21 Oktober 1924 | Elsie Eloff-Kruger oorlede

Elsie en Ryk Freek.jpg

Eloff-Kruger se beeldhouer-seun, Fanie, het haar en haar man se grafsteen ontwerp. Dis in Pretoria se Kerkstraat-Wes-begraafplaas, skuins voor haar ouers, pres. Paul en Gezina Kruger, se grafte.

‘Sy was groot omdat sy klein voor God was’

Elsie Francina Eloff-Kruger (gebore op Rustenburg, 19 Maart 1853), ’n dogter van pres. Paul en mev. Gezina Kruger, was ’n weldoener en vooraanstaande inwoner van Pretoria.

Elsie_Eloff-Kruger.jpg

Elsie Francina Eloff-Kruger.

Ná haar huwelik met die welgestelde heer Frederik Christoffel Eloff (bynaam Frikkie of Ryk Freek, 1850–1924) het die egpaar in die woning langs die presidentswoning in Pretoria gaan woon. Later (omstreeks 1896) het die groot gesin verhuis na die deftige woning op die plaas Daspoort, waarby die pragtige landgoed behoort het, waarop die voorstede Eloffsdal en Capital Park later verrys het.

Tydens die Tweede Vryheidsoorlog het sy as lid van die versorgingskomitee veel vir behoeftige mense gedoen, asook vir die burgers wat deur die vyand gevang en oor Pretoria na Ceylon en Sint Helena gestuur is.

Toe haar vader as banneling na Europa moes uitwyk, het hy haar versoek om die sorg van haar siek moeder op haar te neem. Ná die dood van mev. Kruger op 20 Julie 1901 het Elsie die president gedurende sy ballingskap versorg, tot hy in Julie 1904 in Clarens, Switserland, oorlede is.

Kruger_and_family_at_Oranjelust,_Utrecht,_October_1902.jpg

Pres. Paul Kruger en familielede in Utrecht, 1902. Elsie Eloff-Kruger sit links.

In 1914 met die Rebellie, het mev. genl. Joubert en mev. Eloff die plan beraam om die vrouebetoging in die lewe te roep om die vrylating van genl. Christiaan de Wet en ander leiers van die Rebellie te verkry. Mev. Eloff was lid van die deputasie wat die premier, genl. Louis Botha, ontmoet het.

Die egpaar Eloff was van die meelewende lidmate van die gemeente Pretoria. Sy was beskermvrou van die Tabitha-vereniging wat deur ds. en mev. Sietse Los opgerig is. Vir die armes het sy altyd met milde hande gegee en die latere sustersvereniging Sustershulp het nooit vergeefs by haar om hulp aangeklop nie.

Regelingskomitee_van_die_Vrouwe-optog.jpg

Die reëlingskomitee van die vroueoptog in Augustus 1915. Sowat 2 800 vroue het opgeruk en ’n versoekskrif aan die geowerneur-generaal oorhandig waarin hulle die vrylating van die gevangenes ná die Maritz-rebellie vra. Middelste ry: mev. Isaac van Alphen (presidente, Krygsgevangene-Versorgingskomitee, Pretoria), mev. ds. C.A. Neethling, mev. F.C. Eloff-Kruger, mev. genl. P.J. Joubert, mev. Susanna van Wijk, mev. Melt Marais (sekretaresse). Die oproep vir die vrouebetoging het uitgegaan van mev. genl. Joubert en mev. Eloff-Kruger.

Toe sy op 21 Oktober 1924 in die ouderdom van 71 jaar in die hoofstad oorlede is, het prof. J.A. du Plessis, wat vroeër predikant van Pretoria was, in Die Kerkblad soos volg van haar geskryf: “Mev. Eloff was ook ’n geestelike kind van haar vader. Sy was in gestalte, in haar houding en in haar onafhanklike gees ’n Boerevorstin soos daar meer is onder ons volk – vorstinne van die grootsheid van die Afrikaanse veld.

“Sy was groot omdat sy klein was voor God in innige godsvrug – groot omdat sy haar kon neerbuig tot die ellende van haar medemens – nie ‘n gemaakte maar ‘n uit Godgebore en oorgeërfde vorstelike grootheid.”

Sy het agt kinders gehad:

  • Sarel Johannes
  • Gezina Susanna Frederika Wilhelmina Jacobsz
  • Susanna Cornelia Jacobsz
  • Stephanetta Johanna Paulina “Nettie” Bredell
  • Elsje Francina “Elsie” van Broekhuizen
  • Stephanus Johannes Paulus
  • Frederik Christoffel
  • Dirk Postma

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s