baie siek word weens die eise en spanning van die bediening – wat hy met volle oorgawe gedoen het – wat vir hom te veel geword het. Hy is aangeraai om weens gesondheidsredes te emeriteer.

Ds. Heystek skryf: “Dit was vir hom ’n bitter besluit en die tye daarna nie maklik nie. Hy wou nog so graag dien, maar was eenvoudig nie daartoe in staat nie.” ln 1971 het uitkoms gekom, want hy is gevra om 10 dae per maand te wy aan die bediening van senior lidmate te Elandspoort (Pretoria-Wes) en een preek per maand in die gemeente te lewer.

Van 1975 af het hy ook hospitaalbediening in Pretoria in opdrag van die Gereformeerde kerke in Pretoria behartig. Stadig maar seker het sy kragte herstel.

Partikuliere_Sinode_Kaapland_van_die_Gereformeerde_Kerke_in_Suid-Afrika_op_4_Maart_1954_in_Windhoek_byeen.jpg

Die Partikuliere Sinode Kaapland van die GKSA op 4 Maart 1954 in Windhoek byeen. Dit was die eerste Afrikaanse Sinode van enige kerk wat in Windhoek vergader het. Voor: A.L. Aucamp, I.L. Botha, Hester Krüger, prof. S. du Toit, A.J. Pelser en E.W. Meyer. Ds. Izak Krüger staan links agter sy vrou. Nog predikant op die foto is di. G.P.L. van der Linde, M. Postma, D.C.S. van der Merwe, D.J. van der Walt, M. Venter, dr. Jan Schutte, ds. J. Ligthelm en dr. Bouke Spoelstra.

Danksy sy geseënde arbeid het Elandspoort hom in 1977 tot voltydse herder en leraar van die gemeente beroep. Dit was ’n blye dag vir hom, sy gesin en die gemeente, maar die voltydse bediening het kort voor lank weer vir hom te veel geraak toe sy brose kragte snel verteer is.

In 1980 moes hy opnuut op gesondheidsgronde emeriteer. Teen 1983 het hy weer soveel kragte herwin dat hy die Gereformeerde Kerk Suidkus kon gaan help. Hulle het hom vir ’n jaar genooi. Die een jaar het drie jaar geword voor die jong gemeente hul eie voltydse leraar kon beroep.

Ten spyte van sy siekte en persoonlike worstelinge, skryf ds. Heystek, “het God hierdie geroepene van Hom steeds baie vrugbaar gebruik”.

Vir sy begrafnis het sy dogter Ada die volgende woorde geskryf: “52 jaar (lank) het sy geloof in God Drie-enig sy passie geword en het hy soms met bomenslike deursettingsvermoë sy Godgegewe visie nagestreef. Sy dienslewering het hom dikwels deur donker dieptes gelei, sodanig dat dit vir ons as familie soms onverstaanbaar was dat hy steeds kon bly voortgaan.

“Vir hom was daar nooit kompartemente nie – sy lewe was God en God was sy lewe. Met ’n onsigbare oog het hy die onsienlike, onaantasbare, onverklaarbare God gesien en aanbid.”

Ds. Heystek skryf: “Hy was glad nie ’n vergaderingmens nie. Konflik was vir hom een te veel om te hanteer. Dit was ’n voorreg om hom te kon ken vir ’n aantal jare en steeds met sy gesin te kan saamleef. Naas die Bybel het hy die werke van Calvyn oor en oor gelees.

“Veral die selfverloëning waaroor Calvyn so pragtig skryf, het diep in hom bly vassteek. Ons weet die Here bly die Opperherder van hulle wat vir hom so dierbaar was en wat hy agtergelaat het. Soos die Here met hom was, sal Hy ook met hulle wees.”

Ds. Meyer is in die ouderdom van amper 78 jaar op 3 Augustus 1998 ná ’n kort siekte in Pretoria oorlede. Hy het sy vrou Helena (’n nooi De Klerk), drie kinders (Jowika, Ada en Ernst), drie skoonkinders (Flippie, Pieter en Elsabe) en sewe kleinkinders (Christoff, Ilana, Anabel, Walter, Ruan, Misha en Gabrielle) nagelaat. Die Meyer-gesin was met die jare ’n besonder hegte gesin en baie lief vir mekaar, volgens ds. Heystek.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s