22 September 2016 | Ds. Christo van Vuuren oorlede

Proffie en Adelheid.jpg

Ds. Christo en Adelheid van Vuuren. (FOTO: Facebook)

Proffie ’n geliefde herder en besielende leraar

Ds. Christoffel Johannes van Vuuren het amper 40 jaar lank in vier uiteenlopende gemeentes gedien: Koedoesrand 1961–1966, Philipstown 1966–1969, Grootfontein 1969–1976 en Kemptonpark-Mooifontein 1976–2000. Wat hier volg, is ’n geredigeerde weergawe van sy lewensberig deur ds. Roelf du Plessis.

Christo van Vuuren is op 7 Julie 1935 gebore as die derde seun van Stoffel en Annie van Vuuren van Postmasburg. Hulle het ook nog ’n dogter gehad.

Toe Christo 13 jaar oud was, is sy pa skielik aan ’n hartaanval oorlede en het sy ma, ’n onderwyseres, die vier kinders alleen verder grootgemaak. Ná sy skoolopleiding is hy universiteit toe met ’n beurs van die Gereformeerde Kerke met die oog op predikantskap.

Adelheid en Christo.jpg

Vir sy kleinkinders was ds. Van Vuuren “Oupa Tergie”. (FOTO: Facebook)

Hy het tydens sy studentejare ’n leidende rol gespeel. Sy tydgenote onthou nog sy geleerde redes wat hy tydens studentebyeenkomste gelewer het. Daarvandaan kom die bynaam Proffie, wat later sy noemnaam geword het.

Hy het ywerig deelgeneem aan rugby, toneelspel, ens. Dit was in hierdie tyd wat hy sy lewensmaat, Adelheid le Roux, ontmoet het. Einde 1960 het hy afgestudeer.

Vanaf 1961 het hy Koedoesrand as ongetroude man bedien. In dié tyd het sy ma, Annie, by hom ingewoon.

Op 11 April 1964 het hy met die liefde van sy lewe getrou. Adelheid het dus in al vier sy gemeentes saam met hom gearbei. Die egpaar het vyf kinders.

spannetjie.jpg

Ds. Van Vuuren was altyd ’n voorbeeld vir sy kinders en kleinkinders. (FOTO: Facebook)

Ná sy emeritaat het hy nog aktief gebly met gereelde prediking in talle gemeentes. Hy het gereeld etlike jare lank hulpdiens in GK Primrose gedoen en verskeie tydperke in Hentiesbaai.

Hy was ’n geliefde herder en ’n besielende leraar. Oral waar hy en sy vrou, Adelheid, gewerk het, het hulle goeie vriende agtergelaat met wie hulle steeds kontak behou het. As herder het hy toegewyd gemeentelede, siekes en oues besoek. Hierin het sy eggenote hom getrou bygestaan.

As prediker was hy dinamies en het hy die Woord suiwer en verstaanbaar verkondig. Hy was nie ’n studeerkamerpredikant nie, maar ’n eerlike, harde werker in diens van die Koning van die kerk. Almal wat hom ken, sal weet dat hy nie baie gepraat het nie, maar hy het beginselvaste en duidelike standpunte gehandhaaf.

Saam met sy gemeentewerk het hy ook in al die plekke waar hulle gewerk het, sy plek vol gestaan in die breër gemeenskap.

Wat ook kenmerkend was van sy persoon en geaardheid, was sy droë humor en kwinkslae. So het hy self vertel van die keer toe die diaken se dogtertjie by hom op die preekstoel geklim het om sy kollekte op te neem.

Ná die tyd in die konsistorie sê hy vir die kerkraad: “Daar het vandag ’n profetiese ding gebeur. Julle moet sien, vroue gaan nog eendag diakens wees.” Jare later het dit toe werklik gebeur.

Tydens sy studiejare het hy gedurende vakansies by ’n myn in die Postmasburg-omgewing in die skrynwerkersafdeling gewerk. Daar het hy kennis opgedoen en ’n liefde ontwikkel om skeppend met sy hande te werk. Op elke plek waar hulle gewoon het, getuig klein “monumentjies” van sy gawe en harde werk.

Vir sy kinders was hy altyd ’n voorbeeld, vir sy kleinkinders “Oupa Tergie”, vir sy vrou ’n liefdevolle en toegewyde eggenoot en vir almal met wie sy pad gekruis het, ’n dierbare vriend.

2 thoughts on “22 September 2016 | Ds. Christo van Vuuren oorlede

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s