7 Augustus 1955 | Magalina Postma oorlede

Uitsig_op_die_Irene-konsentrasiekamp_vir_hensoppers.jpg

Twee veramelwerke oor vroue se ervarings in die doodskampe van die Tweede Vryheidsoorlog het uit Magalina Postma se pen verskyn. Hierdie foto is in die Irene-konsentrasiekamp suid van Pretoria gemeem.

Skryfster 36 jaar lank weduwee ná drie huwelike

Magalina Margaritha Postma was ’n skryfster en leidster in die Vroue- Nasionale Party. Haar derde man, wat 36 jaar voor haar in armoede gesterf het, was ds. Dirk Postma, naamgenoot en seun van ds. Dirk Postma sr., die eerste Dopperpredikant.

Magalina Bronkhorst is in Desember 1868 op Koedoespoort by Pretoria gebore as ’n dogter van Philippus Karel Bronkhorst en sy vrou, Anna Elizabeth Zirka Jacoba Erasmus. Sy is op 7 Desember 1886 in Pretoria getroud met Daniel Jacobus Elardus Erasmus van Randjesfontein, Pretoria, wat in 1897 lid was van die kommando wat sir Leander Starr Jameson tydens die Jameson-inval aangekeer het.

Magalina_Postma.jpg

Magalina Postma (née Bronkhorst, vroeër Erasmus en toe Uys).

Op 26 Desember 1898 is sy getroud met Pieter Gysbert Steyn Uys, lid van die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Hy is in 1907 in Italië oorlede.

Haar derde huwelik, op 20 Januarie 1911, was met ds. Dirk Postma, die jongere. Hy was van 1884 tot 1888 leraar van GK Fauresmith, van 1889 tot 1890 van GK Humpata in Angola, van 1891 van die kombinasie Fauresmith-Petrusburg en van 1894 tot 1897 van Steynsburg.

In laasgenoemde jaar het hy ’n beroep aangeneem na sy geboortedorp, Rustenburg, waar hy op 6 Mei 1897 as leraar van die plaaslike Gereformeerde kerk bevestig is.

Weens insolvensie, wat deels toegeskryf kon word aan die spandabelheid van sy eerste vrou, het hy op 30 Junie 1905 ontslag geneem en is daarna as predikant afgesit.

Ds_Dirk_Postma_junior.jpg

Ds. Dirk Postma die jongere, Magalina Bronkhorst se derde en blykbaar laaste man.

Hy het tevergeefs probeer om herstel te word en het intussen ’n bestaan gevoer as ’n reisende agent (smous) wat boeke en ander ware op die platteland verkoop het.

Haar man het hom in enkele spekulatiewe transaksies begewe, maar in onbemiddelde omstandighede op Hopetown in die Karoo gesterf en is aldaar begrawe ná sy dood in 1919. Sy weduwee het blykbaar nie weer getrou het nie.

Stemme.jpg

Een van die twee versamelwerke wat uit Magalina Postma se pen verskyn het, Stemme uit die vrouekampe.

Magalina Uys was ten tyde van haar huwelik met ds. Postma ’n bekende inwoner van Middelburg, Transvaal. Hier het sy ’n tak van die Vroue- Nasionale Party gestig, waarvan sy voorsitster was.

In die tyd ná die 1914-Rebellie het sy £100 tot die Helpmekaarfonds bygedra. Sy het deelgeneem aan die vrouedemonstrasie in Pretoria tydens die Rebellie om die regering om amnestie vir die rebelle te vra en het minstens ses jaar lank in die hoofbestuur van die Vroue-Nasionale Party gedien.

Twee versamelwerke het uit haar pen verskyn: Stemme uit die vrouekampe gedurende die Tweede Vryheidsoorlog tussen Boer en Brit van 1899 tot 1902 (Potchefstroom, 1925) en Stemme uit die verlede: ’n versameling van beëdigde verklarings van vroue wat tydens die Tweede Vryheidsoorlog in die konsentrasiekampe verkeer het (Johannesburg, 1939).

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s