10 Oktober 1877 | Nettie Eloff gebore

Gezina_Kruger_luister_na_die_oorlogsnuus_voorgelees_deur_haar_kleindogter_Nettie_Eloff_(later_Bredell).jpg

Nettie Eloff lees die oorlogsnuus voor aan haar ouma Gezina Kruger op die stoep van Krugerhuis, Pretoria.

Een van oom Paul se geliefkoosde kleindogters verjaar saam met hom

Stephanetta Johanna Paulina (Nettie) Bredell (gebore Eloff) was ’n kleindogter van pres. Paul Kruger, wie se name sy in vroulike vorm gekry het, en die eerste eggenote van die president se lyfwag Manie Bredell.

Nettie Eloff was een van die nege kinders van Frederik Christoffel Eloff (1850–1924) en Elsje Francina Kruger (1853–1924). Haar grootouers aan moederskant was pres. Kruger en sy tweede vrou, Gezina Susanna Wilhelmina du Plessis (5 Mei 1831 – 20 Julie 1901).

Elsie_en_Nettie_Eloff.jpg

Elsie (links) en haar suster Nettie Eloff, wat later mev. Manie Bredell geword het.

Een van Elsie se broers was die beeldhouer Fanie Eloff. Nog ’n broer, Sarel, was ‘n onverskrokke Boere-kommandant. ’n Suster, Elsie, was getroud met dr. Herman van Broekhuizen, SA rugbyspeler, predikant en diplomaat.

Haar oom Jan Eloff was die tweede mynkommissaris van die Witwatersrand na wie Eloffstraat genoem. Twee kinders is uit Nettie en Manie Bredell se huwelik gebore, Elsie (Ella) Francina Eloff Bredell en Johannes Sarel Bredell.

Volgens oorlewering het pres. Kruger twee gunstelingkleindogters gehad: die susters Nettie en Elsie. Nettie is op haar oupa se verjaardag gebore en sy en haar suster het diep in hul oupa se hart ingekruip. Die Eloff-kinders het op ’n plaas, wat toe net buite Pretoria geleë was, grootgeword. Ryk Freek het op die noordoostelike deel van die plaas Daspoort, wat hy in 1896 gekoop het, gewoon en dit na Eloffsdal herdoop.

Aan die begin van die Driejarige Oorlog is baie huise in klerefabrieke omskep. Nettie en Elsie het die klereprojek in Pretoria bestuur. Hier het honderde vroue in die hooggeregshofgebou hemde, broeke en jasse gemaak en na die kommando’s gestuur. Hulle het aanhou werk tot die Britte Pretoria ingeneem het.

Kruger_and_family_at_Oranjelust,_Utrecht,_October_1902.jpg

Pres. Paul Kruger en familielede in Utrecht, 1902. Elsie Eloff staan tweede van links en haar moeder, Elsie Eloff-Kruger, sit links. Nettie staan agter haar vader, Ryk Freek Eloff.

Toe pres. Kruger sy siek vrou in Pretoria moes agterlaat en na Europa vlug, het die Eloffs agtergebly en is die president vergesel van onder andere dr. Herman van Broekhuizen en die president se lyfwag, Manie Bredell. Uit dié geledere het Elsie sowel as Nettie se toekomstige huweliksmaat gekom.

Die egpaar Eloff en van hul agt kinders het eers ná Gezina Kruger se dood in Julie 1901 ingewikkelde reëlings getref om met ompaaie uit Transvaal te ontsnap en die ou president in Europa by te staan. So het die Eloffs dit reggekry om sy 76ste verjaardag in 1901 saam met hom in Nederland te vier.

Terug in Suid-Afrika ná die president se dood, is Elsie op 15 Januarie 1904 in die Groote Kerk in Kaapstad met Herman van Broekhuizen getroud nadat die Transvaalse koloniale owerheid toe reeds twee maal geweier het dat hulle in die bruid se geboortestad, Pretoria, trou, en Nettie op 12 Oktober 1905 in die Gereformeerde kerk Pretoria met Manie Bredell, wat ná pres. Kruger se dood in Switserland, in 1905 in Pretoria as prokureur begin praktiseer het.

Nettie en haar man het in ’n huis, wat hulle “Ouderliefde” genoem het omdat Ryk Freek dit aan hulle geskenk het, tussen Voortrekkersweg en Paul Krugerstraat, Eloffsdal, gewoon.

Nettie is op 3 Mei 1920 weens malaria oorlede en is in die Rebeccastraat-begraafplaas begrawe. Manie het ’n tweede keer getrou, met die weduwee Hilda Henrietta Oelrich, gebore Barry. Dié huwelik was kinderloos.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s