29 Augustus 1975 | Ds. H.F.V. Kruger oorlede

Algemene_Sinode_van_die_Gereformeerde_Kerke_in_Suid-Afrika,_Pretoria,_1933.jpg

1933: Die Algemene Sinode van die GKSA in sitting te Pretoria, afgeneem op die trap van die Uniegebou. Eerste ry: A. Postma, P.G.W. Snyman, Derk Rumpff, J.G.H. van der Walt, I.D. Krüger, prof. J.C. Coetzee, T.T. Spoelstra, A.S.E. Yssel, D.N. Kotzé, W.J. Postma, J.P. van den Berg, I.J. van der Walt. Tweede ry: H.F.V. Kruger, J.H. Boneschans, J.M. de Wet. Tweede ry: W.J. de Klerk, P.J.S. de Klerk, B.J. de Klerk, B. de Klerk, S.J. van der Walt, L.S. van der Walt, J. Schutte, N.H. van der Walt, E.I.J. Venter, H.S. van Jaarsveld, H.J. Venter, D.G Venter, J.V. Coetzee. Vierde ry: J. van Rooy, A. Aucamp, H.P.J. Pasch. Vyfde ry: J.A. van Rooy, J.H. Kruger, G.H.J. Kruger, W.F. Venter, I.J. Lessing, J.B. du Plessis, S.P. van der Walt, J.P. Jooste, J.L. de Bruin, S. du Toit, D.P. du Plessis, F.P.J. Snyman.

Eerste predikant in SWA immer bereid om te gee

“Ds. Kruger sal onthou word vanweë sy simpatieke optrede in al die kerke wat hy as dienswillige dienskneg opgebou het en sy onvermoeide ywer vir ons volk se kultuurerfenis,” skryf prof. S.P. van der Walt in die Almanak van 1977 oor ds. H.F.V. Kruger.

“Aan die einde van sy lewe dink ons aan hom as ’n persoon wat homself min gegun het, bereidwillig, vriendelik en opreg al wat hy van God ontvang het wou gee. Hy was ’n vriend in baie wonings. Ons dank die Here vir ’n mooi en geseënde lewe, wat veel ontvang en veel gegee het.”

Ds. Herculaas Frederik Venter Kruger was tussen 1931 en 1975 predikant in ses gemeentes of kombinasies van die Gereformeerde Kerk.

Ds_HVF_Kruger.jpg

Ds. H.F.V. Kruger.

Kruger was blykbaar ’n boorling van Reddersburg, want van daar het hy in 1924 na die Potchefstroomse Universiteitskollege gegaan om hom vir predikant voor te berei. Hy was een van destyds se 36 studente aan die kollege en van elke student is verwag om mee te werk aan die beeld van die klein inrigting.

Die aandeel wat student Kruger hier gehad het aan sport en studentebedrywighede het hom getipeer, skryf prof. Van der Walt: “Hy het nie net gekom om te ontvang nie, maar was bereid om gee. Ontvang – en gee. Daarmee kenskets ons die karaktereienskappe wat sy latere bediening sou kenmerk.”

Dié eienskappe het hy by sy voorsate geërf. Prof. Van der Walt skryf ’n voorbeeld hiervan is wat die Venter- en Kruger-familie, veral in die kerk van Reddersburg, bereid was om te offer vir hul beginsel en hul kerk. “Dit is net liefde wat bereid is om te offer, wat kan gee en aanhou gee en ds. Kruger het sy kerk en sy volk lief gehad.”

In 1931 is hy getroud met Lasea van der Walt van Potchefstroom en ook student aldaar. Hul eersteling is op Gobabis gebore. Kruger het die grade B.A. en B.D. behaal.

Ds_HFV_Kruger_lê_die_hoeksteen_van_die_eerste_Gereformeerde_kerkgebou_in_Durban.jpg

Ds. Kruger lê op 9 Junie 1945 die eerste kerkgebou van die Gereformeerde Kerk Durban se hoeksteen.

In ds. Kruger se bediening het hy, veral aan die begin, ’n uiters moeilike taak gehad. Sy gemeentes was verspreid oor groot gebiede, eintlik provinsies. In 1931 is hy as die eerste Gereformeerde predikant in Suidwes-Afrika bevestig, hoewel sy arbeidsveld eintlik die hele mandaatgebied was.

Sy lidmate het pas uit Angola aangekom ná die repatriasie van 1928/’29 en het eintlik self nog geen inkomste gehad nie. Sy woning was ’n paar kamers. Die paaie was spore in die sand en net gegaan oor kalkkliprandjies. Prof. Van der Walt: “Besef ons vandag wat dit is om motorwiele af te blaas om deur die sand te kom en weer daarna op te pomp om oor die klip te kan ry?”

In 1935 het hy die beroep aangeneem na Fauresmith-kombinasie in die Oranje-Vrystaat, waar hy ’n hele groep klein gemeentes bedien het. In 1937 hy na Oos-Londen gegaan en van daar die hele Oostelike Provinsie bedien.

Eers toe hy in 1942 na Durban vertrek, met ’n groot deel van Natal as bedieningsveld, het sy las draagliker geraak. Van 1945 tot 1949 het hy Pretoria-Wes bedien en toe ’n beroep aangeneem na sy laaste gemeente, Eloffsdal-Wonderboom-Suid, tot sy dood einde Augustus 1975.

Ná ’n lang skof van 45 jaar, waarvan hy die laaste jare glad nie gesond was nie, het hy heengegaan.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s