5 September 2015 | Ds. Lourens Aucamp oorlede

Ds Lourens Aucamp en gesin.jpg

Ds. Lourens en Tersia Aucamp en hul gesin, omstreeks 1986.

Kanker eis lojale vriend en geliefde predikant

Ds. Lourens Daniël Aucamp was tussen 1967 en sy emeritaat in 2005 predikant in vyf gemeentes of kombinasies. Ná sy dood op hierdie dag het dr. Pieter Heystek die volgende lewensberig oor hom geskryf:

Lourens Aucamp kind van die Kalahari. Op 30 September 1940 op die plaas Goedemoed in die distrik Vryburg gebore. ’n Verbondskind uit God se Vaderhand vir Lourens se aardse ouers, Kosie en Mina Aucamp. Welgeskape-gedoopte: Lourens van Louwrence wat “lourierkrans” beteken en Daniel beteken “God is my regter”. Oorwinnaarmens met die lewende Here as regter!

Die pad van die lewe as student

Laerskooldae by die skool op Gannahoek. Skool toe en huis toe op die rug van Vaaltyn, die donkie. En later van jare op ou Kommando se rug. Om van die koshuisdae by die tweemanskool op Bethel nie eers te praat nie.

Lourens se laerskooldae word vermeld omdat hy, so het hy vertel, reeds in graad 4 die roeping om predikant te word, in hom “omgedra” het. Januarie 1955 was die begin van die Aucamp-seun se hoërskooldae op Vryburg.

Einde 1958 slaag Lourens matriek met ’n onderskeiding in Afrikaanse Letterkunde. Februarie 1959 was die beginjare op die PUK “om vir predikant te gaan leer”! Harde werk en baie opoffering. Gefokus op alles wat tokkelok-wees inhou om einde 1966 beroepbaar gestel te word as predikant in die GKSA. ’n Kinderdroom wat waar geword het.

Die pad van die lewe as predikant

Prop. Lourens Aucamp se innerlike roeping is met ’n beroep (4 Desember 1966) na Glencoe/Newcastle bevestig. Vir 38 jaar en 7 maande sou hierdie geroepe dienskneg van die Here in die kerk diensbaar wees. In Glencoe/ Newcastle tot 1971. Bedieningspad-dae en -jare. Nederig-dankbaar as VDM. Woord en Woordbediening, pastor, vertroueling, geloofsgenoot en vriend. Bruikbaar en dankbaar om as vriend van die Bruidegom ook te kon dien in:

  • Magol: 1971-1975
  • Pietersburg-Noord/Dendron: 1975-1980
  • Kimberley: 1980-1984
  • Pretoria-Magalieskruin: 1985-1989
  • Cullinan: 1989-2005.

Die bedieningspad loop hoofsaaklik ’n pad deur die platteland. Die paar jaar in Pretoria was vir Lourens nie altyd maklik nie. Want hy was ’n vryburger van die Vryburg-Noord-Kaap-dorp. Die plaas en plaaswerf, die melkkoei en die plaashek wat wyd kon oopmaak, was vir ons broer inspirerend en bevrydend.

Daarom dat hy baie Sondae as emeritus in die Geref. Kerk Koedoesrand gepreek het. En wanneer hy op pad ’n koedoe sou raakloop, het hy altyd met opgewonde besef van die Skepper se grootheid, die grasie en trots en krag van dié dier beskryf.

Die preekstoel was die sentrumpunt van ds. Aucamp se lewe en bediening. Altyd eers vir homself gepreek en ineens ook vir die gemeente. God se woorde oor die lippe van dié nederige bedienaar Die Here se stem en so die gemeente tot ’n Godsontmoeting gelei.

Pastor was Lourens ook. Naby die lidmate gelewe. Hy kon hulle stem hoor. Hy het die hart van mense verstaan. Hy kon saam lag en huil. Hy kon vermaan en troos. Hy kon koers aandui. Hy het sy eie beperkinge geken.

Hy het nie voorgegee nie. Hy was geliefd. Hy was in die gemeentes waar die Here hom geroep het, geroepe dienskneg met die Woord van God in sy hand. Hy het die lewe geken!

Vaardig met die pen boeke en preke, artikels en notules van kerklike vergaderings, briewe en nota’s. Veral Lourens se vermoë om besluite van ’n meerdere vergadering korrek te notuleer, was opvallend. Netjiese handskrif. Maklik leesbaar en die kerklike dokumente deur hom opgeskryf, is ineens ook ’n skriftelike getuienis en nagedagtenis van Lourens Aucamp se dienswerk.

Tersia Miller Aucamp.jpg

Ds. Aucamp se weduwee, Tersia.

Die pad van die lewe as gesinsman

Tersia Miller van Barnard Huis op die Pote-kampus (Onderwyskollege) was ds. Aucamp se eggenote. Drie pragtige dogters word aan die egpaar se sorg toevertrou. Later van jare, skoonseuns en kleinkinders. En oupa Lourens se liefde vir sy mense, maar spesifiek die kleinkinders, was grensloos.

Die pad van die lewe naas kerk en kansel

Lourens Aucamp was ’n man van vele dinge. Gawes en talente. Byna onbeslcryflik om aan te teken waar hy, naas ’n geseënde bedieningspad met passie by betrokke was:

  • Die jagveld.
  • Radio-uitsendings: Sport en boeremusiek.
  • Voëls en voëlhokke.
  • Skape en beeste (waar die pastorie-“plaas” dit toegelaat het – altyd ’n boerderytjie).
  • Ongekende liefde vir en kennis van tradisionele boeremusiek.
  • Die Krugerwildtuin: die groot vyf maar ook bome en die kleinste voëltjie kon hy uitwys.
  • Duiweboerdery.
  • Volkspele.
  • Tennis.

Die pad van die lewe as vriend

’n Lojale vriend. Altyd nederig en met oorgawe geluister. Begrip en deernis. Nooit te besig om jou saak aan te hoor nie. Hy kon met homself spot Lourens Aucamp het beïndruk. Hy het baie vriende gehad. Hy was meer, baie meer as ’n kollega.

Die einde van die lewenspad

Die Here se raad word nie gekeer nie. 5 September 2015 was lank reeds bepaal. Lourens se sterfdag na ’n swaarkry-worsteling met kanker. Sy lewe en hand in die Here se hande. Die Koning se roep het Lourens gehoor.

Hy het vertrek. Sy aardse lewe was volbring.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s