18 November 1815 | Thomas Dreyer gebore

Somerset-Oos.jpg

Ten tyde van Thomas Dreyer se geboorte was Bruintjieshoogte nog deel van die distrik Graaff-Reinet; later sou dit by Somerset-Oos ingedeel word. FOTO: somerset-east.co.za

‘Een van die waaragtig grotes van die Afskeiding’

Thomas Frederik Dreyer is gebore op die plaas Bruintjieshoogte, destyds distrik Graaff-Reinet. Hy was ’n baanbreker in die Zuid-Afrikaansche Republiek.

Thomas Dreyer.jpg

Thomas Dreyer.

Hy word saam met oudl. P.J.W. Schutte beskou as “een van die waaragtig grotes uit die dae van die Afskeiding” van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Ds. JV Coetzee beskryf hom as “’n man uit een stuk, ’n vors in Israel”.

Hy was ’n welbekende figuur in die Rustenburgse en omliggende distrikte, kommandant-generaal van die Transvaalse kommando’s in die Vrystaat se oorlog teen die Basoeto’s en lid van die Transvaalse Volksraad van 1861 tot 1866.

Hy het in kerklike en politieke aangeleenthede in noue samewerking verkeer met sy mede-Gereformeerdes Paul Kruger en Schutte.

Dreyer is in 1834 tydens die Groot Trek met Susanna Jacoba Hendrika Adriana Janse van Rensburg (Julie 1820 – 1881) getroud. Sy “was ’n godsalige vrou – (tipies) van Afrikaanse moeders van ’n vorige geslag”, aldus ds. Coetzee. “By haar (was) geen vrees vir ’n groot huisgesin nie en geen werklike gekerm oor baie kinders nie.”

Uit dié huwelik is 13 kinders gebore. Ná die dood van ’n tweejarige seuntjie het sy die wens uitgespreek dat die Here haar met nog vyf kinders mag seën. Dié wens is dan ook vervul.

Ds. Coetzee meen: “Dis iets waarvoor ’n mens werklik respek kan hê!” Sy is in 1881 oorlede net nadat sy die berig gekry het van die Boere se oorwinning in die Eerste Vryheidsoorlog.

Dreyer en sy eggenote het op 11 Februarie 1859 op Rustenburg as stigterslede by die Gereformeerde Kerk onder leiding van ds. Dirk Postma aangesluit. As ouderling van die Rustenburgse kerk van 1866 tot sy dood, ’n tydperk van nagenoeg 22 jaar, het hy ’n leidende plek in die kerkraad beklee.

Van 1876 tot 1888 het hy sy gemeente gereeld op sinodes verteenwoordig en ’n belangrike rol in die formulering van besluite gespeel. Hy het veral sterk standpunt ingeneem vir die beginsel dat bedieners van “blanke” en “nie-banke” gemeentes afsonderlik optree en het sy standpunt bevorder met briewe in die kerk se orgaan, De Maandbode.

’n Paar keer het hy as kurator van die Teologiese Skool Burgersdorp gedien, volgens dr. Spoelstra ’n hoë onderskeiding vir ’n gewone boer.

Hy het volgens oorlewing ’n sterk persoonlikheid gehad, nes sy hegte vriend pres. Paul Kruger. Op ’n aand het hy en die staatspresident op Boekenhoutfontein, laasgenoemde se woonplaas, ’n warm woordewisseling gehad en toe Dreyer opspring met die woorde: “Paul, ek gaan inspan en ry,” het pres. Kruger hom vasgegryp en gesê: “Jy sal nie so van my af wegry nie.” ’n Rukkie daarna het hulle weer lekker sit en gesels.

Nog ’n staaltjie oor Dreyer en pres. Kruger se vriendskap is dat laasgenoemde op ’n keer op ’n Saterdagmiddag ’n toespraak gelewer het in die Rustenburgse Gereformeerde kerk.

Later was dit tyd vir die voorbereidingsdiens, maar die president was nog nie klaar met sy toespraak nie. Die predikant (die bron vermeld nie watter een nie) wou die staatshoof nie hinder nie en so het hy voortgegaan met sy toespraak, tot oudl. Dreyer vir hom gesê het “om nou op te hou”.

By baie kerkgangers was groot ontsteltenis. Dieselfde middag het pres. Kruger na oudl. Dreyer se Nagmaaltent gegaan en die vrede herstel met sekere mense wat gesteur was deur Dreyer se optrede. Maar die president moes beloof om nie weer sulke lang toesprake te lewer nie.

Dit was juis met ’n Nagmaalsgeleentheid in 1889 op Rustenburg dat oudl. Dreyer koue gevat het. Nadat hy 52 dae lank siek was, is hy oorlede op sy woonplaas.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s