23, 24 Augustus 1572 | Bartolomeusnag

La_masacre_de_San_Bartolomé,_por_François_Dubois.jpg

’n Skildery deur François Dubois, ’n Hugenoteskilder wat omstreeks 1529 in Amiens gebore is, maar in Switserland gaan woon het. Hoewel hy nie self die slagting aanskou het nie, beeld hy admiraal Gaspard de Coligny se lyk uit wat by ’n venster uithang regs van die middel van die toneel. Links agter kan Catherine de’ Medici gesien word waar sy uit die Louvre-kasteel kom om ’n stapel lyke te inspekteer.

Slagting versprei eindelik na hele Frankryk, eis 20 000 lewens

Bartolomeusnag (of bloedbruidlof) was ’n grootskaalse uitwissing van Franse protestante (die Hugenote) in die nag van 23 op 24 Augustus 1572. In die daaropvolgende maande het ’n golf van geweld oor die hele Frankryk gespoel, waarin eindelik sowat 20 000 Hugenote uitgemoor is.

Onder dié wat oorleef het se nasate was ook die stamouers van bekende Dopperfamilies soos die Du Plessis’s, Du Toits, Coetzees en Viljoens.

François_Clouet_-_Admiral_Gaspard_II_de_Coligny.jpg

Admiraal Gaspard de Coligny, leier van die Hugenote, na wie die dorp Coligny in Noordwes genoem is.

Die toenemende invloed van die Hugenote-leier Gaspard de Coligny aan die Franse hof en die voortspruitende versoening tussen die vors en Protestantisme het op 18 Augustus 1572 gelei tot die troue van die Protestantse leier Hendrik van Navarre (die latere Hendrik IV van Frankryk) met Margaretha van Valois, jonger suster van koning Karel IX van Frankryk.

Die hele Protestantse adel het vir die bruilof na die Katolieke Parys gekom en die vernaamste lede het agterna in die stad gebly om samesprekings met die koning te voer. Op 22 Augustus het iemand De Coligny, leier van die Hugenote, om die lewe probeer bring. Hy het ’n vinger verloor en een van sy elmboë is verbrysel, maar hy het die aanslag oorleef.

Gemoedere in albei godsdienstige kampe het egter kookpunt bereik. Uit vrees vir ’n wraakaanval deur die Hugenote het Catharina de’ Medici, moeder van die bruid en van die koning, en die radikaal Katolieke Hendrik de Guise koning Karel IX probeer oorhaal om die leiers van die Hugenote tereg te stel.

Toe Karel IX eindelik, nadat hulle hom ure lank probeer oorhaal het, voor die druk swig, het hy met die dodelike uitspraak gereageer: “Maak hulle dood! Maar maak hulle almal dood! Sodat geeneen oorbly om my dit later te verwyt nie.”

Dié uitspraak het Henrik de Guise dankbaar gebruik om nie net die Protestantse leiers om die lewe te bring nie, maar ’n algehele bloedbad van stapel te stuur wat in die vroeë oggendure van 24 Augustus begin het.

Eers is enkele vooraanstaande Hugenote vermoor, onder andere admiraal De Coligny, maar hierna het onder die inwoners ’n hangpartytjie uitgebreek waartydens Protestante in die hele stad opgejaag en uitgemoor is.

Die slagting het enkele dae lank geduur, ondanks pogings van Karel IX om ’n einde daaraan te bring. In Parys is 2 000 Hugenote vermoor, maar in die daaropvolgende maande het die slagting oor die hele Frankryk versprei en is na raming sowat 20 000 Hugenote vermoor.

Hendrik van Navarre het hom noodgedwonge tot die Rooms-Katolisisme bekeer en is aan die hof gevange gehou, maar nadat hy in 1576 ontsnap het, het hy na die Calvinisme teruggekeer. Daarna het opnuut ’n binnelandse godsdiensoorlog uitgebreek.

In 1598 het Hendrik van Navarre, wat toe reeds amper nege jaar lank as Hendrik IV regeer het, die Edik van Nantes uitgevaardig. Dit het aan Hugenote die reg tot godsdiensvryheid verleen en ’n einde aan die byna 30 jaar lange godsdiensoorlog gebring. Aan die einde van dié oorlog het die Protestantse aandeel van die Franse bevolking van 30% tot 10% gedaal.

Kardinaal Richelieu het die Hugenote in 1629 weer ’n deel van hul regte ontneem en in 1685 is die Edik van Nantes geheel en al deur koning Lodewyk XIV herroep. Drie jaar later het die eerste Franse Hugenote na die Kaap gekom.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s