11 Augustus 1962 | Ds. Koos van Rooy sterf

Kranslegging_deur_die_Gereformeerde_Kerk_se_Sinode_by_die_Vrouemonument,_Bloemfontein,_1939.jpg

Ds. Van Rooy lê ‘n krans namens die Gereformeerde Kerk se Sinode aan die voet van die Vrouemonument, 1939.

 

Yweraar vir land en volk oorleef vader van groot nageslag

Die onvergeetlike ds. Koos van Rooy is op hierdie dag oorlede, net twee dae ná st 94ste verjaardag en 36 jaar nadat sy vrou hom op Bethulie ontval het tydens die ingebruikneming van die Afrikaanse Psalmberyming.

Vir die eerste deel van sy lewensverhaal, sien 9 Augustus se inskrywing.

Op Bethulie het ds. Van Rooy ’n gemeente aangetref wat gebukkend gegaan het onder groot geldelike laste. Blykbaar was dit nog altyd die gevolge van die Driejarige Oorlog. Dadelik is aan die werk gespring om hierdie toestand reg te probeer stel.

Destyds het ds. Van Rooy nie net sy hande vol gehad met sy eie gemeente nie; vanaf 1906 moes hy Philippolis en Fauresmith as konsulent bedien. Ook in Zastron moes hy gereeld dienste gaan hou en in 1908 het die lidmate op Springfontein die versoek aan die Kerkraad gerig dat ook daar dienste gehou word.

In 1909 het die lidmate op Smithfield, wat toe 19 getel het, ook ’n versoek tot Bethulie se kerkraad gerig om plaaslike eredienste. Die Kerkraad het besluit om dié versoek toe te staan en dat ds. Van Rooy wel af en toe daarheen kon reis om ’n diens te hou. So moes hy dus die hele suidelike Vrystaat bedien.

Ds_JA_van_Rooy_en_die_kerkaad_van_die_Gereformeerde_kerk_Bethulie,_1930.jpg

Ds. Van Rooy en Bethulie se Gereformeerde kerkraad, 1930. Dié foto is geneem met ds. Van Rooy se 25-jarige ampsbediening op Bethulie. Agter: Oudle. S. Nortje, D.S. Venter, S. du Plooy, H. Snyman, I. Kruger (Beskuitfontein), diakens J. Pelser en G. du Plessis. Middel: Br. A. du Plessis (koster), oudle. H. Coetsee, I. Kruger (Lincoln), P. du Plooy, ds. Koos van Rooy, oudle. Harm Kruger, Koos du Plooy en W. Coetzee. Voor: Diakens H.J. Coetzee, H. Coetzee, J. van Zyl, Koot Kotze, H. Myburgh, Koot Pretorius, Arie Kruger.

Op 16 Augustus 1930 het die gemeente die seldsame voorreg gesmaak om die 25-jarige bediening van ds. Van Rooy in die gemeente feestelik te gedenk in die ou kerk. Namens die kerkraad het oud. Piet du Plooy aan ds. Van Rooy ’n adres en ’n beurs aangebied.

Daarna het nog verskeie persone hulde gebring aan die jubilaris vir die arbeid wat hy in Bethulie verrig het. Ds. Van Rooy het in sy antwoord gemeld dat hy in die 25 jaar met 49 ouderlinge en 86 diakens in die kerkraad saamgewerk het.

Nie lank ná sy 25-jarige ampsbediening in Bethulie nie, het ds. Van Rooy aan die kerkraad bekendgemaak dat die vorige Sinode aan die Kuratorium opdrag gegee het om ’n Administratiewe Buro van die Gereformeerde Kerk op te rig en dat die Kuratorium hom benoem het om die betrekking te neem.

In die naweek van 24 tot 26 April 1931 het die gemeente afskeid geneem van hul predikant, wat hulle 26 jaar bedien het en diep spore in die gemeente en gemeenskap van Bethulie getrap het. Hoe wyd sy belangstelling en invloed was, blyk uit die verskillende adresse wat by sy afskeid aan hom oorhandig is, naamlik van die Gereformeerde kerk Bethulie en die kerkraad van Philippolis.

Van die katkisasiekinders te Philippolis. Van die NG gemeente Bethulie. Van die burgemeester en stadsraad van Bethulie. Van die direkteur van onderwys in die OVS. Van die Helpmekaar-tak te Bethulie. Van die Dingaansfeeskomitee van Bethulie. Van die skoolraad en skoolkommissie.

800px-Gereformeerde_Kerk_se_deputate_vir_Psalmberyming.jpg

Die Gereformeerde Kerk se deputate vir Psalmberyming, omstreeks 1935 in Bloemfontein byeen. Voor: Totius (ds. Van Rooy se swaer), ds. Van Rooy, ds. A.S.E. Yssel. Agter: dr. Gerrit Dekker en ds. JV Coetzee.

Hoewel ds. Van Rooy na Potchefstroom vertrek het om as hoof van die Administratiewe Buro sy kragte te gee aan die kerkverband, het ’n innige band tussen hom en Bethulie gebly. Die band met Bethulie is in 1936 verinnig, toe hy sy vrou hier aan die dood moes afgee. Saam het hulle na die Sinodesitting op Bethulie gekom, wat vir ds. Van Rooy van soveel vreugdevolle betekenis was.

Begrafnisstoet_van_mev_Brechtje_van_Rooy,_gebore_Postma,_Bethulie,_1936.jpg

Die begrafnisstoet van mev. Brechtje van Rooy, Bethulie, 1936.

Tydens die sinodesitting sou die Afrikaanse Psalmboek aan die kerk oorhandig word en dit was juis op voorstel van ds. Van Rooy dat die groot werk van psalmberyming in Afrikaans begin is. Die voltooide werk is deur die digter, Totius (’n swaer van ds. Van Rooy se vrou), juis aan hom, as voorsitter van die kommissie van Psalmberyming, oorhandig.

Op Bethulie het mev. Van Rooy ernstig siek geword en ná ’n kort lyding is sy oorlede. Sy is op Bethulie begrawe. Ds. Van Rooy sou sy vrou met baie jare oorleef en is in die hoë ouderdom van 94 jaar in Pretoria oorlede. Aan sy wens is voldoen, naamlik om langs sy vrou begrawe te word.

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s