17 November 1901 | Calman Postma gebore

Ds_W_Postma_en_gesin

Ds. Willem Postma en sy gesin omstreeks 1909 in Bloemfontein. Van links: Willem (later ds. Postma, onder meer leraar van Thabazimbi), Philippus (later onder meer onderhoof van die nywerheidskool op Queenstown), mev. S.E.S. Postma, dogter van ds. W.J. Snyman en suster van dr. P.C. Snyman), voor haar Calman, Laurika, ‘n beeldhouer wat onder meer aan die Voortrekkermonument gewerk het, en Sophie Postma, in lewe onderhoof van die George Hofmeyr-skool op Standerton.

Joernalis en dramaturg kleinseun van eerste Dopperpredikant

Dirk Calman Postma is op Middelburg gebore as die tweede kind en oudste seun van ds. Willem Postma, die jongste seun van ds. Dirk Postma. Calman se vader het ná sy studie aan die Teologiese Skool Burgersdorp in 1897 ’n beroep aangeneem na sy eerste gemeente, Bethulie, waar hy met Gertruida van Rooy getroud is.

Kort ná die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog is ds. Postma naby die dorp gevange geneem en gestuur na Middelburg, Kaap. Daar het hy kos vir sy gesin in ‘n winkel en deur privaat lesse verdien. In dié tyd is Calman gebore.

Calman_Postma

Ná die oorlog is die gesin terug na Bethulie, maar in Maart 1905 is ds. Ptma na Bloemfontein beroep, waar hy in 1903 die eerste Gereformeerde gemeente in die Vrystaatse hoofstad gestig en daarna as konsulent van die gemeente opgetree het.

Op Bloemfontein sou Dirk Calman saam met sy gesin woon tot hy nagenoeg 15 jaar oud was, wat in 1915 aanvaar sy vader ‘n beroep na Reddersburg, waar hy gewerk het tot aan sy dood in Desember 1920. Die gesin het ná ds. Postma se dood op Reddersburg aangebly, waar Gertruida Postma in 1941 oorlede is.

P.J. Nienaber skryf Calman se vader moes die stryd in sy huis alleen stry, net soos hy dit in die beginjare in Bloemfontein vir sy volk alleen moes stry: “Moeder en kinders het nooit geweet wat vader deurmaak nie. Nie na haar nie, maar na hom moes die kinders met hul moeilikheidjies kom.

“Hy kon die ernstigste gesprek met iemand voer, maar as die kindertjies verbykom, word die gesprek onderbreek om eers ‘n woordjie of twee met hulle te wissel – gewoonlik ‘n grappie.”

“Dikwels moes ons ons na die ete om die klavier skaar om nog tot so negeuur gewyde liedere te sing – hy het dan op die klavier begelei. Daar was ook altyd ‘n harmonium in die huis en soggens vroeg (hy het met baie min slaap klaargekom) hoor ons maar weer die heerlike stem van Vader daar in die eetkamer by die harmonium.

“Sang was die enigste wyse waarop hy ooit aan ander sy gevoel openbaar het – nie doelbewus nie, maar hy het homself dit tog gegun om in sang en musiek geen masker oor sy gevoel te trek nie.”

Ná sy matrikulasie op Reddersburg ’n jaar of wat voor sy vader se dood, was Calman ses jaar verbonde aan die redaksie van die Bloemfonteinse dagblad The Friend. Einde 1927, toe hy 26 jaar oud was, het hy hom laat inskryf as student aan die Grey-universiteitskollege (GUK).

Hendrik Hanekom as pres. Paul Kruger, moontlik sy grootste rol, in Postma se toneelstuk Oom Paul.

Hendrik_Hanekom_as_Paul_Kruger_in_Callie_Postma_se_toneelstuk,_Oom_Paul

Hendrik Hanekom as pres. Paul Kruger, moontlik sy grootste rol, in Postma se toneelstuk Oom Paul.

Hy was lid van die GUK-toneelvereniging en het nie net in toneelstukke opgetree nie, maar ook die klug Die Swartkat vir hul 1929-toer geskryf. In sy tweede jaar is hy benoem tot sekretaris van die Studenteraad en is 1929 tot voorsitter gekies. Aan die einde van daardie jaar het hy die B.A.-graad behaal en toegetree tot die redaksie van Die Volksblad, waar hy jare lank werksaam was.

Sy simboliese drama in vier bedrywe, Oom Paul, het in 1935 verskyn en is met veel welslae deur die Hanekoms se Toneelskool in Bloemfontein opgevoer. Dit was seker Hendrik Hanekom se bekendste rol; hy het dit in 1935–’36 en in 1941 byna 500 keer vertolk.

Later het Postma ook die historiese drama Generaal De Wet vir Hanekom geskryf. Die première was in April 1938 op Bloemfontein. Die Volksblad het ’n loflied daaroor aangehef. Hierna het die geselskap met die stuk op toer gegaan, tot selfs in Suidwes-Afrika.

Die stuk het mettertyd in die Unie die wind van voor gekry weens sy sterk anti-Engelse gees. Die rofstoeier Johannes van der Walt, ’n Dopper nes Calman Postma, het selfs een aand saam met vriende na ’n vertoning voor 2 000 mense in Pretoria se stadsaal gegaan om te keer dat “die ander kant”, soos hy Engelsgesindes genoem het, “moleste maak”.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s