21 September 1905 | Ds. A.L. Aucamp gebore

Ds_AL_Aucamp_by_die_Ford-motor_waarmee_hy_Gereformeerde_lidmate_in_Oos-Afrika_bedien_het.jpg

Ds. A.L. Aucamp by die Ford-motor waarmee hy Gereformeerde lidmate in Oos-Afrika bedien het.

Ds. Abraham Liebrecht Aucamp (oorlede op 6 Junie 1961) was tussen 1933 en 1961 predikant in vier Gereformeerde kerke, onder andere die eerste predikant van GK Eldoret in Kenia, ook sy eerste standplaas.

Hy is oorlede in die jaar waarin hy sy emeritaat aanvaar het, waarskynlik weens swak gesondheid aangesien hy net 55 jaar oud was. Sy gemeentes was agtereenvolgens Eldoret (1933–1937), Bethlehem (1937–1942), Ficksburg-kombinasie (1942–1948) en Burgersdorp (1948–1961).

Nie lank ná sy aankoms in Eldoret nie het ds. M.P. Loubser, wat jare lank predikant van die NG Kerk in Kenia was en na wie die NG gemeente Loubser in Tanganjika (Tanzanië) genoem is, weens swak gesondheid en hoë ouderdom na die Unie terugkeer.

Langer as ’n jaar was ds. Aucamp die enigste Afrikaanse predikant in Kenia en in die tyd het hy soveel moontlik alle Afrikanergesinne en siekes besoek en begrafnisse gehou. Ook het hy hom beywer in belang van kulturele aangeleenthede, die viering van die Afrikanerfeesdae en die behartiging van die skoolbelange van die jeug.

Ds_AL_Aucamp.jpg

Ds. Abraham Aucamp soos tallose lidmate hom onthou.

Later het daar broeders-predikante van die ander Afrikaanse kerke gekom — ds. A. Brand vir die Hervormde Kerk en di. J.W. Dednam en Brits vir die NG Kerk. Die samewerking met dié broeders was deurgaans hartlik.

Abraham Liebrecht Aucamp, ’n boorling van die distrik Bethulie in die Suidoos-Vrystaat, het as jong seun geluister na die vertellinge van sy vader wat gedurende die oorlog (1898-1902) eers op kommando was en later as krygsgevangene op St. Helena, en na dié van sy moeder eers op die eensame plaas en toe weggevoer in oop trokke per trein na die konsentrasiekamp by Norvalspont en later na die “moordkamp” by Bethulie. Hierdie gebeurtenisse het ’n onuitwisbare stempel op die kinders afgedruk met die resultaat om niks anders te wees as Christelik-nasionale Afrikaners nie.

Omdat die ouerpaar alles in die Driejarige Oorlog verloor het, was dit maer jare van armoede en worsteling om die gesin te onderhou en te laat leer. Hulle was ’n gesin van nege kinders, ses seuns en drie dogters.

Die_kommissie_vir_die_restourasie_en_oprigting_van_die_beskadigde_Taalmonument,_Burgersdorp,_onder_wie_Abraham_en_Anna_Aucamp.jpg

Die kommissie vir die restourasie en oprigting van die beskadigde Eerste Taalmonument, Burgersdorp, onder wie ds. Aucamp (regs voor) en sy eggenote, Anna (née d’Assonville), vierde van regs voor, 1957.

Kleintyd het Abraham Aucamp verskillende plaasskole besoek tot hy ná St. 6 na die dorpskool op Bethulie gegaan het, waar hy einde 1924 sy matrikulasie-eksamen afgelê het. Hy kon kort voor sy dood nog goed onthou hoe hy in die eerste skooljare kennis gemaak het met “English” en hoe die kind wat ’n Afrikaanse woord gebruik het, die plank-esel om die nek moes dra.

Begin 1925 is hy na Potchefstroom om predikant te word. Hierdie studie het hy einde 1931 voltooi en is beroepbaar gestel. Dit was in die jare van depressie en droogte. Vakante gemeentes was baie min. Meer as ’n jaar van wag vir ’n beroep het aangebreek. As proponent was hy ’n tyd lank in ’n gemeente behulpsaam vir vry inwoning en £5 per maand. Middel 1933 is hy toe beroep na Eldoret, Kenia.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s