31 Augustus 2018 | Prof. Marinus Wiechers oorlede

Prof. Marinus Wiechers.jpg

Prof. Marinus Wiechers. (FOTO: AfriForum)

Regsgeleerde medeopsteller van Namibië se Grondwet

Die regsgeleerde prof. Marinus Wiechers is Vrydagaand 31 Augustus rustig en sonder pyn aan hartversaking oorlede in die versorgingsoord waar hy gewoon het met sy drie kinders om hom. Hy was lank siek en veral die afgelope 18 maande was sy gesondheid nie na wense nie.

Die 81-jarige was voorheen verbonde die regsfakulteit van Unisa en rektor van dié instelling. Hy was jare lank lidmaat van die Gereformeerde Kerk Pretoria (Paul Krugerkerk).

Prof. Wiechers was 40 jaar lank regsdosent aan Unisa, waar hy einde 1998 as rektor afgetree het. Gedurende sy akademiese loopbaan het hy aan vele ander Suid-Afrikaanse universiteite doseer en ook in Frankryk, Duitsland, Amerika, Engeland en Spanje studeer en klas gegee.

Sy boeke en artikels het meesal oor die staats-, volke- en administratiefreg gehandel. Hy was medeopsteller van die Namibiese Grondwet en lid van die tegniese komitee wat die tussentydse Suid-Afrikaanse Grondwet opgestel het. Ná sy aftrede was hy voltyds kunstenaar en skilder.

Prof. Wiechers het in Junie 2013 sy eerste groot kunsuitstalling gehou.

In 2018 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Jan H. Marais-prys vir uitstaande bydrae in Afrikaans as wetenskapstaal aan hom toegeken. Die pryse sou op 30 Mei tydens ’n glansdinee op Stellenbosch oorhandig word, maar omdat hy toe aan ’n rolstoel gekluister was, is syne tydens ’n spesiale ete in April in Pretoria aan hom oorhandig.

Prof. Wiechers, het die Akademie in sy aanbeveling geskryf, het die weg gebaan vir erkenning van die administratiefreg as ’n sleutelonderdeel van die Suid-Afrikaanse reg. “Sy seminale werk het ’n model van die Franse administratiefreg in Suid-Afrika nagevolg waardeur hy ’n nog immer beduidende bydrae tot die nuwe bedeling in SA gemaak het.”

Die prys van R500 000 is gelykop verdeel tussen prof. Wiechers en prof. Christo van Rensburg, taalkundige en navorsingsgenoot van die NWU. Albei wenners het ook ’n bronsbeeld ontvang deur Coert Steynberg, prof. Wiechers se voormalige skoonpa.

Prof Marinus Wiechers en Mimi Coertse.jpg

Prof. Wiechers en die sopraan Mimi Coertse tydens die opening van ’n uitstalling van sy skilderye in die Tina Skukan-galery, Pretoria, in Junie 2013. (FOTO: Lisa Hnatowicz/Foto24)

Ds. Petrus Venter, sy predikant in GK Pretoria, sê hy onthou prof. Wiechers as “opreg en nederig”, iemand wat “altyd met begrip geluister en sy insigte gedeel” het. “Ek ken nie nog so iemand wat ons land en sy omstandighede met soveel kennis, begrip en deernis kon opweeg nie.”

Voordat hy by GK Pretoria ingeskakel het, was hy jare lank as lidmaat en ouderling by GK Wonderboompoort betrokke.

Prof. Wiechers was ’n ywerige kunsversamelaar. In September 2013 het Bernardi Auctioneers Fine Art in Pretoria uiteenlopende voorwerpe uit sy versameling opgeveil. Onder die porselein en keramiek was William & Walter Moorcroft, ’n Lenci Elena Scavini-borsbeeld, Royal Doulton en reeksware van onder andere Royal Albert, Shelly en Arzberg.

Ook versamelfigure deur Lladro & Goebel Hummel, Italiaanse Muranoglas, Stuart-kristal en uiteenlopende Italiaanse en koloniale silwerware en speelgoed, wetenskaplike instrumente en ’n seldsame Laubscher-pop van Graaff-Reinet het onder die hamer gekom.

Onder die 160 skilderye, sketse, beeldhouwerke en grafiese kuns was werke deur Cecil Skotnes, Danie de Jager, Adriaan Boshoff, Zakkie Eloff, William Kentridge, Alexis Preller, JH Pierneef, Maud Sumner en Maggie Laubser, Erich Mayer, GW Pilkington en Adelio Zeelie.

Prof. Wiechers praat met die SAUK oor die Sassa-krisis.

One thought on “31 Augustus 2018 | Prof. Marinus Wiechers oorlede

  1. Prof Marinus – ek het jou net n bietjie geken maar genoeg om te weet dat jy n nederige Salomo was. Meeste van al jou attribute wat ek sal onthou is die feit dat jy n luisteraar by uitnemendheid was en wie n Afrikaner hart gehad het. Rus in vrede.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s