21 September 1943 | Ds. W.J. de Klerk oorlede

Ontvangs_van_die_Afrikaanse_Bybel_in_Johannesburg_1933.jpg

Die ontvangs van die Afrikaanse Bybel in 1933 in Johannesburg. Ds. W.J. de Klerk staan tweede van regs.

Predikant was ‘’n vurige Afrikaner’

Ds. Willem Johannes de Klerk (gebore Burgersdorp, 23 Oktober 1875) was ’n Gereformeerde predikant en opvoedkundige, die vader van oudmin. Jan de Klerk en die grootvader van oudpres. FW de Klerk en dr. Wimpie de Klerk, asook die skoonvader van adv. J.G. Strijdom (Susan Strijdom was ds. De Klerk se dogter), ’n gewese eerste minister van Suid-Afrika.

Hy word beskryf as ’n vurige Afrikaner. Hy was van 1919 tot 1927 die eerste registrateur van die Potchefstroomse Universiteitskollege en het ’n prominente rol in die totstandkoming en opbou daarvan gespeel.

Ds_WJ_de_Klerk_en_sy_gesin.png

Ds. De Klerk, sy vrou Lettie en gesin. Van links: Onbekend, Aletta (gebore 1907), Maria (1904), onbekend, Johannes (1903), Jacobus (1912), onbekend (op ma se skoot), Willem (1906), Susan (1910) en Hendrik (1915).

Benewens sy werk as predikant van Heidelberg (1903-1905), Johannesburg (1905-1907; 1929-1942), Aliwal-Noord (1907-1911) en Potchefstroom (1911-1923), wat hy met getrouheid behartig het, het hy reeds vroeg besondere belangstelling in die politiek getoon.

As student op Burgersdorp is hy in 1900 gevange geneem op aanklag van hoogverraad omdat hy hom beywer het vir die saak van die twee Boererepublieke gedurende die Tweede Vryheidsoorlog.

De_Gesneuvelden_en_gestorven_van_de_Gereformeerde_Kerken_in_Zuid-Afrika_gedurende_den_oorlog_1899-1902_verzameld_door_WJ_de_Klerk.jpg

Die buiteblad van ds. De Klerk se werk De Gesneuvelden en gestorven van de Gereformeerde Kerken in Zuid-Afrika gedurende den oorlog 1899-1902 met ‘n voorwoord deur prof. Jan Lion Cachet wat in 1904 verskyn het .

Hier moes hy die teregstelling van ’n mede-Afrikaner aanskou en moes hy op bevel die oorskot begrawe. Ná vier maande in die gevangenis is hy op borgtog van £5 000 vrygelaat, maar in September 1901 is hy weer gevange geneem en vir ses maande na King William’s Town gestuur.

Die stryd van die Afrikaner op politieke gebied het hom dus na aan die hart gelê en hy was twee keer (1915 teen die SAP en 1938 teen die VP) kandidaat van die Nasionale Party vir Potchefstroom, albei kere sonder welslae. Hoewel hy vir sy deelname aan die verkiesing van 1915 toestemming by die kerkraad gekry het en al is hy nie verkies nie, is die saak verder gevoer en is dit selfs op die Sinode van 1916 bespreek.

Verskeie lidmate van die gemeente het ’n beswaarskrif ingedien. Ná ’n paar jaar het die gemoedere egter bedaar en buitendien het ds. De Klerk toe ook meer betrokke geraak by die universiteit.

Ds_WJ_de_Klerk,_Potchefstroom.jpg

Ds. W.J. de Klerk in die tyd toe hy predikant van GK Potchefstroom was.

Op Potchefstroom het hy hom ook vir Christelike onderwys beywer. Dit was deur sy onvermoeide geesdrif dat die Potchefstroom Gimnasium in 1915 en die Potchefstroomse Universiteitskollege vir Christelike Hoër Onderwys tot stand gekom het.

Dr. G.C.P. van der Vyver skryf in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel III: “Met ’n ysere wilskrag was De Klerk man van die daad vir wie teenslae nooit ontmoedig het nie en as predikant was hy ’n onvermoeide yweraar vir kerk en volk.”

Hy is in 1943 in Primrose-Oos oorlede waar sy seun Jan skoolhoof van die Afrikaansmediumskool was. Twee dienste is gehou: een in sy ou gemeente Johannesburg waar dr. H.F. Verwoerd hulde gebring het, en een op Potchefstroom, waar hy ook ter ruste gelê is.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s