12 Oktober 1901 | Hans Lötter tereggestel

ABO_Doodsvonnis_word_oor_kmdt_Lotter_en_Hans_Wolfvaardt_uitgespreek_voor_die_GK_Middelburg,_Kaap.jpg

Die doodsvonnis word voor die Gereformeerde kerk op Middelburg, Kaap, oor die Kaapse rebelle P.J. Wolvaardt en kmdt. J.C. Lötter uitgespreek. Die Gereformeerde kerk staan nog, maar die NG kerk (wat links daarvan sigbaar is) is gesloop nadat sy toring in duie gestort het.

Voor sy dood geestelike versorg deur ds. Stephanus Postma

Kmdt. Johannes Cornelius (Hans) Lötter (gebore Bouwersfontein, distrik Somerset-Oos, 15 Januarie 1875) was ’n Boereverkenner, kommandant en Kaapse rebel tydens die Tweede Vryheidsoorlog.

Kmdt_Hans_Lotter.jpg

Kmdt. Hans Lôtter. Die kolle op sy hempsmoue is bloedspatsels.

Hy was onrustig van geaardheid en van jongs af lief vir reis. Nadat hy vanaf 1896 ’n aantal jare in die Oranje-Vrystaat deurgebring het, het hy in 1899 teruggekeer na die Kaapkolonie, waar hy op Noupoort ’n klein handelsonderneming begin het.

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog op 11 Oktober 1899 het Lötter hom oor Middelburg, Kaap, na Colesberg begeef en in November daar as gewone burger by die Boeremagte aangesluit. Hy is gewond tydens ’n skermutseling tussen Bloemfontein en Kroonstad.

Ná sy herstel het hy as rapportryer opgetree en in die hande van die Britte geval, maar op pad na Bloemfontein ontsnap, steeds in besit van sy rapport.

Op 15 Desember 1900, ’n maand voor sy 26ste verjaardag, het Lötter onder genl. P.H. Kritzinger oor die Oranjerivier die Kaapkolonie binnegeval. Genls. C.R. de Wet en J.B.M. Hertzog, wat in dieselfde periode die Kaap ingeval het, is spoedig gedwing om terug te trek, maar Kritzinger het langer uitgehou.

Gevegte bedags en terugtrek snags het ’n daaglikse roetine geword. Deur die toeloop van talle Kapenaars het die kommando mettertyd aangegroei en is Lötter as kommandant aangewys.

Kaapse_rebelle,_onder_wie_Hans_Lötter_en_Petrus_Wolfaardt,_wat_deur_die_Engelse_tereggestel_is_in_die_ABO.jpg

Lötter (sittende naaslinks), Petrus Wolfaardt en nog Kaapse rebelle ná hul gevangeneming.

Maar eindelik is hulle gedwing om na die Vrystaat terug te val, van waar Lötter met sy kommando in Mei 1901 uitgestuur is in die rigting van Tarkastad.

Ná aansluiting by Kritzinger het hulle op 2 Junie 1901 Jamestown verower. Met die Britte op hul hakke het Lötter na Middelburg getrek.

Lt.kol. H.J. Scobell het op 4 September 1901 verneem dat ’n groep Boere, 129 man sterk, hulle in ’n plaashuis 65 km wes van Cradock skuilgehou het.

Terwyl hulle in ’n skuur teen die reën skuiling gesoek het, het die Britte hulle daardie nag (5 September 1901) verras. Ná ’n hewige geveg waarin Lötter in die kop gewond, 14 man gedood en nog 46 gewond is, het hy hom oorgegee.

Hy is na Graaff-Reinet geneem waar hy drie weke later deur ’n krygshof verhoor is op ’n aanklag van hoogverraad, moord en roof. Die groot twisvraag tydens Lötter se verhoor was of hy ’n Kapenaar was en of hy vroeër Vrystaatse burgerskap ontvang het.

Hy het die getuienis verwerp dat hy op die Colesbergse kieserslys was aangesien dit nie sy voornaam Cornelius ingesluit het nie. Ook het die leersak wat die bewyse bevat het dat hy ’n Vrystaatse burger was en deur die landdros van Bloemfontein onderteken is, tydens sy oorgawe verlore gegaan.

Ds_Stephanus_Postma.jpg

As die enigste Afrikaanse predikant op Middelburg, Kaap, tydens die Driejarige Oorlog, het ds. Stephanus Postma, een van ds. Dirk Postma se vyf predikantseuns, die hele gemeenskap geestelike versorg en die Kaapse rebelle wat tereggestel is, op die dood voorberei. Hy is vroeg in 1904 in die ouderdom van 39 jaar ná ’n smartlike lyding aan ’n maagkwaal (moontlik kanker) oorlede.

’n Aangetroude familielid het getuig dat Lötter in 1896 na die Vrystaat verhuis het in die verwagting dat die Jameson-inval ook die Vrystaat sou betrek. Daarna het hy as plaasvoorman vir ’n sekere Meyer gewerk en dikwels die Kolonie besoek om perde te verhandel. In 1899 was hy terug in die Kaapkolonie.

Lötter is daaraan skuldig bevind dat hy as Kaapse burger gerebelleer het en is veroordeel om gehang te word; tog is die vonnis nie aan hom meegedeel nie.

Eers nadat hy na Middelburg geneem is, het hy die vonnis op hierdie dag op die markplein aangehoor. Dit het verskil van die Graaff-Reinetse vonnis, deurdat hy voor ’n vuurpeloton sou sterf.

Ds. Stephanus Postma (1865–1904) het as enigste predikant op Middelburg tydens die oorlogsjare as Lötter en ander rebelle se geestelik versorger opgetree. Hy is gereeld deur die militêre owerheid ondervra, maar het deurgaans korrek opgetree en ’n ewewigtige en positiewe rol gespeel.

Verswak deur honger en weens ’n hartkwaal, het Lötter by die aanhoor van sy vonnis flou geword. Nadat vriende hom besoek en hy sy korrespondensie afgehandel het, het hy die dood kalm afgewag. ’n Rukkie later is hy buite die dorp tereggestel.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s