27 Augustus 1933 | Afrikaanse Bybel in gebruik

Genl_JBM_Hertzog_met_'n_Afrikaanse_Bybel_wat_hom_oorhandig_is_op_die_dag_van_die_ingebruikneming_daarvan,_27_Augustus_1933,_voor_die_Bosmanstraatse_NG_kerk,_Pretoria.jpg

Genl. Hertzog en sy vrou, Wilhelmina, op 27 Augustus 1933, die dag waarop die Afrikaanse Bybel amptelik in gebruik geneem is, buite die Bosmanstraatse NG kerk. Hy hou die Bybel vas wat ds. Charles Murray (middel) aan hom oorhandig het.

Susterkerke neem deel aan Sentrale Fees in Bloemfontein

Kort voor die Afrikaanse Bybel sou verskyn, het die dagbestuur van die Kommissie vir die Bybelvertaling dr. J.D. du Toit (Totius) gevra om ’n gedenkboek oor die oorsetting van die Bybel in ons eie taal op te stel.

Maar terwyl dr. Du Toit besig was om stof in te samel, het hy verneem dat P.J. Nienaber besig was om ‘n M.A.-tesis oor die onderwerp te skryf. Die Bybelvertaler het die Dagbestuur toe gevra om hom van die opdrag te onthef.

GK Krugersdorp 1933 Nuwe Afr. Bybel

Kinders van GK Krugersdorp hou ’n optog om die Afrikaanse Bybel te verwelkom.

Wat hier volg is ’n uittreksel uit Nienaber se tesis, wat in 1934 as Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling in boekvorm verskyn het:

Hoewel ’n groot aantal kerkrade die Afrikaanse Bybel reeds (ná die aankoms van die eerste besending op 1 Junie 1933  in Kaapstad) in gebruik geneem het, het die oorgrote meerderheid besluit om met die offisiële ingebruikneming in die kerk te wag tot die dag van die sentrale fees.

Ds_HPM_Steyn_met_eerste_Afrikaanse_Bybel.jpg

Ds. H.P.M. Steyn, sekretaris van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap, het in Junie 1933 die eerste eksemplaar van die Afrikaanse Bybel gekry, wat hy hier vashou.

Dit is die betekenis van die dag in ons kerkgeskiedenis. Hierdie dag is in die verband belangriker as die datum toe die Afrikaanse Bybel in Kaapstad ontvang is. Dit is die dag waarop die bekroning plaasvind van die werk wat deur ds. S.J. du Toit begin is, en eers nou, hoewel op ander wyse, voltooi is.

Dit is byna 61 jaar gelede dat Pannevis die oorsetting in sy bekende koerantartikel bepleit het. Dit is in Augustus 1875 toe die beweging vir ’n Afrikaanse skryftaal begin is, met die einddoel om die Bybel in Afrikaans te vertaal.

Eindvertalers vd Bybel in Afr. 1e ry Prof JD du Toit (GKSA) & Prof BB Keet (NG Kerk). 2de ry Prof EE v Rooyen (NG Kerk) 137.jpg

Die eindvertalers van die Bybel in Afrikaans. Voor: Ds. J.D. Kestell (NGK) en dr. J.D. du Toit (GK). Agter: Proff. H.C.M. Fourie (NHKA), E.E. van Rooyen (NGK) en B.B. Keet (NGK).

Dit is weer in Augustus, maar nou 58 jaar later (1933) dat ons die hele Bybel in die landstaal feestelik inhaal in ons kerk. Voorwaar ’n betekenisvolle dag vir die volk van Suid-Afrika, ’n feesdag in die ware sin van die woord, ’n jubeldag.

Die fees is op byna elke plek verskillend gevier. In Pretoria het die gemeentes van die drie Hollandse kerke, ongeveer tien in getal, in optog na die Kerkplein gegaan, waar die plegtige feesviering in die opelug plaasgevind het.

Met behulp van die Polisieorkes is die welkomslied van dr. G.B.A. Gerdener gesing. Gen. Hertzog het namens die regering ’n Bybel van ds. Charles Murray in ontvangs geneem, terwyl ds. Swart ’n Bybel oorhandig het aan prof. dr S.P.E. Boshoff as verteenwoordiger van die Transvaalse onderwysdepartement.

