4 Augustus 2009 | Ds. Frans de Bruyn oorlede

1955 Vierdejaarstudente aan die TSP.jpg

Die vierdejaars van die Teologiese Skool Potchefstroom, 1955. Voor: P.C. Snyman, P.J. Pelser, J.L.J. Snyman, F.N. ion-Cachet, L.S. van der Vyver. Agter: F.R.P. de Bruyn, A.S.L. Minnaar, J. Visser, T. Steyn.

Deernisvolle predikant ontslaap 23 dae voor 79ste verjaardag

“As prediker was hy absoluut Skrifgebonde en suiwer,” skryf  ds. F.L. Lessing in die Almanak vir 2011 van ds. Frans de Bruyn.

“Hy het nie geskroom om verkeerde dinge reguit en in die lig van die Skrif uit te spreek nie. Tussen reg en verkeerd geen tussenweg nie – die Skrif geld alleen. Sy gebede in die erediens en by huise werklik besonders en gevoelvol.”

Frans Roelof Petrus de Bruyn is op 27 Augustus 1930 op Lichtenburg uit die huwelik van Petrus Johannes de Bruyn en Hester Susanna Bekker gebore. Sy ouers was nasate van die stigters van die Gereformeerde Kerk te Rustenburg in Februarie 1859.

Nadat hy gematrikuleer het, is hy in 1949 na die PU vir CHO om vir predikant te leer. Hy het in later jare in die Universiteitsraad dien, waar hy waardevolle insette gelewer het, onder andere as voorsitter van die beleidskomitee.

Die Rektor het Frans de Bruyn se eienskappe soos volg beskryf: “Ek het hom dopgehou. As die regte besluit geneem word, bly Frans stil. As die besluit egter nie prinsipieel in orde is nie, neem Frans op ’n besliste manier standpunt in.”

Frans de Bruyn FRP.jpg

Ds. F.R.P. de Bruyn.

In 1952, die Van Riebeeck-feesjaar, het D Bruyn sy studie aan die Teologiese Skool Potchefstroom begin. Ds. Lessing skryf: “Met liefde en toewyding het hy hom aan sy roeping gewy. Vir hom was dit beslis nie maar net ’n beroep nie. So groot was die vertroue onder die kerke dat hy jare lank as Kurator van die Teologiese Skool gedien het.”

In sy tweede jaar aan die Teologiese Skool het hy ’n eerstejaar uit die Vrystaat, Annaline du Plessis, ontmoet. Ook sy stam uit ’n ernstig gelowige Gereformeerde voorgeslag. Dr. Wynand van der Merwe, by wie De Bruyn prakties gedoen het, het die jong paartjie op Steynsrust in die huwelik bevestig.

Annaline het later landswyd bekend word as jare lange redaktrise van Die Gereformeerde Vroueblad. Uit hul geseënde huwelik is twee seuns en twee dogters gebore: Abrie en Peet, en die tweeling Magda en Tersa. Ten tyde van ds. De Bruyn se dood het hulle vier kleinkinders gehad wat besonder geheg was aan hul oupa en ouma.

“Op gelowige manier het hulle die tragiese heengaan van Abrie op 37-jarige leeftyd en hulle rousmart verwerk,” skryf ds. Lessing.

Hy beskryf ds. De Bruyn as “steeds die herder wat onder leiding van die Opperherder – ons Here Jesus Christus – die kuddes aan sy sorg toevertrou, gelei en gedien het. Vanaf Ladybrand en Thaba’Nchu waar hy in 1956 as proponent bevestig is, het hul arbeidsveld oor ’n tydperk van 39 jaar die volgende plaaslike kerke ingesluit: Port Elizabeth, Carletonville en Kempton Park-Noord.”

Nadat ds. De Bruyn se emeritaat aanvaar het, het hy en sy vrou op Barberton gaan woon. Hier het hy steeds waardevolle hulp verleen tot sy gesondheid so verswak het dat dit vir hom moeilik was.

“Nooit het ’n mens Frans hoor kla nie,” skryf ds. Lessing. “Hy het altyd op navraag geantwoord: ‘Dit gaan goed!’ Selfs onder omstandighede van beproewing toe Peet as gevolg van serebrale malaria so te sê uit die dood aan hulle teruggegee is. Ook toe die ander kinders hulle teenwoordigheid tot so ver as Oos-Londen nodig gehad het.

Ds. De Bruyn is met ’n massiewe beroerteaanval tot hoër diens opgeroep.

“Sy afskeidspreek met emeritering is kenmerkend van hierdie nederige dienskneg van die HERE se lewenshouding, skryf ds. Lessing. “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval – ja, my erfenis is vir my mooi.”

“Sy dienswerk in die gemeente was sy groot vreugde en liefde,” skryf ds. Lessing. “Hy het elke probleem met begrip en teerheid hanteer en met uiterste vertroue en deernis. Agter die ernstige gesig was daar altyd groot deernis en ’n fyn humorsin. ’n Pastor vir jonk en oud met alleen die Skrif as grondslag.”

In sy feesgroete met die viering van die 40ste bestaan van die gemeente skryf hy die volgende, wat volgens ds. Lessing tipies van hom was: “In Kempton Park-Noord kon niemand maak soos hy/sy wou nie. Die dienswerk van ouderlinge en diakens het met die Woord van God in die hoof en die hart deurgegaan. Niemand het oor ’n ander geheers nie.

“Christus is Koning, so sal dit bly. As daar verskille was en spanning soms hoog geloop het, is rustigheid en kalmte uitgedra deur die regering vaan Christus, die Koning onder leiding van die Heilige Gees.

“As tug toegepas is, was dit met lankmoedigheid en geduld met één ding voor oë: Die Naam van die HERE moet groot gemaak word.”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s