28 Augustus 1987 | Ds. T. T. Spoelstra oorlede

Ds_TT_Spoelstra_op_huisbesoek_te_Rolspruit,_distrik_Bethal,_1926.jpg

Ds. Spoelstra in 1926 op huisbesoek te Rolspruit, Bethal. Hy het die Gereformeerde Kerk Bethal van 1925 tot 1927 in kombinasie met Johannesburg-Oos bedien.

Predikant tree ook op as Potchefstroom se burgemeester

Almal wat hom geken het, spreek van hom met die grootste liefde, eerbied en respek, het ds. W. de Vos in die 1989-uitgawe van die Almanak van ds. T.T. Spoelstra getuig.

Hy noem hom ’n begaafde en ’n merkwaardige, geëerde en begenadigde dienaar van die Here en sê dit is onmoontlik om waarlik reg te laat geskied aan die geweldige omvang van sy onbaatsugtige diens en groot bydrae in belang van die kerk en die koninkryk van God in die beperkte ruimte tot sy beskikking.

Ds. Tjibbe Thomas Spoelstra was van 1925 tot 1965 predikant in vier Gereformeerde, naamlik Johannesburg-Oos (1925–1927), Petrusburg (in kombinasie, 1927–1941), Pretoria-Oos (1950–1958) en Pretoria-Sunnyside (1958–1965).

Di_TT_Spoelstra_en_JV_Coetsee_Johannesburg_1926.jpg

Di. J.V. Coetzee en T.T. Spoelstra, moontlik op die stoep van ’n Johannesburgse pastorie.

Hy was die eerste predikant van Johannesburg-Oos sowel as Pretoria-Sunnyside. Van al vier sy werkkringe bestaan nog net Petrusburg nadat die ander drie ontbind het. Van 1941 tot 1949 was hy sekretaris-penningmeester van die Administratiewe Buro op Potchefstroom.

Ds. Spoelstra is op 13 April 1900 tydens die Driejarige Oorlog gebore en het ná laerskoolopleiding deur sy vader (’n onderwyser) gematrikuleer aan die Hoërskool Gimnasium te Potchefstroom en sy teologiese studie in 1924 voltooi.

Ds. Spoelstra is in 1925 in sy eerste gemeente, Johannesburg-Oos, bevestig. Omdat predikante destyds skaars was en die jong gemeente net 250 belydende lidmate gehad het, wat nie tot die gegoede stand behoort het nie, was die gemeente in kombinasie met Bethal in Oos-Transvaal, wat ook die verre Swaziland ingesluit het.

Ds_Tjibbe_Spoelstra.jpg

Ds. Tjibbe Spoelstra.

Sy tweede werkkring was minder uitgestrek, want in 1927 is hy bevestig as leraar van die kombinasie Petrusburg/Boshof. In 1941 is hy aangestel as sekretaris-penningmeester van die Administratiewe Buro op Potchefstroom, maar in 1950 keer hy terug na die bediening as leraar van Pretoria-Oos, nadat hy in 1949 enkele maande lank die lidmate van Eldoret in Kenia bedien het.

In dié tyd was hy grondlegger van die Gereformeerde Stigting. In 1958 was hy weer ’n gemeente se eerste leraar, dié keer van Pretoria-Sunnyside, wat in daardie jaar van Pretoria-Sunnyside afgestig het.

Personeel_en_kuratorium_van_die_Hammanskraalse_Teologiese_Skool,_1963.jpg

Personeel en kuratorium van die Hammanskraalse Teologiese Skool, 1963. Voor: Di L.J. Botha (rektor), T.T. Spoelstra (voorsitter) en H.S. Pelser (skriba). Agter: Di. P.J. Coetzee (administrasie), J.L. Helberg (dosent), dr. J.A. Schutte (kurator), G.H.J. Kruger (kurator) en H.F.V. Kruger (visevoorsitter).

Voor hy in 1972 finaal afgetree het, was ds. Spoelstra ook nog van 1965 af sekretaris-penningmeester en later registrateur van die Hammanskraalse Teologiese Skool.

Tydens sy lang bediening het ds. Spoelstra in baie deputategroepe gedien en ’n leidende rol in die kerkverband gespeel. Hy was al in 1930 kurator van die Teologiese Skool Potchefstroom waar hy bykans 35 jaar getroue en vrugbare diens gelewer het.

In 1961 het hy die voorsitter geword van die eerste kuratorium van die Hammanskraalse Teologiese Skool. Hy was twee maal voorsitter van die Nasionale Sinode, waarvoor hy uitmuntend toegerus was (hy was geskool in die kerkreg en o.m. medeskrywer van ’n verklaring van die Kerkorde), volgens ds. De Vos.

Op die breëre maatskaplike terrein het hy nie lyf weggesteek nie en was hy (om maar ’n voorbeeld te noem) raadslid en later burgemeester van Potchefstroom. Dit was juis toe dat deur sy bemiddeling die grond waarop die Teologiese Skool vandag staan, van die Raad verkry is.

Ds. Spoelstra is trou bygestaan deur sy vrou, Hester Sophia, gebore Van der Walt, met wie hy op 15 Desember 1925 getroud is. Uit die huwelik is sewe kinders gebore en die nageslag het tydens sy afsterwe reeds 32 kleinkinders en 11 agterkleinkinders getel.

Ds. Spoelstra het die laaste 15 jaar van sy lewe op Potgietersrus gewoon, waar die predikante en gemeentes oorvloedig kon put uit sy rype ervaring en ryke skat van kennis.

2 thoughts on “28 Augustus 1987 | Ds. T. T. Spoelstra oorlede

Lewer kommentaar