Adviseurs_van_die_Afrikaans_Bybel.jpg

Adviseurs van die Afrikaanse Bybelvertaling, 1933. Boonste ry: di. J.P.H. Steyn, C.F. Kies, G.D. Malan, W.J.W. Naudé, A.S.E. Yssel*, W. de Vos. Middel: Di. C.W.M. du Toit* (Totius se halfbroer), H.J. Otto, proff. J.A. du Plessis*, C.J.H. de Wet*, dr. H.D. van Broekhuizen, di. Dirk Postma*, P.J.J. Boshoff en H.J. Pienaar. Voor: prof. B.B. Keet, Totius*, ds. J.D. Kestell, proff. E.E. van Rooyen en H.C.M. Fourie. Hulle het amptelik bekendgestaan as die Kommissie vir Afrikaanse Bybelvertalers. Dié foto is in Bloemfontein geneem. *Van die GKSA.

Laat ons ons egter bepaal by die sentrale Bybelfees wat in Bloemfontein gehou is. Die plek is ook belangrik in die opsig dat byna al die vergaderings van die Breë Kommissie, die Bybelvertalingskommissie en die Daaglikse Bestuur hier plaasgevind het.

Duisende het Sondagmôre om halfelf in die ruime Marksaal byeengekom, waar ’n plegtige atmosfeer van gewyde stilte, erns en dankbaarheid geheers het. Meer as vyfduisend volwassenes het die môre, en ongeveer dieselfde getal kinders en jongmense in die middag die dienste bygewoon.

Die diens wat uitgesaai is, is orals in die land deur groot getalle inluisteraars opgevang. Ons gee hier ’n opsomming van die verslag wat verskyn het in Die Volksblad van 28 Augustus 1933.

Totius Bybel.jpg

Elkeen van die vyf eindevertalers het ’n boodskap in sy eie handskrif geskryf. Dit is Totius s’n.

Orkesmusiek van hoë en gewyde gehalte is gelewer deur die orkes van mnr. Victor Pohl, wat grootliks daartoe bygedra het om die regte stemming te skep. Daarby het die kerkkoor van mnr. D. J. Roode, wat ’n honderdtal sterk was en reeds etlike maande lank hom vir hierdie dag voor-berei het, ’n meesterlike vertolking gelewer van die koorsang Halleluja uit die Messias van Händel.

Die verskillende stemme van die koor het in hul verskeidenheid saamgesmelt om ’n massale juigtoon van dankbaarheid te skep. Die diens is deur prof. dr. J.D. Kestell, voorsitter van die vertalerskomitee, gelei. Ds P.S. van Heerden, die Moderator van die Vrystaatse (NG) Kerk, was die feesredenaar.

Hy het in ’n kragtige toespraak oor Die Dierbaarheid van die Bybel verklaar dat hierdie feesdag ’n nuwe tydperk in die geskiedenis van die Afrikanervolk aankondig. Hy het die volk aangemaan om weer soos in die verlede sy hele lewe en bestaan aan die verhewe gedagtegang en die diepe godsdiens van die Bybel te veranker.

“Ons begroet hierdie feesdag” – so het hy sy rede begin – “as een van die skoonste en mees gedenkwaardige in ons hele geskiedenis. Dit is betaamlik dat die verskyning en ingebruikneming van die Bybel in Afrikaans gevier sal word as ’n volksfees. Hier is nie sprake van tydelike of politieke belange nie, maar van die hoogste, die geestelike belange van die volk . . .”

Nadat prof. Kestell ’n telegram van die Christen-Studentevereniging voorgelees het, het verskeie afgevaardigdes boodskappe van verwelkoming oor die verskyning van die Afrikaanse Bybel gerig.

Ds. H. Pienaar van Malmesbury het namens die Ned. Geref. Kerk die vertalers vir hulle groot werk bedank en gewys op die belangrike volksgebeurtenisse wat reeds in Bloemfontein afgespeel is.

