26 Augustus 1922 | Ds. Hennie Venter gebore

Professore_en_studente_van_die_Teologiese_Skool_Potchefstroom,_1963

Professore en studente van die Teologiese Skool Potchefstroom, 1963. Hennie Venter sit vierde van regs.

Bloemfonteiner net 15 gegun om as leraar te dien

“Oom Hennie was ’n nederige dienskneg van die Here wat met groot roepingsbesef en geloof op ’n laat stadium van sy lewe besluit het om predikant te word,” skryf ds. J.J. de Jager in ds. Hennie Venter se lewensberig in die Almanak vir 1980.

“Die 15 jaar dat hy kon dien, het hy optimaal benut. Hy het gewerk soos een wat geweet het dat die tyd min is. Met dankbaarheid teenoor die Here sal ’n mens altyd aan Hendrik Venter dink.”

Ds. Hendrik Johannes Stephanus Venter  was tussen 1964 en sy dood predikant in drie gemeentes van die Gereformeerde Kerk.

Ds_HJS_Venter.jpg

Hennie Venter in sy laaste jaar (1963) aan die TSP.

Hennie Venter op hierdie dag in Bloemfontein as die oudste seun van ’n gesin van ses kinders gebore. Sy skoolloopbaan het hy aan Grey-kollege in sy geboortestad voltooi en hom daarna as ’n handsetter bekwaam. In dié hoedanigheid het hy gewerk by Die Volksblad en The Friend, die destydse twee dagblaaie in die stad.

Hy is in 1948 met Margaretha Jansen getroud en twee dogters is vir hulle gebore. Begin 1957 verhuis die gesin na Potchefstroom waar hy inskryf vir ’n B.A.-graad met die oog op predikantstudie. Hy was 16 jaar as handsetter in die drukkersbedryf werksaam en het tydens sy studiejare gereeld nog in Potchefstroom se drukkerye gewerk om die studiekoste te bestry en sy gesin te versorg.

Omdat hy al 33 was toe hy begin studeer, het sy klasmaats dadelik van “Oom Hennie” begin praat en dié aanspreekvorm het tot met sy dood gebly. Sy vrou, Retha, het as verpleegsuster in Potchefstroom gewerk en die gesin se vriendelikheid, die aantreklikheid van die huislikheid en die koffie en beskuitjies wat altyd beskikbaar was, het oom Hennie en tannie Retha se huis daar langs Oom Schoonhoven se haarkappery, ’n welkome toevlugsoord vir menige jong student gemaak, skryf ds. De Jager in ds. Venter se lewensberig.

In 1963 behaal hy die Th.B.-graad en in 1964 word hy bevestig as predikant van die Gereformeerde Kerk Messina. In 1967 neem hy die beroep aan na Bultfontein en in 1975 na Warmbad, waar hy net 3½ jaar gearbei het. Vroeg die oggend van 23 Desember 1978 is hy skielik op Warmbad (Bela-Bela) oorlede ná 15 jaar in die bediening en 30 jaar van ’n gelukkige huwelikslewe.

Ds. De Jager skryf: “Sy ervaring het van die begin van sy studie af, vir hom ’n vertrouensposisie verwerf onder die jong studente met wie hy saam gestudeer het. Hy was menige dag ’n vader vir die jong mense met hulle probleempies.

“Dit was ook kenmerkend van sy bedieningsjare: Hy was ’n ware herder. Sy rustige geaardheid en gelykmatige temperament het van hom ’n geliefde vertroueling van sy lidmate gemaak. ’n Mens kon nie help om vir hom lief te wees nie.”

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s