18 November 2009 | Ds. Braam le Roux sterf

23658600_10156046590486155_7183960347535461346_n.jpg

Ds. Braam le Roux.

Het sy lewe aan die opheffing van die San gewy

Ds. Abraham Hercules (Braam) le Roux (gebore in Kimberley op 10 Julie 1951) was ’n Gereformeerde predikant en sendeling, ’n kampvegter vir menseregte, veral dié van die San, asook ’n ontwikkelingswerker.

Ds. Le Roux het sy lewe gewy aan die stryd om menseregte vir die inheemse volkere van Suider-Afrika. Onder die San van Botswana het hy en sy vrou, Willemien, 27 jaar lank geleef en gewerk.

Phia Eben Braam Willemien.jpg

Ds. Braam en Willemien le Roux by hul seun Eben en skoondogter Phia.

Ten tyde van sy dood weens ’n hartaanval in die ouderdom van 58 jaar, was hy hoof van die Kuru Family of Organisations, ’n groep nieregeringsorganisasies wat toe met die ongeveer 27 000 San in Botswana en Suid-Afrika gewerk het.

Die Le Roux-egpaar was betrokke by ’n groot verskeidenheid ontwikkelingsprojekte wat daarop gemik was om lewensmiddele, waardigheid en inspraak in hul eie sake aan die Sanmense te bied.

Hulle het hulle veral toegespits op die reg op moedertaalonderrig vir die talle minderheidsgroepe in Botswana, sowel as die beskerming van grondregte vir die Naro-mense, maar ook die San as geheel.

Braam en Willemien.jpg

Ds. Braam en Willemien.

Verskeie erfenis- en kunsvlytsentrums is deur hulle begin en die Naro-kunsprojek op D’Kar het aan ’n aantal San wêreldroem besorg. So het British Airways byvoorbeeld in 1998 die kopiereg op ’n skildery deur die Kuru-kunstenaar C’goise gekoop om op die stertvin van ’n Boeing 747 te gebruik en is meer as 20 uitstallings wêreldwyd al deur die Kuru-kunsprojek gehou.

In 1998 het die Le Roux-egpaar hulle aan die rand van die Okavangodelta gevestig en ook daar drie nieregeringsorganisasies begin om die nood van die Khwe- en ||Anikhwe-mense in die gebied te help verlig.

Terselfdertyd het hulle die nuwe ervarings geniet, byvoorbeeld om die waterweë in hul motorbootjie te verken.

Braam le Roux.jpg

Ds. Gaobolelwe Ngakayaeya (sewende van links), ’n eertydse sendinghelper, is op 22 Junie 2003 as artikel 8-predikant in die Gereformeerde Kerk D’Kar, Botswana, bevestig en word vandag nog deur die Christelike Gereformeerde Kerk Urk in Nederland versorg. Sy vrou, Bersi, staan regs van hom. Wyle ds. Braam le Roux staan tweede van regs agter en sy vrou, Willemien, voor hom. Haar ouers, Dirk en Pollie (Laurika) Jerling, staan sewende en agtste van regs. Ook op die foto is ds. Hendrik du Plessis (vyfde van links), ds. Jan Wessels (heel regs), plus deputate van die Christelik Gereformeerde Kerk in Nederland en kerkraadslede van D’Kar.

Met die oog op ’n oudag-inkomste het hy vanaf 2005 ook betrokke geraak by ’n krokodilboerdery. Hy het hom ook ingegrawe in hoe om groente organies te kweek, maar die lappie grond van sy skoonmoeder, Pollie Jerling, waarop hulle saamgewoon het, is so geteister deur ape, olifante, seekoeie, ystervarke en bosbokke, dat daar maar min van enige oeste gekom het.

23621182_10211378397756690_1466542904138774819_n.jpg

Die plek waar ds. Braam oorlede is. FOTO: Koos Venter

Voor sy beplande kursusse en die boek waaraan hy gewerk het, egter afgehandel kon word, is Braam le Roux oorlede. Tydens ’n welkome eerste reënbui van die seisoen in die Kalahari, het ’n hartstilstand hom oorval terwyl hy sy boot probeer vasmaak het.

Hy is oorleef deur sy vrou, hul kinders Laurika, Eben en Hettie, en (ten tyde van sy dood) twee van die later 10 kleinkinders.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s