Ds L.E. Brandt het namens die Ned. Herv. Kerk die Bybel verwelkom as ’n nuwe boodskap van God self en as die openbaring van die liefde van God in ons volkslewe.

Prof Ferdinand Postma.jpg

Prof. Ferdinand Postma het die Bybel in Afrikaans op die Sentrale Fees in Bloemfontein namens die Gereformeerde Kerk en die PUK vir CHO verwelkom.

Prof. F. Postma van Potchefstroom het namens die Geref. Kerk en die Potchefstroomse Universiteitskollege die volk aangemaan om die heilige pand wat aan hulle in hul eie taal afgestaan is, te bewaar en die godsdienssin daarvan na te lewe.

Prof. S.P. Engelbrecht het namens die Afrikaanse Universiteit van Pretoria daarop gewys dat deur die verskyning van die Bybel in Afrikaans ’n nuwe godsdienstige en sedelike krag sal uitgaan wat vernuwend en skeppend sal werk, want die godsdiens is die skepper van die Afrikaanse kultuur.

Mnr. S.H. Pellissier, direkteur van onderwys in die Vrystaat en voorsitter van die raad van die Grey-Universiteitskollege, het gewys op die rol wat die G.U.K. reeds in die vertaling van die Bybel gespeel het. Die inrigting het ’n rektor moes prysgee (prof. dr. J. D. Kestell) in belang van die werk, terwyl die huidige rektor (prof. dr. D.F. Malherbe) een van die taaladviseurs vir die vertalers was.

Daarby was die G.U.K. die eerste inrigting in Suid-Afrika wat ’n leerstoel vir Afrikaans ingerig het. Die inrigting spreek dus sy blydskap uit oor die daad wat volbring is.

Hy het voorts in sy hoedanigheid as Direkteur van Onderwys hom namens die duisende kinders verheug oor die Bybel se verskyning in Afrikaans en die wens uitgespreek dat die leerkragte die Afrikaanse Bybel in al sy skoonheid en eenvoud tot die kinders sal bring.

Ds. F.M. Smit van Dealesville het namens die Calvinistiese Studentevereniging verklaar dat die Afrikaanse Bybel gekom het om die volkslewe van die Afrikaner te verrein en te verdiep. Hy verwelkom dus van harte die verskyning.

Ongeveer vyfduisend kinders en jongmense het tydens die middagdiens onder toesig van hul Sondagskoolonderwysers in die Marksaal plekgeneem. Die diens het onder leiding van prof. dr. J.D. du Toit gestaan. Hy het in ’n kort rede gewys op die groot werk wat die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG) in belang van die verspreiding van die Bybel gedoen het.

Die dogterveldkornetskappe van die Voortrekkers van die Oranje-Meisieskool en die Sentrale Hoërskool het die diens in uniform bygewoon.

Ds H.P.M. Steyn, sekretaris van die BBBG, was die hoofspreker in die middag en het na aanleiding van 2 Kon. 22 vers 8 ’n boodskap tot die volk gebring. Die Afrikaanse Bybel moet nie alleen aangeskaf word deur elke huisgesin nie, dit moet ook gelees en in die praktiese lewe toegepas word.

Ds_HPM_Steyn_en_Totius.jpg

Twintig jaar later: Ds. H.P.M. Steyn in gesprek met Totius op die laaste foto wat van laasgenoemde geneem is voor sy heengaan op 1 Julie 1953.

Om voorspoed in die land te verseker is dit nodig dat die volksleiers weer tot die Bybel sal terugkeer en dit die rigsnoer van hul staatkunde en beleid sal maak soos die Presidente van die twee Republieke voor die tweede Vryheidsoorlog gedoen het.

Mej. Anna du Toit het ’n sangvertolking van die gedig van mnr S.J.M. Osborne gegee, terwyl die orkes en die koor weer opgetree het. Ds. J.A. du Plessis van Riversdal het die plegtigheid met ’n gebed gesluit.

Die fees was ’n algehele volksfees. Besielende woorde het van Suid-Afrika se grootmanne uitgegaan. Baie van die toesprake is van groot belang en waardevol.

 

2 thoughts on “27 Augustus 1933 | Afrikaanse Bybel in gebruik

Lewer kommentaar