2 April 2018 | Botsing eis geliefde egpaar

29594921_1669568116422426_7584559128677758565_n.jpg

Ds. Jac en sr. Ina Howell het vier kinders gehad, van wie drie ten tyde van hul dood getroud was.

Howells laat vier kinders agter

Ds. Jac en sr. Ina Howell, geliefde predikantspaar van die Gereformeerde Kerk Die Kandelaar in Waverley, Pretoria, het op hierdie dag in ’n botsing op die N4 buite Rustenburg gesterf.

jac-en-ina.jpg

Sr. Ina en ds. Jac Howell was ’n geliefde predikantspaar wat GK Die Kandelaar die laaste amper vyf jaar van hul lewe bedien het.

Hulle was die Maandagmiddag ná ’n familiebyeenkoms by Swartruggens op pad terug Pretoria toe. Jac en Ina is op slag dood toe hulle Ford Everest oop die nasionale pad naby die Kroondal-afrit in ’n trompop botsing met ’n pantsergeldwa betrokke was.

Dr. Gerard Meijer, predikant van die aangrensende Gereformeerde Kerk Oos-Moot en ’n jare lange vriend en kollega van ds. Howell, het aan die dagblad Beeld gesê die egpaar se familie, vriende en gemeentelede is diep geskok hul onverwagte dood.

Die geldwa was op pad na Rustenburg toe ’n band gebars en die voertuig in die baan vir aankomende verkeer beland en met die Howells se voertuig gebots het. Toe paramedici omstreeks halfdrie op die toneel aankom, was die egpaar reeds oorlede. Die Ford Everest is by die afgrond af en in die veld gekry.

’n Passasier van die geldwa het rugbeserings opgedoen en nog twee insittendes is vir ligte beserings behandel.

Hester Smith, ds. Howell (55) se oudste suster, het aan Beeld gesê haar broer en skoonsuster (gebore op 20 Augustus 1963) was saam met die familie op ’n wildplaas by Swartruggens. “Dit was een van die wonderlikste en mees geseënde naweke wat ons as familie al gehad het.”

Die Howells het twee weke voor die ongeluk vir die keer oupa en ouma geword. Hul kleinseun – wie se noemnaam Cules is na aanleiding van sy oupa se doopname, Jacques Hercules – was ook die naweek daar.

“Dis vir ons ’n wonderlike troos dat Jacques en Ina ’n hele naweek met hul kleinseun, al vier hul kinders en hul lewensmaats saam met die res van die familie kon deurbring,” het Smith gesê.

Volgens haar was hul ouers, Johan en Marthie (albei toe 79), verpletter deur die tragedie. “Ons is ’n baie, baie hegte en baie gelowige familie,” het sy gesê.

“Ons weet waar Jacques en Ina is. Ons het vrede in ons hart daaroor.”

Howell.jpg

’n Fotobeeld van hul lewe op die Howell-egpaar se begrafnisblaadjie.

Die egpaar is oorleef deur hul vier kinders: Johan (toe 31), Fanus (28), Anél (25) en Mart-Mari (23). “Daar is baie hartseer,” het dr. Meijer aan Maroela Media gesê, “maar die kinders hanteer die hele voorval in geloof, nes hul ouers hulle geleer het. Sonder hul geloof sal hulle nie hierdeur kan kom nie.”

Dr. Meijer het die roudiens gelei. Hy het vooraf aan Beeld gesê: “Ek sal my sielsgenoot en boesemvriend begrawe.”

Die GKSA het ná die ongeluk ’n verklaring op Facebook uitgereik wat onder meer gelui het: “Jac en Ina se lewe was gevul met die Een wat oor alles beskik. Volgens ons menslike denke té kort, maar ons plaas nie ’n vraagteken waar God ’n punt gesit het nie.”

Dr. Howell, wat op 8 Julie 1962 gebore is, was predikant van Potchefstroom-Suid 1991–1997, Brakpan-Suid 1998–2004, Heidelberg 2004–2013 en Die Kandelaar van 13 April 2013 tot sy dood.

Die egpaar se oudste seun, Johan, en sy vrou, Marelie, het intussen ’n dogter gekry, Iné.


PB 05

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s